Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nondumiso vasbeslote om jonges te help
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 22/10/2019

​Nondumisa Phenyane hoop om deur haar werk by die Universiteit Stellenbosch (US) 'n invloed op die lewens van talle jongmense te hê.

Gedurende haar grootwordjare in die stowwerige strate van Kwa Debeka in Kwazulu-Natal, sou Nondumisa nooit kon droom dat haar lewe sou uitdraai soos wat dit vandag is nie.

Die 28-jarige, wat vir haar bydrae tot die regsberoep vereer is en gevierd is as een van die Universiteit Stellenbosch (US) se jongste swart dosente in die Fakulteit Regsgeleerdheid, sê haar doelwit is om tot transformasie by die instelling by te dra.

Nondumiso skroom nie om haar haar passie vir die jeug, geregtigheid en gelykheid te beklemtoon nie en sê: “Ons verwag dikwels van jongmense in stedelike gebied om goeie besluite te neem, maar ons dink selde na oor hoe moeilik dit moet wees om dit te doen terwyl jy deur gebrokenheid omring word. Ek hoop om deur my werk as 'n akademikus en sakepersoon jongmense in stedelike townships te bemagtig en op te hef.

“As 'n akademikus aan die US wil ek tot die transformasie van 'n oorheersend wit bedryf bydra en ek glo jong swart studente wil graag mense wat soos hulle lyk, in die lesingsale sien."

Nondumiso doseer Bewysreg en Handelsreg en sy dra ook die verantwoordelik van sameroeper vir die Bewysregkursus in die fakulteit. Sy het reeds 'n B-graad in Sosiale Wetenskappe en 'n nagraadse LLB-graad en LLM behaal​. Sy is ook as een van Mail & Guardian se 2019 Jong Suid-Afrikaners in die opvoedingkategorie aangewys.

“Om op die lys te wees, is 'n bevestiging dat ek iets reg doen en dat ek op die regte pad is," sê die jong dosent.

Nondumiso vertel graag die storie hoe sy die verlies van haar ma as dertien-jarige dogtertjie moes verwerk. “Die lewe was nie altyd maklik vir my en my suster nie. Ons het baie rondgetrek totdat sy haar stryd teen HIV/Vigs verloor het.

“Nadat my ma oorlede is, het ons by ons ouma en tannie aan moederskant gaan woon en hulle het verseker dat ons 'normaal' grootword. Die skuif na my ouma se huis het ons die vryheid gegee om kind te wees. Ons het gespeel, het groot drome gedroom en die belangrikste was dat ons mense gehad het wat saam met ons in hierdie drome geglo het," sê sy.

Voordat Nondumiso by die US begin werk het, het sy as 'n regsnavorser by die Appèlhof in Bloemfontein gewerk. Gedurende haar tyd daar het sy veral op regsnavorsing vir die appèlhofregters gefokus en het sy n sleutelrol in die administrasie van justisie gespeel. 

Nondumiso hoop om breedvoerig oor die toegang tot geregtigheid te publiseer en om uiteindelik 'n professorskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal.

“Toegang tot geregtigheid is die vermoë om 'n regsmiddel deur formele of informele regsinstellings te soek in ooreenstemming met menseregtestandaarde." Nondumiso sê haar navorsingsbelangstelling is van kritiese belang aangesien tradisionele middele tot geregtigheid of stadig of baie duur is, veral vir Suid-Afrikaners wat in townships bly.

“Ek hoop my werk op hierdie gebied sal tot die wettiging van informele gemeenskaptribunale lei," voeg sy by.

Nondumiso beplan om oor die volgende paar jaar aan haar Legum Doctor-graad (LLD) te werk.