Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Netbal groot wenner by 2019 Maties Sport-toekenningsaand
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 04/11/2019

Maties Netbal het met verskeie toekennings weggestap by die 2019 Maties Sport-toekenningsaand, insluitend span van die jaar, afrigter van die jaar en sportvrou van die jaar.

Die netbalspeler Jo Prins en krieketspeler David Bedingham is onderskeidelik as sportvrou en sportman van die jaar aangewys. Parasport-atlete Anika Pretorius en Kerwin Noemdo het die pryse in die kategorie vir persone met gestremdhede ontvang.

Maties Netbal se eerste span is as die span van die jaar aangewys terwyl hul afrigter, Zanele Mdodana, erkenning ontvang het as spanafrigter van die jaar. Nog 'n netbalspeler, Sasha-Lee Petersen, het die toekenning vir MFM-mediapersoonlikheid van die jaar ontvang.

Ander groot wenners op die aand was Maties Hokkie (klub van die jaar) en Heinrich Fortuin (individuele afrigter van die jaar).

Dit was Prins se laaste jaar as 'n Matie en sy het haar beste vir laaste gehou. Sy het verskeie individuele toekennings gewen en was 'n sleutelspeler in Maties Netbal se mees suksesvolle seisoen in twee dekades. Sy het sedert 2015 aan vier USSA- en vier Varsity Netbal-toernooie deelgeneem – insluitend twee finale. Sy is ook tans 'n lid van die Proteas-oefengroep.

“Hierdie toekenning beteken baie vir my," het Prins gesê. “Dit is 'n fantastiese manier om 'n seisoen wat baie uitdagings gehad het, af te sluit. Die maroenrok was goed vir my gewees oor die jare. Dankie, Maties Sport, dat julle my die mens gemaak het wat ek vandag is."

Mdodana het gesê: “Ek is dankbaar vir hierdie toekenning, maar dit was 'n spanpoging. Adele (Niemand, assistentafrigter), jy het hierdie pad saam met my gestap en aan my spelers, dankie dat julle my goed laat lyk het."

Die oomblik was effe onwerklik vir Noemdo.

“Toe ek my naam hoor, het ek dankbaar en geërd gevoel. En toe ek die trofee optel en sommige van die name daarop sien – soos Ernst van Dyk, Charl du Toit, Dyan Buis en Fanie van der Merwe – het ek besef ek doen iets reg! Hierdie toekenning is erkenning vir al die harde werk vandat ek die reis saam met Maties Sport begin het."

Maties Sport se hoofdirekteur, Ilhaam Groenewald, het gesê: “Ons het vanjaar meer as 200 studente-atlete, asook afrigting- en administratiewe personeel, vereer vir uitnemendheid in sport en diens. Om op die sportveld te wen, is die grootste eerbetoon vir ons studente-atlete. Dit is erkenning vir hul toewyding, harde werk, veeleisende oefenprogram en vermoë om hul sport- en akademiese verantwoordelikhede te balanseer.

“'n Oorwinning op die sportveld spreek egter ook boekdele van ons personeel agter die skerms – die afrigters, steundienspersoneel, administrateurs en bestuurders – wat hul nie net aan die studente-atlete toewy nie, maar ook aan die breër strategiese visie van Maties Sport."