Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-professor ontvang gesogte navorsingstoekenning
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 14/11/2019


Prof Lesley le Grange, uitgelese professor van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde, het onlangs die toonaangewende eretoekenning van die Suid-Afrikaanse Onderwysnavorsingsvereniging (SAERA) ontvang.

Dit is SAERA se hoogste toekenning en word jaarliks aan 'n individu of navorsingsentiteit toegeken vir 'n uitsonderlike bydrae tot opvoedkundige navorsing in Suid-Afrika. Die toekenning is by die galadinee tydens SAERA se jaarlikse konferensie in Durban oorhandig.

Volgens prof Le Grange voel hy geëerd om die toekenning te ontvang, maar beklemtoon dat hy nie sy werk doen slegs met die doelwit om pryse te wen nie.

Hy is baie lief vir sy werk in die opvoedkunde en sê dat hoewel die toekenning nie 'n direkte uitwerking op sy onderrig en navorsing by die US sal hê nie, spoor dit hom aan om nog groter hoogtes in die onderwys en navorsing te bereik.

“Ek doen nie my werk om toekennings te ontvang nie, maar dit is 'n lekker gevoel om vir jou navorsingsbydrae erken te word, en des te meer as die erkenning deur Suid-Afrika se voorste onderwysnavorsingsvereniging gegee word," sê Le Grange.

Vroeër vanjaar het die voormalige minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Naledi Pandor, Le Grange en prof Yusef Waghid, ook 'n uitgelese professor verbonde aan die US se Fakulteit Opvoedkunde, as lede van die Raad op Hoër Onderwys (RHO) aangewys.

Een van die raad se vernaamste funksies is om deur die intellektuele oorweging van belangrike nasionale en sistemiese kwessies, insluitende internasionale neigings, by te dra tot die ontwikkeling van hoër onderwys.

As lid van die RHO sal Le Grange die minister van Hoër Onderwys en Opleiding raad gee oor alle aspekte van die hoër onderwys-beleid en ook navorsing doen om 'n bydrae te lewer om die lang- en korttermyn-uitdagings wat hoër onderwys in die gesig staar, aan te spreek.

“Ek is baie bly dat ek in hierdie nuwe kapasiteit tot diens van die hoëronderwyssektor kan wees, veral in hierdie tyd wat daar talle geleenthede, maar ook uitdagings is rakende die befondsing van hoër onderwys, werkverskaffing aan gegradueerdes, die Vierde Industriële Revolusie en die dekolonalisasie-debatte," meen Le Grange.

Vir meer inligting oor SAERA, besoek http://saera.co.za/.

Om meer uit te vind oor die Raad op Hoër Onderwys, klik hier