Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kaapse tak van Women in AI op Stellenbosch bekendgestel
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 12/11/2019

Die Kaapstadse tak van die Women in AI-organisasie (WAI) is onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) in vennootskap met Women in AI Africa bekendgestel.

Women in AI, 'n internasionale niewinsgewende organisasie, beywer hom vir die bevordering van vroueverteenwoordiging en -deelname op die gebied van kunsmatige intelligensie (AI) – 'n gebied wat tans nog deur mans oorheers word. Dit is 'n gemeenskapsgebaseerde inisiatief wat bemagtiging, kennis en aktiewe samewerking deur opvoeding, navorsing, geleenthede en blogging wil bewerkstellig. Die organisasie het meer as 2 500 lede in 90 lande. WAI was die eerste wêreldwye gemeenskap van vroue in AI en streef daarna om diversiteit te omarm en 'n inklusiewe omgewing van nadenke te skep.

Lisel Engelbrecht, Women in AI se ambassadeur in Suid-Afrika, het by die bekendstellingsgeleentheid, wat by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) gehou is, gesê net 22% van die beroepslui wat in kunsmatige intelligensie werk, is vroue.

Die tema van die Women in AI-bekendstelling was RE-imagine. “Namate die pas van innovasie voortsnel, lê daar 'n dinamiese digitale toekoms voor. Ons moet die verlede 'ontleer' en 'n AI-gedrewe toekoms vol moontlikhede in die vooruitsig stel. Bied die Vierde Industriële Revolusie (4IR) aan ons die geleentheid om die speelveld gelyk te maak, gelykheid uit te brei en geleenthede te skep?" het Engelbrecht gesê.

“Namate ons by die Vierde Industriële Revolusie aanpas, gaan vroue die meeste geraak word omdat hulle die meeste administratiewe poste beklee," het sy bygevoeg.

Die Viserektor vir Sosiale Impak, Transformasie en Personeel van die US, prof Nico Koopman, het die inisiatief verwelkom.

“Diversiteit moet gelyk staan aan uitnemendheid; ons wil 'n gelykwaardige samelewing hê. Vroue is onderverteenwoordig op hierdie gebied en ons moet dit verander," het prof Koopman gesê.

Prof Wim Delwa, Waarnemende Direkteur van die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, het 'n praatjie oor die beskouing van datawetenskap en rekenaardenke gelewer deur 'n oorsig van die skool te gee. Klik hier vir meer inligting oor die skool.

Vir meer inligting oor die WIA-organisasie, besoek https://www.womeninai.co/.