Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Heelwat nuwighede op Woordfees 2020
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 19/11/2019

Die Toyota US Woordfees het Maandagaand (18 November) nie net sy program vir volgende jaar se fees bekendgestel nie, maar ook heelwat nuwighede aangekondig. Daar is ʼn nuwe tema, logo, borg én programsegmente.

Die fees word vanaf 6 tot 15 Maart 2020 in Stellenbosch en omstreke gehou, en kaartjieverkope het reeds geopen. Die programbekendstelling was by die Rust en Vrede-wynlandgoed buite Stellenbosch gehou, en is bygewoon deur Stellenbosch gemeenskapslede en bekendes in die vermaakbedryf.

In 2020 word die 21ste aflewering van die fees gehou, en daarmee saam is ʼn nuwe logo Maandagaand bekendgestel. Die naam Toyota is ʼn sentrale deel van die nuwe logo omdat dié motorvervaardigingsreus vir die volgende drie jaar medenaamborg van dié fees is.

Volgende jaar se tema, “Aanhou beweeg en geraas maak", is volgens die feesdirekteur, Saartjie Botha, ʼn herbevestiging van die Woordfees se sentrale verbintenis tot die letterkunde. Dié bekende reël kom uit Jan Rabie se kortverhaal “Ek het jou gemaak" in sy grensverskuiwende bundel 21, wat in 1957 gepubliseer is. Die tema is dus ook ʼn indirekte verwysing na die fees se 21ste verjaardag.

Volgens Botha gee die tema erkenning aan die welkome finansiële inspuiting van Toyota en weerspieël dit ʼn wêreld van beweging en verandering. “Kunstefeeste is broeiplekke vir energie en toetsgronde vir radikale idees. Die een ding wat ʼn fees nie kan bekostig om te doen nie, is om te stagneer. Dit sal ʼn snelle, stille dood sterf."

Prof Wim de Villiers, US-Rektor en Visekanselier, het Maandagaand by die programbekendstelling gesê die US wil ʼn florende instelling wees, en streef daarna deur kuns, meertaligheid en inklusiwiteit, en dat die Woordfees daarmee help en boonop ʼn sterk impak op die sameling en spesifiek Stellenbosch maak.

Verskeie interessante nuwighede word in 2020 aangebied. Die Woordfees het volgende jaar vir die eerste keer ʼn volwaardige danskategorie op die program asook ʼn spesiale afdeling vir landbou. “Die nuwe dansafdeling maak sin omdat daar in die afgelope paar jaar so ʼn groot toename in die aantal dansgeselskappe in die Kaapse metropool was en omdat veral jonger feesgangers in verskillende dansstyle belangstelling toon," sê Botha.

Volgens haar was landbouverwante aanbiedings by die fees nog altyd baie gewild. Die landbouprogram sal uit ʼn verskeidenheid van demonstrasies, kursusse, diskoersgesprekke en leefstylverwante aanbiedings bestaan.  ​

Vanjaar is daar 23 toneelstukke wat op die fees debuteer, en die propvol skrywersprogram betrek van die Suid-Afrika se voorste skrywers. Boonop is daar ook beide populêre en klassieke musiek en visuele kuns op die program.

Besoek www.woordfees.co.za vir die volledige program en meer inligting.

 FOTO-ONDERSKRIF: Calvyn Hamman, Senior Visepresident: Verkope en Bemarking van Toyota Suid-Afrika Motors, saam met Saartjie Botha, Direkteur van die Toyota US Woordfees. Foto: STEFAN ELS