Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
USB-ED open deure vir US in Sandton
Outeur: Corporate Communication Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 14/11/2019

Die kantoor van die Universiteit van Stellenbosch Besigheidskool Uitvoerende Ontwikkeling (of te wel USB-ED), wat 'n private maatskappy binne die Universiteit Stellenbosch (US) is, het sy Gauteng-kantoor na Sandton verskuif om sy kortkursusse in uitvoerende ontwikkeling nader aan sy kliënte te bring.

Die nuwe kantoor in die HB Connect-gebou by Weststraat 165, is gerieflik geleë met makliker toegang tot die Gautrein en snelwegroetes en uitstekende geriewe soos hotelle en inkopiesentrums binne loopafstand. HB CONNECT, 'n vennoot van die US, verskaf die lokaal.

Die vorige kantoor was by die Didata Kampus in Bryanston.

Mnr Henry Karow, Kommersiële Direkteur van USB-ED in Sandton, sê die nuwe ligging bied 'n verskeidenheid opsies vir die aanbieding van verskeie leeroplossings. Die lokale op die perseel kan aan spesifieke vereistes voldoen. Kos en drank kan in die HB-restaurant, die HB Café, die HB-kroeg en die oop ruimte in die binnehof bedien word, terwyl 'n daar ook 'n ouditorium met 200 sitplekke en verskeie konferensie- en geleentheidskamers is. Dit is ideaal vir konferensies, werksessies en gala-geleenthede. 

USB-ED het reeds sedert 2012 'n kantoor in Gauteng en in Desember verlede jaar het die kantoor na die nuwe adres in Sandton verskuif.

USB-ED is 'n private entiteit met die US wat meer as 60% van die aandele besit. USB-ED het ook 'n lang en noue verhouding met HB CONNECT en die onderlinge voordelige reëling het tot die gebruik van die gebou vir USB-ED se produkte en dienste gelei.

“Ons werk as een organisasie saam om die US, die Universiteit van Stellenbosch Besigheidskool (USB), die Instituut vir Toekomsnavorsing (ITN) en USB-ED te bevorder. Die idee is om 'n Sandton-kampus te skep waar studente van die US, USB en USB-ED die geriewe kan benut. Ons wil op 'n manier 'n tuiste vir studente skep," aldus Karow.

“Ons fokus tans op beide deelnemers aan ons programme asook korporatiewe kliënte wat óf persone op ons oop-inskrywingskursusse stuur óf die fasiliteit vir 'n pasgemaakte program gebruik," sê Karow.

Die kantoor benut sowat 25% van die fasiliteit se beskikbare ruimte. “Ons wil egter sien dat hierdie benutting toeneem. Ons wil Stellenbosch na Sandton en Afrika bring."