Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-museum op ʼn reis van transformasie
Outeur: Corporate Communication Division/Sandra Mulder
Gepubliseer: 25/11/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US)-museum, geleë in 'n gebou wat oorspronklik in 1907 gebou is as 'n meisieskool en 'n plek waar kinders 'n leerervaring moes hê, is vandag steeds 'n plek van transformerende leerervarings. Deesdae is die Museum 'n “veilige ruimte vir almal, ongeag hul ras, ouderdom of geslag" terwyl dit die Universiteit se aspirasies van sosiale inklusiwiteit, die verskaffing van 'n omgewing van wêreldgehalte, transformasie en sosiale impak in die Stellenbosse gemeenskap en verder, uitleef.

Te oordeel na die aantal besoekers, was die jaar 2019 'n uitstekende jaar vir die Museum om sy roeping te vervul met die tema van Vorentoe? Vorentoe! Vorentoe … Met hierdie tema as grondslag, is die aktiwiteite by die Museum daarop gerig om mense aan die dink te sit, om kommunikasie oor die toekoms te stimuleer en om die transformerende ervaring vir mense te versterk om 'n beter toekoms te hê.

Altesame 14 000 mense het die Museum tussen Februarie en September vanjaar besoek. Hiervan was meer as 500 leerder van omliggende skole. Meer as 14 denkleiers het aan 'n reeks gesprekke en debatte oor onderwerpe wat strek van die toekoms van hoër onderwys, radikale verandering in die institusionele curriculum en die jeug in krisis tot 'n alternatiewe Afrika-toekoms en die toekoms van onderrig in hoër onderwys.

Volgens mnr Bongani Mgijima, Direkteur van die US-museum, “word die Museum al hoe meer 'n veilige, inklusiewe ruimte vir gesprekke oor die verlede, die hede en die toekoms."

Volgens mnr Ricky Brecht, Opvoedkundige en Openbare Programme-beampte by die US-museum, het die Museum 'n plek van verbintenis, onthou, erfenis, debat en kreatiwiteit geword. “Die wye verskeidenheid museumprogramme, wat van rolprentvertonings, debatte en Afrika-dromspeel tot tentoonstellings en jongmense wat hul gedigte voordra, strek, is 'n bewys van dít waarna die Museum en sy personeel strewe," het Brecht gesê.

Van die US-museum se hoogtepunte in 2019 was:

Debatte deur denkleiers

Denkleiers wat aan gesprekke en debatte in 2019 by die Museum deelgeneem het, was dr Morne Mostert (Instituut vir Toekomsnavorsing [ITN]), dr Njeri Mwagiru (ITN), Deidre Samson (ITN), Ashley Walters (ITN), Liza Grobler (kunstenaar), Strijdom van der Merwe (kunstenaar), prof Nuraan Davids (Opvoedkunde); prof Ronelle Carolissen (Onderwyssielkunde), Doris Viljoen (senior toekomsnavorser), prof Jonathan Jansen (Opvoedkunde), prof André Roux (ITN) en prof Pumla Gobodo-Madikizela (Historiese trauma en transformasie).

Nelson Mandela Colloquium

Die US Museum het in Julle die jaarlikse Nelson Mandela colloquium in samewerking met die Nelson Mandela Museum aangebied. Dit is deur 55 mense bygewoon.

Toegang tot beeldende kunste

Hierdie program is die vlagskip van die Museum om leerders – veral dié uit benadeelde agtergronde – na die Museum te bring. Die doel van die program is om leerders groter toegang tot die museum te gee en hulle aan die beeldende kunste bekend te stel.

​“Die geskiedenis het getoon dat bitter min leerders uit benadeelde agtergronde die geleentheid kry om museums te besoek. Die Museum gaan uit sy pad uit om van die uitdagings wat skole in die gesig staar, aan te spreek deur die reiskoste van hierdie leerders te dek en hulle met etepakkies te bederf," sê Brecht.

Oop-mikrofoon digkunsgeleenthede  

Die Museum het saam met die plaaslike sakeman, Paul Khambule, die Lokxion-stigting en die Kayamandi Kuns- en Kultuurfees (KACF) gewerk om die lewe in die townships rondom Stellenbosch aan die hand van gedigte te vier. “Ons visie is om geleenthede vir die jeug uit die townships te skep om hul talent te ontdek en om aan hulle 'n platform te bied waar hulle hul digkuns met ander mense kan deel. Ons glo die uitvoerende kunste – soos die voordrag van gedigte – gee aan kwesbare jongmense die geleentheid om noodsaaklike lewensvaardighede, selfvertroue, leierskapgeleenthede, selfrespek en respek vir ander asook 'n bestaansdoel te kweek," meen Brecht.

Afrika-dromspeel Dinsdae

Amper 100 personeellede, studente en mense uit die gemeenskap het die Afrika-dromspeelsessies, wat deur Vuyo Mgijima, 'n ervare Afrika-dromspeler van Kayamandi, aangebied is, bygewoon. Hierdie weeklikse sessies was reeds vooruit volbespreek. “Daar was 'n groot belangstelling in die dromspeelsessies, aangesien dit baie ontspannend en terapeuties is, stres verlig en kreatiwiteit aanwakker. Dit help ook om prestasie in die werkplek te bevorder en om spangees en sosiale kohesie te bou," sê Brecht.

Kunsuitstallings

Een van die uitstallings, Die 100 Artefakte vir 100 Jaar, maak deel uit van die US se Eeufeesherdenking. Dit uitstalling, waarvoor prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier was, die aanvoorwerk gedoen het, stel die 100 bestaansjare van die US voor deur die tentoonstelling van 100 voorwerpe met kultureel-geskiedkundige waarde. Prof Matilda Burden, senior navorser in kultuurgeskiedenis by die Museum, het verskeie rondwandelings deur die uitstalling van artefakte gelei.

Van die ander kunsuitstallings wat deur die US-museum wat as deel van die Woensdag Kunsrondwandelings deur die kunskurator Ulrich Wolff aangebied is, het die werke van Maggie Laubser, Irma Stern, Solomon Caesar Malan, John Muafangejo, Willie Bester, William Kentridge, Christo Coetzee en Auguste Rodin ingesluit.

Opleiding en algemene openbare uitreik

Die US-museum is in die unieke posisie dat dit die enigste museum in Suid-Afrika is wat opleiding in museologie aanbied. Geakkrediteerde driedag-kortkursusse as inleiding tot museologie word regoor die land vir museumpersoneel aangebied. Hierdie kursusse, wat ook deur Burden aangebied word, is baie gesog en word dikwels deur kursusse in erfenisbewaring gevolg. Terselfdertyd word lesings oor kultuurgeskiedenis, erfenis en erfenisbewaring ook vir verskeie geskiedenis-, erfenis- en ander plaaslike verenigings, asook regerings- en provinsiale departement aangebied. As deel van hierdie uitreik, besoek die Museum ook skole in die Wes-Kaap om leerders van verskillende kulture aan die konsep van erfenis bekend te stel en om hulle te help om hul eie kultuur te verstaan. ​