Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet die 2019 Voortreflike Onderrig-wenner van FGGW
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 01/11/2019

​Dr Karin Baatjes, 'n dosent by die Universiteit Stellenbosch (US) se Departemente Biomediese en Chirurgiese Wetenskappe, vertel meer oor haar onderrigloopbaan nadat sy as een van die 12 wenners van die US se Toekennings vir Voortreflike Onderrig vir 2019 was.

Sy het met 'n toekenning in die “Ontwikkelende Opvoeder"-kategorie weggestap. Die toekennings, wat in 2017 bekendgestel is, gee erkenning aan US-dosente in twee kategorieë, “Uitgelese Opvoeder" en “Ontwikkelende Opvoeder" en word gegrond op hul ondervinding en leierskap op die gebied van onderrig en leer.

Deelnemers moes 'n portefeulje indien waarin hulle hul denke oor en bewys van vier hoofonderdele uiteensit: konteks, studente, kennis en professionele groei. Hulle moes ook 'n aanduiding gee van die lesse wat hulle op hul reis om uitnemende opvoeders te word, geleer het.

Hoekom het jy onderrig as 'n beroep gekies?

Onderrig is nie my loopbaan nie, maar dit maak 'n integrale deel van my kliniese praktyk as chirurg uit.

Hoe lank is jy al 'n dosent?

Ek gee al vir 19 jaar lank klas.

Wat was van die hoogtepunte in jou loopbaan sover?

Die voltooiing van my MMed- en PhD-graad in Chirurgie staan vir my uit as hoogtepunte.

Wat was van jou grootste loopbaanuitdagings?

Om my akademiese doelwitte na te streef en terselfdertyd my kliniese dienslewering en persoonlike lewe te balanseer.

Waarom het jy vir hierdie toekenning ingeskryf?

Ek het die samestelling van die onderrigportefeulje as 'n geleentheid gesien om oor my onderrigpraktyk na te dink en om insig te kry oor waar ek kan verbeter. 

Wat beteken dit om die Ontwikkelende Opvoeder-toekenning te wen?

Dit is 'n groot eer en is 'n teken dat my eweknieë en seniors al die harde werk erken wat 'n mens insit om studente en gesondheidsorg te help verbeter.

Watter invloed sal hierdie toekenning op jou onderrigloopbaan vorentoe hê?

Die toekenning dien as 'n hupstoot om my groei en ontwikkeling in die opvoedkundige sfeer te bevorder.

Wanneer jy nie besig is om klas te gee nie, waarmee hou jy jouself besig?

Ek bring tyd saam met my gesin deur en ek is 'n sosiale drawwer.

Wat hoop jy sal jy vir jou studente kan leer?

Ek wil meer as net teoretiese kennis aan hulle oordra; ek hoop om deur my gedrag aan studente 'n voorbeeld te stel van hoe iemand in die mediese professie moet optree en hulself moet handhaaf.

Waar sien jy jouself oor die volgende vyf jaar?

Ek hoop om oor die volgende vyf jaar 'n goedfunksionerende afdeling te vestig en om uitbreiding te sien rakende die kapasiteit van die span asook nuwe navorsingsondernemings.

*Bogenoemde kandidaat sal haar toekenning by 'n prysuitdelinggeleentheid aan die einde van die vierde kwartaal ontvang.

Vir verdere inligting oor die Toekennings vir Voortreflike Onderrig, skakel dr Karin Cattell-Holden by 021 808 3074 of stuur 'n e-pos na kcattell@sun.ac.za.