Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geskik-vir-doel Huis ten Bosch heropen in 2021
Outeur: Corporate Communication Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 29/10/2019

Die herstel en opgradering aan die Universiteit Stellenbosch se Huis ten Bosch wat vroeër vanjaar in 'n brand beskadig is, sal die koshuis in 'n moderne, geskik-vir-doel blyplek omskep. Die koshuis sal weer in 2021 oopgestel kan word.

Aanvanklik is gehoop dat die herbouing betyds voltooi sou word vir studente om vanaf Januarie 2020 die koshuis te betrek. Dit sal egter nie moontlik wees nie, aangesien brandkomparte-mentalisering en brandalarms 'n voorvereiste van die Stellenbosse Brandweer is vir die uitreiking van 'n post-brand veiligheidsertifikaat. Die implementering van hierdie vereistes gaan langer neem as wat aanvanklik voorsien is.

Die herstel- en bouwerk aan die koshuis het aan die begin van September 2019 begin. Die opgraderings en herstelwerk ten bedrae van sowat R62,5 miljoen, sal verseker dat Huis ten Bosch nie net aan die jongste munisipale regulasies voldoen nie, maar ook toegerus word met moderne kombuisies vir studente op elke vloer, opgegradeerde elektriese en elektroniese toerusting, 'n nuwe IT-veselkabel en hul eie waterverbinding is van die talle beplande verbeterings. Die hele dak sal met 'n brandweerstandige plafon en dak vervang word. Twee-uur-brandweerstandige deure sal in al die kamers aangebring word, wat sal help om brandsones te kompartementaliseer.

HtB-inwoners is by 'n onlangse vergadering ingelig dat die groot opknapping en herbouing na verwagting teen 23 Oktober 2020 voltooi wees. Gevolglik moes alternatiewe verblyfreëlings vir HtB-studente vir 2020 getref word. Die studente en hul ouers/voogde is ook skriftelik daaroor ingelig.

Die Universiteit het die volgende vyf verblyfplekke vir 2020 aan Huis ten Bosch-studente beskikbaar gestel:

  • Huis ten Bosch 2020: Dit sal as 'n aparte gebou met 'n aparte ingang tussen Huis Marais en Dagbreek funksioneer en kan 73 studente huisves. Kombuisies, beperkte parkering en US-internetdienste sal beskikbaar wees en etebesprekings en wasgoed sal volgens die normale koshuisreëlings geskied.  
  • Victoria 69: Hierdie perseel is in Victoriastraat net onder die Irene-koshuis geleë en het drie enkel- en twee dubbelkamers beskikbaar. Skoonmaakdienste, sekuriteit, parkering en Wi-Fi is beskikbaar.
  • Armentum: Hierdie perseel, wat naby die Helshoogte Spar by Cluverweg 23 geleë is, bied verblyf aan 18 studente. Dit is sowat 10–15 minute se stap van die kampus. Ongelukkig is hier geen Maties Wi-Fi beskikbaar nie, maar elke student sal tien gigagrepe gratis data per maand ontvang. Die perseel beskik oor algemene sitkamers en kombuisies, skoonmaakdienste, wasgeriewe en goeie sekuriteit en parkering.
  • Ander US-koshuise: Dertig plekke is in ander US-koshuise beskikbaar: Sonop, Lydia, Monica, Minerva, Harmonie, Irene, Heemstede, Erica, Nemesia, Serruria, Nerina en Metanoia (vroue). Hoewel die HtB-inwoners in hierdie koshuise sal woon, sal hulle deel bly van die Huis ten Bosch-gemeenskap. 'n Ontspanningsaal in een van die ander vrouekoshuise asook 'n eetsaal in hul oorspronklike kluster sal aan die HtB-gemeenskap beskikbaar gestel word.
  • Studente wat verkies om permanent na 'n ander koshuis te verskuif, is versoek om met die plasingskantoor in verbinding te tree.

 

Studente is aangeraai om die Universiteit se webwerf, veral die toegewyde HtB-bladsy, asook sosialemediaplatforms dop te hou vir verdere verwikkelinge. Ouers en voogde met dringende navrae word genooi om met mnr Grant Williams by die Sentrum vir Studentegemeenskappe te skakel: tel +27 21 808 3064 of per e-pos aan ssg@sun.ac.za.