Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Om die reg verder te vat
Outeur: Afdeling Navorsingsontwikkeling, Division for Research Development
Gepubliseer: 28/10/2019

Eiendomsregkenner prof Zsa-Zsa Boggenpoel staan dikwels verstom oor presies hoe maklik Suid-Afrika se veelgeroemde, progressiewe konstitusionele ideale en wette sommerso geïgnoreer word. Dit pla haar dat die stemme van kwesbare, gemarginaliseerde mense in die proses nie gehoor word nie, en dat hul regte verwater word. Sy weet ook dat mense baie keer nie die vaagste benul het van al die regsmasjinerie wat tot hul beskikking is nie.

Prof Boggenpoel sal op 30 Oktober om 13:00 die volgende lesing in die Forward with Research Impact-reeks van die Afdeling Navorsingsontwikkeling lewer. Dit vind plaas in die Universiteitsmuseum. Sy sal besin oor spesifieke voorbeelde waarin Suid-Afrikaanse owerhede en die regstelsel haweloses se hul basiese reg tot verblyf en privaatheid hanteer het.

“Ons sien gereeld hoe die wet een ding sê, maar in werklikheid ver verwyder staan van wat op voetsoolvlak gebeur,” verduidelik Boggenpoel, sedert 2018 'n professor in publieke regte aan die Universiteit Stellenbosch en bekleër van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Eiendomsreg. “Daar is ‘n toenemende behoefte om hierdie gaping sinvol te oorbrug.”

Haar Leerstoel het onlangs insette gelewer in 'n boekie oor wat mense se regte is ten tyde van uitsettings. In September is daar ook ‘n werkswinkel aangebied waarin besin is oor die implikasies van die Adviespaneel oor Grondhervorming en Landbou se 2019 verslag aan die Suid-Afrikaanse President. Hieromtrent meen Boggenpoel dat die land se wette nog nie genoegsaam toelaat dat alle fasette van die landhervormingsdebat in Suid-Afrika opgelos kan word nie. Vergoeding in gevalle van onteiening is 'n saak waaroor sy al byvoorbeeld reeds in 2012 in die South African Law Journal geskryf het.

Haar nagraadse studente fokus hul aandag op hoe eiendomswette ingevolge Artikel 25 van die Suid-Afrikaanse Grondwet op grondvlak en binne gemeenskappe afspeel. So besin een student oor die minimum standaarde wat mense volgens wet op aanspraak kan maak wanneer behuising aan hulle voorsien word. 'n Ander student oorweeg weer of inwoners genoegsaam geraadpleeg word wanneer informele nedersettings hervestig word.

Vir Boggenpoel heg meer waarde daarin om te besin oor hoe die wet kán wees, eerder as om bloot net dit dink oor wat dit tans is. “Regsbeginsels is nie so rigied soos baie mense dink nie. Ons sien daagliks hoe howe dit buig. Ons het nuwe maniere nodig om Suid-Afrika se probleme op te los. ”

Daarom glo sy dat baie van die land se probleme en spanningsituasies opgelos kan word deur 'n meer progressiewe lees van die wet.

“Dis my passie om dit te probeer ontsluit. Ek dink aan maniere waarop ons byvoorbeeld meer progressief kan wees sodat ons gemarginaliseerde groepe kan beskerm. Ek wil moontlikhede ontsluit wat nog nie voorheen oorweeg is nie. Die wet het die potensiaal om dit te doen, maar ons moet meer kreatief wees in die manier waarop ons dinge beskou.”

Een van haar nagraadse studente het onlangs 'n blog-artikel oor Boggenpoel geskryf. Daarin word sy beskryf as 'n “merkwaardige voorbeeld van die moderne juris” wat die status quo op 'n verantwoordelike manier uitdaag en slegs in debat tree na behoorlike bestudering van die wet en feite. Die artikel prys haar as iemand wat juis buite die kassie kan dink, en die moed het om haar mening te deel wanneer dit nodig is.

Op grond van haar CV en selfs haar Twitter-profiel sou mens maklik die indruk kon kry dat die regstelsel al is waarvoor Boggenpoel leef. Foto's in haar kantoor met sy houtvloere gee egter ‘n kykie in ‘n ander belangrike aspek van haar lewe: dié van werkende moeder.

Boggenpoel, een van die jongste professore in diens van die US, het haar intreerede verlede jaar op die ouderdom van 32 jaar gelewer. ‘n Paar maande later het sy en haar man, Blake, vir die tweede keer die ouers van ‘n seun geword. Dit beteken dat sy met min slaap agter die blad baie balle in die lug moet hou – van nagraadse studieleiding en die skryf van ‘n regsmening oor kwessies tot kosblikke pak en soek na verlore speelgoed!

