Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Minister ontvang SASUF verklaring oor vennootskappe
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 02/11/2019

Die verklaring oor leer-en-onderrig-, navorsing- en innovasie-vennootskappe wat vroeër vanjaar deur die Suid-Afrika-Swede-Universiteitsforum (SASUF) aanvaar is, is op Vrydag, 1 November 2019 aan die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, dr Blade Nzimande, oorhandig.

Die verklaring is deur prof Hester Klopper, viserektor: Strategie en Internasionalisasie by die Universiteit Stellenbosch (US), en prof Stephanie Burton, visehoof van die Universiteit van Pretoria, by die kantore van die Departement van Wetenskap en Tegnologie op die WNNR-kampus in Pretoria oorhandig.

Die oorhandiging van die verklaring aan die minister volg op ’n resolusie wat in Mei 2019 by die SASUF-leierskapsberaad by die US aanvaar is. Die beraad was ’n samekoms van al die visekanseliers en viserektore van die 36 universiteite in Suid-Afrika en Swede wat op die forum verteenwoordig is. Die doel was om die pad vorentoe uit te stippel en om samewerking in onderig-en-leer, navorsing en innovasie op al die navorsinggebiede wat deel van die agenda van die navorsings- en innovasieseminaar was, verder te versterk.

Die SASUF-leierskap het onder meer besluit om ’n beroep op hul onderskeie regerings te doen om die volgende te implementeer:

● Bevorder en fasiliteer vennootskappe in navorsing en onderrig-en-leer – deur toepaslike befondsing en ’n buigsame befondsingskema vir samewerking tussen Suid-Afrika en Swede.

● Bevorder die buigsame beweging van studente en doktorate – deur die versterking van bestaande befondsingstrukture en deur nuwes te skep waar daar leemtes is.

● Bevorder samewerking wat by die Verenigde Nasies se Agenda 2030 inskakel – deur voorsiening te maak vir samewerking in navorsing en onderrig-en-leer wat spesifiek met die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte verband hou.

● Fasiliteer die ontwikkeling van die volgende generasie akademici – deur die skepping van toekenningsprogramme wat spesifiek op ontluikende navorsers in Suid-Afrika en Swede gerig is.

“Ons samewerking sal innoverende benaderings, oplossings en resultate lewer, en deur samewerking tussen Swede en Suid-Afrika te bevorder, sal ’n wye reeks oplossings verskaf word wat andersins nie moontlik sou gewees het nie,” het dr Nzimande gesê.

Ter nastrewing van sy doelwit om een van Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd ’n impak het, het die Universiteit Stellenbosch op 9 en 10 Mei die tweede Suid-Afrika-Swede-Universiteitsforum (SASUF) Navorsings- en Innovasieseminaar aangebied om saam te val met die SASUF-leierskapsberaad.

Hierdie SASUF Navorsing- en Innovasieseminaar het meer as 450 navorsers en verteenwoordigers van befondsingagentskappe, nywerhede en ministeries van Suid-Afrika en Swede byeengebring om innoverende maniere te ondersoek om uitdagings wat met klimaatsverandering, onderwys, gesondheidstelsels, samelewing, volhoubare verstedeliking en kuberveiligheid verband hou deur navorsing, innovasie en samewerking aan te spreek.

Die seminaar was die hoogtepunt van die Navorsing- en Innovasieweek met altesame 49 verskillende satellietgeleenthede wat gedurende die week van 6–10 Mei regoor Suid-Afrika

plaasgevind het. Dit het ’n forum vir samewerking en uitruil in al die verskillende velde wat vroeër genoem is (gegrond op die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte), geskep in ’n poging om bande in navorsing, onderrig-en-leer en innovasie te versterk.

· Die derde Suid-Afrika-Swede-Navorsing- en Innovasieweek word van 4–8 Mei 2020 in Uppsala, Swede gehou.