Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vakke by Maties word onder bestes ter wêreld beskou
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 08/11/2019

In die Times Higher Education-wêreldranglys volgens vak vir 2020, wat op 6 November uitgereik is, het die Universiteit Stellenbosch (US) besonder goed gevaar in Opvoedkunde, Bestuur & Ekonomie, en Sosiale Wetenskappe. Die instelling beklee die volgende plekke:

  • Opvoedkunde (wat prestasie in opvoedkunde, onderwyseropleiding en akademiese studie in opvoedkundevakke meet) – kategorie 176-200 uit 477 universiteite
  • Sosiale Wetenskappe (wat prestasie in die vakke kommunikasiekunde en mediastudie, politiek en internasionale studie, sosiologie en geografie meet) – kategorie 301-400 uit 720 universiteite
  • Bestuur & Ekonomie (wat prestasie in rekeningkunde en finansies, bestuur- en bedryfswetenskappe, en ekonomiese en ekonometriese vakke meet) – kategorie 401-500 uit 632 universiteite

Daarbenewens het die Informatika-instituut in dieselfde week sy Universele Ranglys van Akademiese Prestasie (URAP) volgens vak gepubliseer. Dit lys die wêreld se voorste 1 000 universiteite op 61 vakgebiede. Die US beklee die tweede plek in Suid-Afrika, met 23 vakke wat as van die beste ter wêreld beskou word. Geskiedenis, Dierkunde, Filosofie, Voedselingenieurswese, Landbou, Biologiese Wetenskappe, Taalkunde, Kommunikasie en Kultuur, Sielkunde, Onderwys, Ekonomie, Studies in die Menslike Samelewing, Mediese en Gesondheidswetenskappe, Sielkunde en Kognitiewe Wetenskappe, Geologie, Aardwetenskappe, Molekulêre Biologie en Genetika, Farmakologie, Ingenieurswese, Wiskundige Wetenskappe, Tegnologie, Inligting- en Rekenaarwetenskappe, Chemiese Wetenskappe, en Fisiese Wetenskappe.

“Hierdie resultate weerspieël die wêreldwye impak van die US se navorsing, en die internasionale erkenning wat ons uitmuntende navorsers geniet," het prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, gesê.

Op Times Higher Education se wêrelduniversiteitsranglys wat op 11 September in Zürich uitgereik is, het die US geklim van die kategorie 301–350 in 2019 tot 251–300 vir 2020. Dít beteken die US is onder die beste 1% van universiteite wêreldwyd.

Vergeleke met verlede jaar het die US beter gevaar in die aanwysers van onderrig, navorsing, sitate en internasionale beskouing. Die grootste verbetering was in die Universiteit se sitaattelling, wat 13% hoër is as in die vorige tydperk. Dít is die derde jaar na mekaar wat die US sy prestasie in hierdie aanwyser verbeter.