Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vrugtebedryf groet groot gees
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 04/11/2019

​'n Legende in die vrugtebedryf, Koos Lötter, is op 29 Oktober 2019 op Stellenbosch op die ouderdom van 92 jaar oud oorlede.

Die Departement Hortologie aan die Universiteit Stellenbosch het innige meegevoel betuig teenoor Lötter se familie en vriende. In 'n verklaring het dr Lynn Hoffman, voorsitter van die US Departement Hortologie gesê: “Oom Koos, soos ons hom geken het, se lewenslus sal beslis gemis word, asook sy besonderse passie vir hortologie. Sy plek as 'n jarelange vriend en gewaardeerde kollega is nou leeg. Hy sal egter voortleef in die gedagtes en herinneringe van die baie studente wat hy deur sy leeftyd geïnspireer en vir wie hy 'n mentor was. Baie van hulle beklee vandag prominente en invloedryke posisies in die bedryf."

Lötter het in 1951 'n graad in Pomologie van die Departement Hortologie aan die Universiteit Stellenbosch behaal. In 1968 het hy as dosent na die Departement teruggekeer, waar hy tot met sy aftrede in 1991 altesaam 23 produktiewe jare deurgebring het.

Vroeër vanjaar het Lötter 'n toekenning van die sagtevrugtebedryf en die Wes-Kaapse Departement van Landbou ontvang vir sy bydrae, veral tot die uitbouing van die produksie van alternatiewe gewasse. Sy kennis het van koejawel, vye, kiwivrugte en persimmons tot by lukwarte, kwepers en meer onlangs ook granate gestrek.  

Hy het die gebruik van houtpalette by die oes van sagtevrugte bevorder, en was in 1989 'n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Tuinboukundige Wetenskappe (SAVTW).

Meer onlangs het hy die verhaal van vyeproduksie in Suid-Afrika opgeskryf, en het ook wenke oor die verbouing van dié vrug in boekvorm deurgegee. Die eerste druk van sy “Die vy in Suid-Afrika" het blitsig uitverkoop. Dit is sedertdien herdruk en ook na Engels vertaal danksy ondersteuning van die Wes-Kaapse Departement van Landbou.

Lötter het in goeie tydsbestuur en behoorlike beplanning geglo om sukses en produktiwiteit te verseker. Hy het eenkeer gesê dat dit onmoontlik is om ooit verveeld te wees, want daar is eenvoudig te veel goeie boeke wat nog gelees moet word.

"Oom Koos het die vaardigheid van wetenskaplike skryfwerk en kommunikasie in sy loopbaan toegepas, en was in hierdie opsig 'n voorbeeld vir baie mense in die bedryf," vertel Hoffman. “Hy het ook een keer opgemerk dat alles in die lewe, selfs in die landbou, oor mense gaan, en dat niks werk sonder mense nie. Van hierdie ingesteldheid getuig sy wye netwerk van vriende en kollegas."