Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Boek bied bloudruk vir stryd teen korrupsie
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 29/10/2019

​'n Boek oor korrupsie in Afrika, waarvan die visedekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof Pregala Pillay, die mederedakteur is, is vroeër vandeesmaand deur Cambridge Scholars Publishing gepubliseer.

Die ander redakteurs van die boek, A Multidimensional Perspective on Corruption in Africa: Wealth, Power, Religion and Democracy, is navorsingsgenoot prof Sunday Bobai Agang, en hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap, dr Chris Jones, albei van US se Fakulteit Teologie.

Pillay is 'n hoogleraar by die fakulteit se Skool vir Publieke Leierskap en direkteur van die Sentrum vir Opvoeding en Navorsing teen Korrupsie by die Universiteit Stellenbosch (ACCERUS).

Deur middel van historiese en kontemporêre perspektiewe op gesagstrukture, geïnstitusionaliseerde mites en gesagsrituele ondersoek die boek hoe burgers se gedrag en houdings teenoor verantwoordbaarheid, deursigtigheid en eerlikheid korrek gemobiliseer en beïnvloed kan word. Dit is ten einde integriteit, billikheid en volhoubare ontwikkeling in Afrika te sterk. Die boek pleit ten sterkste dat korrupsie almal se saak is.

Al die hoofstukke verwys op die een of ander manier na die 2018-bekendstelling van die Afrika-unie se teenkorrupsie-jaar deur middel van vrae oor die metodes waarop ongelykheid en armoede in Afrika uitgewis kan word.

Deur haar werk met ACCERUS dra Pillay by tot die diskoers oor korrupsie met innoverende navorsing, teenkorrupsie-inisiatiewe en die herstrukturering van bestaande beleid.

Sy sê die boek, waarvoor sy met vooraanstaande akademici en navorsers saamgewerk het, bied 'n geleentheid om die US se toegang tot nuwe kennismarkte te vergroot.

"Ons publikasie is gegrond op die oortuiging dat 'n enkele en unieke benadering tot 'n suksesvolle bloudruk vir die stryd teen korrupsie heel onwaarskynik is," sê Pillay. “Ons is op soek na benaderings wat bestaande teenkorrupsie-metodes kan ondersteun en strategies daartoe kan bydra, want ons glo ons navorsing lei tot nuwe begrip en meer omvattende resultate."

Jones het uitgebrei oor die stelling van die boek dat korrupsie almal se saak is.

“Openbare kommentators kritiseer dikwels politici, entrepreneurs, geestelikes en die staat weens hul gebrek aan openbare eerlikheid en aanspreeklikheid wat aanleiding gee tot korrupsie en straffeloosheid. Maar die omvang van openbare deursigtigheid en eerlikheid kan egter nie tot openbare bestuur beperk word.

“Daar is dus 'n behoefte om ondersoek in te stel oor hoe godsdienstige en ander sektore met politici in Afrika omgaan, en om metodes te ontwikkel om deursigtigheid, verantwoordbaarheid en eerlikheid te handhaaf in die soeke na billike ekonomiese en sosio-politieke transformasie wat sal probeer om korrupsie en armoede op ons vasteland uit te wis," het hy gesê.

Die skrywers hoop dat die boek openbare, private, godsdienstige en burgerlike instellings in Afrika, asook die betrokke belanghebbendes, sal motiveer om 'n gemeenskaplike platform te skep vir eerlikheid en integriteit om korrupsie, straffeloosheid en hopelik armoede, te vernietig.