Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Johann Rupert ontvang gesogte Pro Bene Merito-toekenning, ereprofessoraat in Internasionale Sakepraktyk
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 20/11/2019

Die uittredende kanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), dr Johann Rupert, het die instelling se tweede hoogste eerbewys, die gesogte Pro Bene Merito-toekenning, gisteraand (Dinsdag, 19 November 2019) ontvang.

  • Kyk na 'n kort video hier
  • Lees die commendatio wat voorgehou is, hier

Rupert is vereer as uitgelese sakeleier, entrepreneur, bewaringsgesinde en filantroop – nie net in Suid-Afrika nie, maar internasionaal. Reeds in 2004 het hy die US se hoogste eerbewys, ʼn eredoktorsgraad, ontvang.

Die US ken sy Pro Bene Merito-toekenning – in die vorm van 'n medalje en sertifikaat – onder baie spesiale omstandighede vir uitsonderlike diens op plaaslike of internasionale vlak toe. Dit sluit onder meer die bevordering van die US se belange, veral in die akademiese gemeenskap; die skep van geleenthede vir studie en navorsing vir US-personeel en -studente oor 'n langer tydperk; en die bevordering van die algemene belange van die US of die breër samelewing in.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het by 'n geleentheid wat by die L'Omarins-wynlandgoed by Franschhoek gehou is om Rupert se twee ampstermyne as Kanselier te vier, gesê Rupert het die US die afgelope tien jaar met groot passie en toewyding gedien. “Hy was ook oor die jare heen 'n groot weldoener van die Universiteit deur verskeie inisiatiewe, insluitende wynkunde, die regte, sport, opvoeding, musiek en bewaring te befonds."

De Villiers het ook gesê dat afgesien van sy rol as Kanselier en groot weldoener van die Universiteit, het instelling ook deur die jare groot baat gevind by Rupert se fasilitering en netwerke. “Hy het al talle deure vir die Universiteit oopgemaak, wat ons baie gehelp het om ons visie te bevorder."

Hy het bygevoeg dat hy veral deur Rupert se oortuiging dat nie die Universiteit of die dorp bekrompe moet wees nie, maar eerder “groot moet dink", geïnspireer is.

Ereprofessorskap

De Villiers het ook aangekondig dat Rupert aanstaande jaar 'n ereprofessorskap in Internasionale Sakepraktyk by die Universiteit van Stellenbosch Besigheidskool (USB) sal opneem. Sy termyn sal van 1 Januarie 2020 tot 31 Desember 2022 strek.

Hy sal jaarliks 'n lesing lewer, en ook help om internasionale denkleiers as gassprekers by die Universiteit te kry.

By ontvangs van die Pro Bene Merito-toekenning, het Rupert gesê elke oomblik in 'n mens se lewe is belangrik en het 'n invloed op jou lewe. “Moenie dink jy is in beheer van jou lewe nie. Die lewe leef jou, jy leef nie die lewe nie."

Hy het 'n oorsig van sy studentedae en sy loopbaan gegee, en het ook hulde gebring aan sakevennote en vriende. Hy het bygevoeg dat wyle prof Russel Botman, voormalige US Rektor en Visekanselier, hom geïnspireer het om die amp van kanselier te aanvaar en hy het sy ondersteuning aan die Universiteit van toe toegesê en hy het gisteraand weer sy ondersteuning aan die Universiteit, De Villiers en die inkomende Kanselier, oudregter Edwin Cameron, toegesê.

Rupert het ook die Universiteit aangemoedig om die “ongelooflike breinkrag" by die instelling te gebruik om Suid-Afrika se probleme op te los.

Die Voorsitter van die Raad, mnr George Steyn, het by die geleentheid 'n oorsig van die Universiteit se suksesse gedurende “dr Rupert se wagbeurt" gegee en gesê die instelling, wat verlede jaar sy Eeufeesjaar herdenk het, “het een van die voorste hoëronderwysinstellings geword wat 'n belangrike bydrae tot mense se ontwikkeling in ons land, in Afrika en regoor die wêreld maak. Ons is trots hierop. Ons prioriteit bly die akademiese projek en daarom – akademiese uitnemendheid."

Hy het ook die jongste Times Higher Education wêreldranglys vir universiteite verwys en gesê die US het weer eens verder opgeskuif om nou onder die top 1% van universiteite wêreldwyd te wees. “Ons bly die mees navorsingsproduktiewe universiteit in Afrika, en die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het ook onlangs bevestig ons het die beste deurvloeikoers en tweede laagste eerstejaarsuitsakkoers in die land."

“Internasionalisasie is 'n prioriteit vir ons. Die Universiteit het nou 292 internasionale vennote in 63 lande op ses vastelande," het hy gesê en bygevoeg dat die US nou meer as 4 000 internasionale studente het.

Steyn het ook bygevoeg dat die US toegang verbreed sodat die beste studente hier kan en wil kom studeer. “Ons het sedert 2010 meer as R800 miljoen uit ons jaarlikse institusionele begroting daaraan bestee om voorgraadse studente te help finansier, deur gemiddeld 28% van ons hoofbegroting per jaar toe te wys aan beurse en lenings.

“Ons fokus op ons kernbesigheid – om ʼn inklusiewe en innoverende universiteit van wêreldgehalte te wees. ʼn Plek waar daar uitnemende onderrig en navorsing plaasvind, wat van die wêreld ʼn beter plek maak."

EINDE