Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
3 van US onder mees aangehaaldes in die wêreld
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 22/11/2019

Die Universiteit Stellenbosch  (US) kondig met trots aan dat drie van sy akademici by die lys besonder invloedryke navorsers ingesluit is, volgens die Web of Science-groep se lys getiteld Highly Cited Researchers 2019 wat vroeër vandeesweek bekendgemaak is.

Proff Reinette (Oonsie) Biggs), Linus Opara (AgriWetenskappe) en Dave Richardson (Omgewing en Ekologie) is onder die lys van navorsers in die wêreld wat die meeste aangehaal word.

Biggs is die bekleër van die DWT/NNS Navorsingsleerstoel in Sosio-ekologiese Stelsels en Veerkragtigheid; Opara van die DWT/NNS Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARCHI) in Na-oes Tegnologie; en Richardson is die Direkteur van die DWT/NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie en 'n professor in die Departement Plant- en Dierkunde.

Die lys, waarna daar elke jaar met groot verwagting uitgesien word, identifiseer wetenskaplikes en sosiale wetenskaplikes wat verskeie referate en artikels gelewer het wat in die boonste 1% volgens die aantal aanhalings in hul vakgebiede en jaar van publikasie verskyn en dus as uiters invloedryk onder hul eweknieë beskou word.

Die metodiek wat die room van invloedryke navorsers bepaal, maak op die inligting en ontledings wat bibliometriese kundiges by die Instituut vir Wetenskaplike Inligting van die Web of Science-groep doen.

“Die Universiteit Stellenbosch is baie trots op hierdie drie uiters produktiewe navorsers," sê prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies. “Dit is nie net 'n bewys dat ons akademici al hoe meer wêreldwyd deur hul eweknieë erken word nie, maar ook dat die Universiteit – in ooreenstemming met sy visie – wêreldwyd as onder meer uitnemend, inklusief en innoverend beskou word."

Die inligting word van 21 breë navorsingsrigtings binne Essential Science Indicators, 'n onderafdeling van InCites, verkry. Hierdie rigtings word deur stelle vaktydskrifte, en by uitsondering – in die geval van multidissiplinêre vaktydskrifte soos Nature and Science deur 'n artikel-per-artikel opdrag – gegrond op 'n ontleding van die aangehaalde verwysings in die referate/artikels geïdentifiseer. Hierdie persentiel-gebaseerde keuringsmetode verwyder ouer artikels se voordeel teenoor dié wat onlangs verskyn het, aangesien artikels binne dieselfde kohort teen mekaar opgeweeg word.

David Pendlebury, senior aanhalingsontleder by die Instituut vir Wetenskaplike Inligting sê: “Erkenning en ondersteuning vir hierdie uitsonderlike navorsers verteenwoordig n belangrike aktiwiteit vir 'n land of 'n instelling se planne vir doeltreffende en versnelde vooruitgang. Die Highly Cited Researchers-lys dra by tot die identifisering van daardie handjievol navorsers wat buitengewone bydraes tot die uitbreiding van kennis lewer. Hierdie navorsers skep voordeel vir die samelewing, innovasie en kennis wat die wêreld gesonder, ryker, meer volhoubaar en veiliger maak."

Klik hier vir die volledige 2019 Highly Cited Researcher-lys.

Besoek hierdie webbladsy vir die metodiek. ​