Ten spyte van die uitdagings is dit vir haar belangrik om ‘n betrokke ma te wees. ‘n Bonus van moederskap is dat dit haar geleer het om soms net af te skakel, en die vryheid van sogenaamde “niks doen” te geniet. Om haar skootrekenaar toe te maak, en net langs haar vierjarige te sit terwyl hy 'n 16-stuk legkaart bou. Dis ‘n seldsame ervaring in ‘n lewe wat sover andersins gekenmerk is deur doelgerigte werksverrigting, prestasies en uitnemendheid.

Hierdie Y-geëvalueerde akademikus was in 1992 hoofmeisie van Hoërskool Hermanus, het in die 2000’s vir Boland se senior span netbal gespeel en is selfs op ‘n stadium vir die Suid-Afrikaanse Protea-groep oorweeg. Haar meestersgraad oor die verpligte oordrag van eienaarskap in gevalle waar bouregulasies oorskry word was van so ‘n hoë standaard dat dit na ‘n doktorale proefskrif opgegradeer is. Dié het sy op 26-jarige leeftyd van die Universiteit Stellenbosch ontvang. ‘n Beurs het nagraadse studies aan die Universiteit van Oxford toegelaat. Sy is 'n lid van die Young Property Lawyers Forum (YPLF) en skryf oor eiendomsaangeleenthede vir die Juta Quarterly Review. In 2015 is haar hoë werksverrigting vereer met twee toekennings van die Universiteit Stellenbosch.

Boggenpoel erken dat sy iemand is wat “energie kry uit besig wees”. Haar dryfkrag is ‘n gevolg van haar grootwordjare in Mount Pleasant in Hermanus. Haar ouers het geskei toe sy net nege jaar oud was. Daarna het haar ma, wat in ‘n kruidenierswarewinkel gewerk het, vir Boggenpoel en haar ouer suster alleen grootgemaak. Boggenpoel is eintlik die jongste van drie kinders. Haar ouer broer was nog bitter jonk toe hy aan breinvliesontsteking oorlede is. Boggenpoel het grootgeword met die versugting om die lewe net so maklik as moontlik vir haar steeds treurende moeder te maak. Daarom het sy al haar haar energie in die ontwikkeling van haar talente gestort, en om waar moontlik beurse te kan bekom.

Haar plan was eintlik om na skool ‘n rekenmeester te word, maar langs die pad het die regte gewen. Sy het in dié professie begin studeer met die idee dat dit minstens vir haar en haar geliefdes ‘n gemaklike lewe sou kon help verseker. ‘n Professorskap was nooit eens ‘n oorweging in haar eerste studiejare nie, maar terugskouend gesien pas dit haar soos ‘n handskoen.

Haar toetrede tot die akademiese wêreld het grotendeels gebeur danksy die invloed en wysheid van haar mentor en voorganger as bekleër van die Leerstoel vir Eiendomsreg. Prof Andre van der Walt is allerweë beskoku as een van die grootste regsgesindes in Suid-Afrika én internasionaal, en is in 2016 oorlede. Sy begrafnisbrief, wat Boggenpoel steeds langs haar rekenaar hou, dien as inspirasie in moeilike tye.

“Andre het dinge net op 'n heel ander vlak gesien. Ek wonder soms hoe hy destyds so ver in die toekoms kon sien, in terme van hoe dinge tans ontwikkel. As ek menings lees wat hy in 1990 of 1989 geskryf het, staan ek net verwonderd oor hoe relevant dit nou nog is om dinge op te los,” verduidelik sy met duidelike deernis.

“Ons het lang gesprekke gehad oor hoe mens anders moet dink, en hoe mens nie afgesit moet word deur iets wat op die eerste oogopslag rigied lyk nie. Ek dink dit hang af van wat jy wil sien. Mens moet jouself regtig toelaat om te kan luister. Ons hoor nie ander nie. Ons besluit te dikwels sommer vooraf al wat ander mense wil hê.”

Van der Walt se invloed is duidelik, maar Boegenpoel is beslis nie sy kloon nie. Daarvoor het sy te veel besliste idees oor hoe die Leerstoel se werksaamhede daaruit moet sien. Oor een ding is sy egter seker: dat sy, net soos Van der Walt, deur haar begeleiding en intensiewe opleiding van nagraadse studente wil help vorm en ontwikkel aan toekomstige regslui.