Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Senaat sê steun aan Rektor toe
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 22/11/2019

“Wees verseker dat hierdie liggaam die grootste respek en waardering vir u leierskap het."

Só het prof Anton van Niekerk, Uitgelese Professor in Filosofie aan die Universiteit Stellenbosch (US), vanmiddag (22 November 2019) aan die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, by die by die laaste vergadering van die Senaat vir 2019 gesê.

Prof Van Niekerk is die langsdienende Senaatslid, die hoogste akademiese liggaam van die Universiteit. Hy het die Rektor bedank vir sy diens aan die Universiteit die afgelope jaar, en gesê die instelling “gaan van krag tot krag".

In sý verslag aan die Senaat het Prof De Villiers uitgewys die US het nou 473 navorsers wat deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) gegradeer is. Hieronder tel 14 navorsers met ʼn A-gradering, wat beteken hulle word as wêreldleiers op hul betrokke gebiede beskou. Die getal NNS-gegradeerde navorsers by die Universiteit het van 2009 tot 2019 met 92% gestyg.

Prof De Villiers het ook aangekondig dat drie US-akademici nou onder die mees invloedryke navorsers ter wêreld die afgelope dekade tel: proff Oonsie Biggs, Linus Opara en Dave Richardson. Hul name verskyn op die Web of Science-groep se jongste lys van navorsers wat wêreldwyd die meeste in akademiese werk aangehaal word (Highly Cited Researchers, 2019). Dié lys is vroeër vandeesweek uitgereik.

Prof Amanda Gouws, bekleër van die SARChI Leerstoel in Genderpolitiek in die US se Departement Politieke Wetenskap, het prof De Villiers gelukgewens met sy aanstelling vir ʼn tweede vyfjaar termyn, wat op 1 April 2020 in aanvang neem. Die US Raad het hom in September eenparig heraangestel. Prof Gouws is een van drie Senaatslede wat op die Raad dien.

“Ons het vertroue in u en wens u alles van die beste toe vir u tweede termyn," het prof Gouws aan die Rektor gesê.