Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente put inspirasie uit leiers se lewensreise
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 01/11/2019

Studente van die Universiteit Stellenbosch (US) was aan die ontvangkant van die advies en ervaring van prominente US- en bedryfsleiers tydens 'n onlangse geleentheid wat deur die Fakulteit Ekonomiese Bestuur en Wetenskappe se OPTIMUS-program gereël is.

Die OPTIMUS-program is die inisiatief van prof Ronel du Preez, Vise-dekaan: Onderrig, en is in 2016 bekend gestel. Sedertdien voorsien dit 30 tot 35 toppresteerders in hul tweede jaar van akademiese verrykings-, leierskaps- en professionele ontwikkelingsgeleenthede oor 'n tweejaar-tydperk.

Vanjaar het die program sy aktiwiteite afgesluit met 'n Ontmoet 'n Leier-aand, waar leiers genooi is om hul professionele en lewensreise met die OPTIMUS-studente te deel.

Dr Sharon Malan, koördineerder van die OPTIMUS-program, het gesê: "Die idee (van die geleentheid) was om hierdie jong studente aan leiers en bewerkers van verandering bloot te stel in die hoop dat hulle by sulke mense kan leer en inspirasie uit hul lewensreise kan put."

Die leiers wat hul verhale gedeel het, was prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe; mnr Ian Visagie, uitvoerende hoof: Sanlam Persoonlike Finansies; me Heleen Mills, hoof van die digitale bemarkingsonderneming Digital; en prof Stan du Plessis, makro-ekonoom en bedryfshoof aan die US.

Die sprekers se verhale was uiteenlopend en het prof. Woolard se ernstige vermaning ingesluit dat toekomstige loopbaanroete nie 'n tradisionele leer is nie, maar 'n oerwoudgimnasium, asook prof Du Plessis se raad om altyd erkenning aan mense te gee terwyl jy jou doelwitte najaag en veranderinge bewerkstellig. Mills het die belangrikheid van e-pos-etiket benadruk en gesê dat 'n persoonlike telefoonoproep dikwels beter as e-pos is, terwyl Visagie 'n holistiese benadering tot gesondheid aanbeveel het. Hy het ook die belangrikheid van genoeg slaap beklemtoon.

Aimee McShane, 'n tweedejaarstudent in BCom (Ekonomiese Wetenskappe), het gesê die leiers se verhale het haar geïnspireer.

"Wat uitstaan, is dat elkeen van die sprekers eens op 'n tyd in dieselfde posisie was waarin ek myself tans bevind – dié van 'n verwarde twintigjarige wat onseker is oor wat die lewe vir haar inhou – en tog is hulle almal nou suksesvolle leiers."

Sy het gesê dat prof Woolard se verhaal oor hoe sy deur 'n verskeidenheid stresvolle posisies moes werk voordat sy uiteindelik 'n topposisie aan die Universiteit Stellenbosch gekry het, haar hoop vir die toekoms gegee het.

“Ek het my toekoms gesien as 'n onheilspellende storm net anderkant die horison. Na hierdie geleentheid sien ek my toekoms as 'n reis met geen bepaalde bestemming nie. Ek vind dit nie meer intimiderend nie; inteendeel, ek beskou dit as opwindend," het McShane gesê.

Nog 'n deelnemer, Rynhard de Bruyn, 'n BCom (Internasionale Besigheid) tweedejaarstudent, het gesê hy was veral getref deur prof Du Plessis se raad dat 'n mens die mensdom moet erken in diegene met wie jy interaksie het terwyl jy jou doelwitte nastreef.

“Ook sy leiding oor hoe om die magdom geleenthede wat 'n mens se pad kruis, te herken en te benut, het my 'n idee gegee van hoe ek te werk moet gaan om my eie ambisies te verwesenlik," sê De Bruyn.

Willem Strydom, 'n klasmaat van Rynhard de Bruyn, was ook deur prof Du Plessis se verhaal geïnspireer.

“Die internasionale blootstelling wat hy ervaar het, weerspieël my eie lewensdoelwitte. Om te hoor hoe hy uitdagings aangepak en geleenthede benut het, het my regtig geïnspireer.

“Ek het dit veral waardeer dat hy nie net oor sy sukses gepraat het nie, maar ook oor sy mislukkings. Ek dink dis 'n baie treffende manier om advies te gee, want dit bied ons die kans om uit sy foute te leer," sê Strydom.

Die huidige OPTIMUS-program word aan die einde van die eerste kwartaal in 2020 met 'n sertifikaatplegtigheid afgesluit.

'n Nuwe groep tweedejaarstudente sal gedurende die tweede week van die eerste kwartaal in 2020 met 'n hersiene weergawe van die program begin.​

  • Foto deur Anton Jordaan: OPTIMUS-studente met prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe; prof Ronel du Preez, visedekaan: leer en onderrig;  OPTIMUS-programkoördineerder dr Sharon Malan; me Heleen Mills van Digital; mnr Ian Visagie van Sanlam; en prof Stan du Plessis, US se uitvoerende hoof.