Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale kennis-uitruil baat maatskaplike werk studente in SA en elders
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 25/10/2019

In die Departement Maatskaplike Werk aan die Universiteit Stellenbosch (US) het internasionale kennis-uitruilgeleenthede 'n belangrik aspek geword van die onderrig en leer-aanbod.

Baie maatskaplike werk-studente en akademici van oorsee het die Departement Maatskaplike Werk, gebaseer in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, die afgelope paar maande besoek. Dit het aan besoekers en US-studente 'n breër begrip gegee van maatskaplike werk in 'n globale konteks. 

“Jy verstaan slegs die globale impak op jou mikro-omgewing wanneer jy kontak het met maatskaplike werkers van buite Suid-Afrika. Dit is moeilik vir ons studente om die impak van globalisering op sosiale werk regtig te verstaan as hulle nie blootgestel word aan globale ondervindings nie. Deur hierdie ondervindings is hulle in staat om verder te kyk as die kind wat in die straat bedel vir geld op daardie oomblik, maar die breër impak van maatskaplike werk op die gemeenskap en die globale neo-liberale diskoers oor maatskaplike welsyn te verstaan. Dit is baie belangrik," sê prof Lambert Engelbrecht, voorsitter van die Departement Maatskaplike Werk.

“Hierdie soort programme is ook belangrik vir ons departement aangesien dit ons help om verder te dink as die navorsing wat ons doen en te kyk na die impak van kennis-uitruiling tussen ons studente wat uit verskillende omgewings kom. Maatskaplike werk kan baie kontekstueel wees, maar parallelle kan steeds getrek word tussen verskille lande. Om te leer uit ander kontekste help jou om 'n selfs groter rol in Suid-Afrika te speel, bo dié van maatskaplike werker, en om die rol wat maatskaplike werkers kan speel om maatskaplike welsyn-beleid te beïnvloed, tot voordeel van die gebruikers van maatskaplike werkdienste wêreldwyd, te verstaan."

Een so 'n besoek het vroeër vanjaar plaasgevind toe 'n groep studente van die University of Southern California (USC) die departement besoek het as deel van hul “Global Immersion" program wat fokus op die ontwerp, ontwikkeling, ontplooiing en skaal van maatskaplike werk-innovasies in Suid-Afrika.

Die 25 studente wat 'n Meestersgraad in Maatskaplike Werk aan USC se Suzanne Dworak-Peck Skool van Maatskaplike Werk behaal het, is onthaal deur die US departement. Hulle was vergesel van prof Renée Smith-Maddox, 'n Kliniese Professor en Diversiteit-skakelpersoon aan die Skool, en prof Stacy Kratz, 'n Kliniese Assistent-professor in die Virtuele Akademiese Sentrum by USC.

Hul besoek het saamgeval met die departement se viering van Wêreld Maatskaplike Werk Dag in Maart vanjaar. By die US word die dag jaarlikse deur die Departement  Maatskaplike Werk gevier met interessante seminare aangebied deur akademiese leiers in die maatskaplike werk-veld. Die tema vir 2019 fokus op die Bevordering van die Belangrikheid van Menslike Verhoudings.

Volgens Smith-Maddox is Suid-Afrika gekies as die ligging vir USC se Dworak-Peck Skool van Maatskaplike werk se “Global Immersion" program om verskeie redes.

“Dit was 'n geleentheid om ontluikende maatskaplike werkers van die skool se “Global Immersion" ondervinding na SA te neem en hulle betrokke te maak by gespesialiseerde nagraadse studie vir hul maatskaplike werk-praktyk en die studente bloot te stel aan die historiese en sosio-politieke konteks van SA, sy tendense in maatskaplike innovasie, en hoe gemeenskap-belanghebbers 'n rol speel in hul eie bemagtiging. Ons wou ook 'n vergelykende analise doen van die maatskaplike welsyn-stelsel en die rol van maatskaplike werkers in Suid-Afrika en die VSA," sê Smith-Maddox.

Die groep, volgens Smith-Maddox, het ook die geleentheid gekry om meer te leer van die diens-ondervinding van Suid-Afrikaanse maatskaplike werkers en die geleenthede wat hul eweknieë het vir voorspraak-werk, gemeenskapsbetrokkenheid en maatskaplike innovasie.

“Gesamentlik het USC se maatskaplike werk-studente, dr Kratz en ek die geleentheid gekry om te leer van 'n wonderlike groep mense terwyl ons onsself verdiep het in 'n nuwe kulturele konteks. Gekombineer met die diverse individue en groepe wat ons ontmoet het, mee interaksie gehad het en in diepte geskakel het, was dit lewensveranderend vir ons almal. Deur ons interaksie en observasies was ons in staat om ons vlak van bewustheid te verhoog van hoe maatskaplike probleme sowel as die oplossings daarvan wêreldwyd verbind is," het sy bygevoeg.

