Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Betekenisvolle OvV by internasionale spitsberaad onderteken
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 13/11/2019

As voorloper tot die internasionale Club of Rome-spitsberaad, wat die klub in samewerking met die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Toekomsnavorsing (ITN) aangebied het, is 'n betekenisvolle Ooreenkoms van Verstandhouding (OvV) tussen die klub en die Oos-Wes-Filantropieforum (of te wel die EWPF) onderteken.

Die spitsberaad is verlede week by die Spier-wynlandgoed by Stellenbosch gehou.

Die ooreenkoms is 'n omvattende samewerkingsraamwerk om albei organisasies en hul lede aan te spoor om oor die verloop van die volgende tien jaar konkrete projekte te ontwikkel wat onkonvensionele, innoverende denkrigtings en dade sal aanspoor.

Dit is die heel eerste keer dat twee organisasies kragte saamsnoer om die allerdringendste maatskaplike en omgewingsvraagstukke van ons tyd saam aan te spreek. Met die Universiteit Stellenbosch se visie om kennis tot diens van die samelewing te bevorder, is dit betekenisvol dat hierdie belangrike OvV by 'n konferensie aangebied in samewerking met 'n US-instituut, onderteken is. Dit is belangrik om kennis te neem dat die ITN direk ná en as 'n direkte uitvloeisel van die verskyning van die eerste Club of Rome-verslag in 1972, getiteld Limits to Growth, gestig is.

Volgens dr Mampela Ramphele, een van die medepresidente van die Club of Rome, is dit 'n geskiedkundige vennootskap wat sal help om oplossings vir van die grootste wêreldkwessies te vind.

“In samewerking met die EWPF, sal ons van die idees wat na vore kom by die konferensie en werksessies wat ons by die spitsberaad het, verder kan neem en daadwerklik kan optree," sê Ramphele.

“Filantropie is besig om die wêreld te verander en ons toekoms te vorm. Hierdie samewerkende vennootskap is vir die EWPF 'n opwindende geleentheid om vooraanstaande filantropiese leiers en Club of Rome-lede te verenig om aksieplanne te ontwerp en in werking te stel wat tot voordeel van beide die mens en die natuur is," het Mark McGuffie, die EWPF se Internasionale Filantropie-raadgewer wat gehelp het met die 2019 Club of Rome se jaarkongres by die Spier-wynlandgoed.

Die Club of Rome is in 1968 in die lewe geroep as 'n internasionale netwerk van individue wat 'n gemeenskaplike besorgdheid oor die toekoms van die mensdom het. Die klub was die eerste waarlike wêreldwye dinkbank wat sienings van akademici, die sakesektor, regering en die burgerlike samelewing vervat.

Die EWPF is 'n aksie-gedrewe netwerk van internasionale leiers uit die Weste en Ooste wat verbind is tot die ontwikkeling van filantropiese vennootskappe wat die dringendste omgewings- en maatskaplike kwessies van ons tyd kan beïnvloed. Dit poog om kwessies soos klimaatsverandering en volhoubaarheid, maatskaplike finansiering en innovasie, die bemagtiging van vroue en jongmense en gesins- en kulturele nalatenskap aan die hand van toegepaste navorsing, openbare/private vennootskappe, opleiding en uitruiling aan te spreek.

“Met die US se missie om 'n instelling te wees wat aan die wêreld verbind is, terwyl dit gemeenskappe plaaslik, elders in Afrika en in die res van die wêreld verryk en verander, was die spitsberaad waarvan die Universiteit 'n mede-aanbieder was, die perfekte geleentheid vir hierdie ondertekening," meen dr Morne Mostert, direkteur van die ITN.

Sandrine Dixson-Declève, nog 'n medepresident van die Club of Rome, sê die ondertekening van die OvV in Suid-Afrika is baie betekenisvol. Sy glo dat omdat die Wieg van die Mens hier geleë is, dit 'n geleentheid skep om “terug te kom" en “te verstaan waar ons vandaan kom". Dus kan elkeen wat deel is van hierdie samewerkingspoging, 'n toekomsbeeld skep om mense saam te neem op die reis.  

“Wat die Club of Rome saam met die EWPF kan doen, is om samewerkingsooreenkomste tussen streke te ondersoek wat absoluut noodsaaklik is om dit te laat werk. Tussen Afrika, Asië-Stille Oseaan, Europa en die Amerikas sal die tipe projekte wat ons vestig, belangrik wees om as katalisator vir 'n ware skuif oor die volgende tien jaar te dien, aangesien ons nie dink ons nog 50 jaar kan wag nie. Dit is absoluut dringend om nou 'n verandering teweeg te bring," sê Dixson-Declève.

Vir meer inligting oor die jaarlikse Club of Rome-spitsberaad, klik hier