Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kinders se regte word ondermyn
Outeur: Marianne Strydom
Gepubliseer: 25/11/2019

Die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders skop op Maandag (25 November) af. In ʼn meningsartikel vir Die Burger, skryf dr Marianne Strydom van die Departement Maatskaplike Werk oor hoe kinders se regte steeds ondermyn word. Die artikel is oorspronlik ter viering van Internasionale Kinderdag (20 November) geskryf.

  • Lees die artikel hier onder of klik hier vir die gepubliseerde weergawe.

Kinders se regte word ondermyn

Marianne Strydom*

Internasionale Kinderdag word sedert 1954 jaarliks op 20 November gevier. Aangesien dié dag primêr ingestel om die welsyn van kinders te bevorder, word daar 'n sterk klem geplaas op die bevordering en die bewusmaking van kinderregte. Die feit dat kinders regte het en hulle bewus is daarvan, beteken egter nie dat daardie regte vir hulle realiseer nie. In Suid-Afrika kan baie kinders bewus wees van hulle regte omdat dit deel van die skoolkurrikulum is. Maar in hul daaglikse omstandighede maak die feit dat hulle bewus is van hul regte, dikwels nie veel verskil aan hul realiteit nie.

Een van hierdie realiteite is armoede. Ongeveer 14 miljoen kinders in Suid-Afrika leef in armoede. Alhoewel 'n groot hoeveelheid van dié kinders ʼn Kindertoelaag ontvang, is dit belangrik om te onthou dat hierdie toelaag slegs R430 per maand is en net uitbetaal word aan huishoudings waar die inkomste minder as R4000 per maand vir enkelouers is, en R8000 as albei ouers in die huishouding is.

Armoede hou veral verband met werkloosheid, wat 'n verdere realiteit vir Suid-Afrikaanse kinders is. Ongeveer 'n derde van die ietwat meer as 19 miljoen kinders in die land bly in huishoudings waar geen volwassene 'n vaste werk het nie. Dus in 'n huishouding waar daar geen inkomste is nie, of waar die enigste inkomste die kindertoelaag is. Oor hierdie omstandighede het kinders min beheer, en lei meer as vyf miljoen kinders aan honger-verwante siektes. Dit ten spyte van hulle konstitusionele reg tot basiese voeding. 

'n Belangrike argument vir kinderregte is dat kinders spesiale beskerming benodig omdat hulle van die mees kwesbaarste lede van die samelewing is vanweë hul afhanklikheid vir sorg en beskerming van ouers of familie. Indien familieversorging misluk, moet die staat die verantwoordelikheid oorneem. Kinders het nie net 'n konstitusionele reg tot versorging in hul gesin, of familie nie, maar ook tot toepaslike alternatiewe versorging as familieversorging faal. Voorts het die kind die reg tot maatskaplike dienste.

Armoede en werkloosheid hou sterk verband met die verwaarlosing van kinders. Kinders het ook die reg om beskerm te word teen enige vorm van verwaarlosing, mishandeling en vernedering.  Statistieke oor kinderverwaarlosing in Suid-Afrika is hoog, wat dui op 'n behoefte, asook die reg tot maatskaplike dienslewering. Die kind se reg tot maatskaplike dienste word egter beïnvloed deur strukturele uitdagings in die welsynsektor. Welsynsorganisasies ervaar veral uitdagings soos die gebrek aan voertuie om die omstandighede van kinders en gesinne te assesseer, te min personeel, asook gebrekkige bronne in gemeenskappe. Hierdie uitdagings het tot gevolg dat min voorkomende dienste gelewer word, wat beteken dat kinders uit hulle gesinne verwyder moet word en in alternatiewe versorging geplaas moet word, soos byvoorbeeld pleegsorg.

Kinders se konstitusionele reg tot maatskaplike dienste en die reg tot ouerlike versorging is dus nie altyd haalbaar nie. In die praktyk beteken die kind se reg tot versorging in die gesin en die lewering van dienste om gesinsinstandhouding te bevorder, veel eerder dat die kind se reg tot maatskaplike dienste realiseer in die reg tot alternatiewe versorging. Die kind kan dus verwyder word vanweë die strukturele uitdagings wat in welsynsorganisasies en gemeenskappe bestaan. 'n Stap wat geweldige trauma vir die kind veroorsaak.

Die datum 20 November is belangrik omdat dit die dag is waarop die Verenigde Nasies  die  Verklaring vir die Regte van die Kind in 1959 aanvaar het, asook die Konvensie vir die Regte van die Kind in 1989.  Dit is belangrik dat ons Kinderdag vier omdat kinders, veral dié onder die ouderdom van ses jaar, baie min mag het om self hul regte te laat realiseer (soos om byvoorbeeld nie honger te wees nie), sonder die volle ondersteuning van die Staat.

​Suid- Afrika het die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van die Kind onderteken. Dit beteken dat die Staat verplig is om die basiese regte van alle kinders in Suid-Afrika te beskerm. Ons het egter nog 'n lang pad om te stap voor dit ʼn werklikheid word.

​​​​*Dr Marianne Strydom is ʼn Senior Lektor in die Departement Maatskaplike Werk aan die Universiteit Stellenbosch.