Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-insekkundiges gaan Europa help om vrugtevlieë te stuit
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 04/11/2019

Insekkundiges verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Bewaringsekologie en Entomologie is deel van 'n grootskaalse navorsingsprojek wat kundiges uit 15 lande betrek. Dit is daarop gemik om wetenskaplike prosesse en tegnologie te ontwikkel waarmee groeiende vrugtevliegprobleem in Europa beperk en bestuur kan word. Ingryping is belangrik veral in die lig van klimaatsverandering.

Die US=navorsingsgroepe van prof John Terblanche, 'n kundige oor insekfisiologie, en prof Pia Addison, 'n kundige oor kwessies rondom plaagbestuur, is deel van die FFA-IMP OFF-SEASON projek. Navorsing sal gedoen word oor hoe gevestigde of ontluikende probleemspesies van vrugtevlieë buite seisoenstye danksy geïntegreerde bestuursmetodes en tegnologie beperk kan word.

Die projek fokus op die voorkoms van drie soorte regte vrugtevlieë (dus, vlieë in die familie Tephritidae). Die oostelike vrugtevlieg (Bactrocera dorsalis) en die perskevrugtevlieg (Bactrocera zonata) word reeds elders in die wêreld as indringerspesies beskou. Kenners is bekommerd dat dié spesies ook probleme inhou vir die produksie en bemarking van vrugte in Europa. Die Mediterreense vrugtevlieg (Ceratitis capitata) raak ook toenemend 'n probleem, en is besig om selfs in die meer gematigde produksiegebiede van Europa 'n houvas te kry.

Deur die FF-IPM hoop kenners dat hulle betyds doeltreffend maatreëls in plek sal hê om te sorg dat hierdie spesies nie oorneem nie. Bestaande populasies sal buite seisoenstyd, wat gewoonlik saamval met belangrike fases in die insekte se ontwikkelingsiklusse, uitgeroei word. Nuwe tegnologie word ontwikkel om te keer dat besmette vrugte ingevoer of verkoop word. Daaronder tel die ontwikkeling van 'n sensoriese apparaat wat die reuk optel wat afgeskei word deur vrugtevlieglarwes binne-in besmette vrugte. Maniere gaan ook ontwikkel word om die voorkoms van ontluikende populasies so gou moontlik te rapporteer. Hiervoor word geoutomatiseerde, intydse vangmetodes ontwikkel. Rekenaar- en sagtewareprogramme wat data oor populasies gebruik sal ontwikkel word om effektiewe biologiese beheerprogramme en vinnige responsstrategieë te ondersteun.

“Baie van hierdie projekte maak staat op inligting oor die spesies se spesifieke fisiologie, verspreiding en vermoë om verskillende omgewingstressors te weerstaan. Ons span by die Universiteit Stellenbosch sal 'n belangrike rol speel deur hierdie soort inligting te help insamel. Ons sal studies doen op bestaande populasies wat in Suider-Afrika voorkom," verduidelik prof John Terblanche van die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie. “Danksy ruim befondsing van die Europese Unie sal daar baie data ingesamel word. Ons Europese kollegas sal dit gebruik. Dit sal egter ook tot die beskikking wees van ons eie plaaslike vrugte- en groentesektor wat moet planne maak oor hoe om vrugtevlieë te bestuur."

Hy sê dat verskeie US-studente en nadoktorale navorsers tydens gesamentlike werkswinkels opleiding ontvang om te kan help met plaagbestuur binne die landbousektor.  

Die FF-IPM-projek word deur die Europese Unie gefinansier as deel van die Horizon 2020-navorsings- en innovasie-aksieprogram. Dit word deur kundiges aan die Universiteit van Thessalië in Griekeland gekoördineer. Die projekkonsortium bestaan uit 21 navorsingsorganisasies en ander rolspelers uit tien Europese lande, asook Israel, Suid-Afrika, China, Australië en die VSA.

Vanuit Suid-Afrikaanse geledere is navorsers van die Universiteit Stellenbosch se Departement Bewaringsekologie en Entomologie en Citrus Research International (CRI) in Nelspruit betrokke. Loodstudies sal in agt verskillende lande, insluitend Suid-Afrika, uitgevoer word.

De US se navorsingspanne sal onder meer betrokke wees by studies om te bepaal wat die minimum en maksimum omgewingstressors (byvoorbeeld in terme van temperatuur en voedselbronne) is wat wat spesifieke vrugtevliegspesies kan weerstaan. Hul vermoë om oor groot afstande te versprei, word ook bestudeer. Daar sal gewerk word aan genetiese profielmetodes waarmee vrugtevliegspesies gedurende lewensfases makliker geïdentifiseer kan word.