Kratz het gesê dat met sowel USC en die US se Departement Maatskaplike Werk wat fokus op die “opvoeding en opleiding" van studente om die mees komplekse probleme van die dag op te los, het die besoek aan Suid-Afrika as deel van hul “Global Immersion" program die USC studente genoop om hul “huidige denkprosesse, veral in terme van die inherente spanning tussen insluiting en uitsluiting, uit te daag".

“Hierdie studente is wêreldburgers: leiers en innoveerders wat hul probleemoplossing en analitiese vermoëns verhoog het, hul verdraagsaamheid van dubbelsinnigheid, en hul respek vir empatie uitgebrei het."

Sy voeg by: “Die ontwerp en implementering van die USC “Global Immersion" met dr Smith-Maddox en die samestelling van die Stellenbosse uitdaging met dr Engelbrecht het my geloof in die kritiese belang van die bou van verhoudings met maatskaplike werkers van ander lande en kulture verhoog."

“Hierdie onderdompeling het ons toegelaat om die dapper ruimte te verskaf vir sinvolle dialoog oor hoe hierdie komplekse en veelkantige fenomeen gemeenskappe en individue raak. Die Stellenbosse ondervinding sal voortleef met langtermyn- en lewenslange voordeel vir al die studente, en die mense wat hulle uiteindelik sal dien."

Die terugvoer van die USC studente wat deelgeneem het aan die program dui aan dat hulle dit ook voordelig gevind het.

VolgensLisa Liberatore was een van die hoofredes hoekom sy aansoek gedoen het vir die Suid-Afrikaanse “Global Immersion" program was “om te leer hoe maatskaplike werk-praktyke gekontekstualiseer is en in die praktyk buite die Verenigde State werk". Kaapstad, sê sy, het die ideale geleentheid gebied om dit te doen.

“Dit het my bewustheid verhoog toe ek sien hoe maatskaplike werk-pedagogie en professionele praktyke steeds nie kolonisering aanspreek nie en die impak wat dit het op inheemse swart en bruin gemeenskappe wêreldwyd, maar veral hoe in die Verenigde State dit dikwels ontwyk en geïgnoreer word om verdraagsaamheid toe te laat teenoor kognitiewe dissonansie van individue wat nie werklik hul eie bevoorregting verstaan of hoe dit hul lewens geraak het nie, baie daarvan in die veld van maatskaplike werk."

Liberatore het gesê dat die besoek ook aan haar “die geleentheid vir leer deur ervaring van etiese, effektiewe gemeenskapsontwikkeling-praktyke in die unieke historiese en sosiopolitieke konteks van Suid-Afrika" gebied het.

“Deur die onderdompeling-geleentheid het ek gehoop om makro-strategieë en praktyke van maatskaplike werk in Suid-Afrika en die impak van sistemies-gewortelde marginalisering en voortgesette armoede te bestudeer ten einde beter te verstaan hoe ek meer innoverende en effektiewe benaderings kan vind vir hierdie uitdagings in die VSA by my terugkeer."

By die aanhoor van die kennis en ondervinding gedeel deur US studente, akademici en praktiserende maatskaplike werkers het dit volgens Liberatore duidelik geword dat “om pasgemaakte oplossings van bo af te dwing op sistemiese, verskanste maatskaplike probleme nie effektief is nie".

“Die basis van maatskaplike verandering is eerder om mense te bemagtig om agente van hul eie verandering te word. Die rol van maatskaplike werkers is om betekenisvolle, haalbare verandering deur gemeenskapsontwikkeling te skep en mense te bemagtig deur gelokaliseerde inisiatiewe van onder af wat hul insette in alle stadiums van ontwerp en implementering betrek."

Medestudent Tiffany (Tea) Dang het gevind dat, “ten spyte van die omgewing-verskille" tussen die twee lande, sommige kwessies wat die VSA en Suid-Afrika in die gesig staar, nogal soortgelyk is.

“Die menslike ondervinding van armoede, onderdrukking en ongelykheid is universeel. Hierdie onderdompeling het ons 'n platform gegee om meer op samewerking te fokus en dit uit te leef; om te leer uit ander se ondervindings en dit toe te pas in ons eie gemeenskappe," sê Dang.

Foto: 'n Groep van 25 studente wat onlangs 'n Meestersgraad in Maatskaplike Werk behaal het aan die University of Southern California (USC) se Suzanne Dworak-Peck Skool vir Maatskaplike Werk het die Departement Maatskaplike Werk aan die Universiteit Stellenbosch besoek as deel van 'n “Global Immersion" program wat deel vorm van hul studies. (Anton Jordaan, SSFD)