Om spasie in prof Anton
van Niekerk se boekrakke te vind is so moeilik soos om op Stellenbosch
parkeerplek te wil kry. ‘n Selfs moeiliker taak is om iemand te vind wat neutraal
staan teenoor dié filosoof en kenner oor bioetiese kwessies se boeke, skrywes
en praatjies wat wyd strek - van MIV, rassisme en die rol van universiteite tot
die sterwensproses, genadedood, taalkwessies en die betaling van tolgeld.
Die Vierde Industriële
Rewolusie is sy tema as deel van die Afdeling Navorsingsontwikkeling se Forward
with Research Impact-lesingreeks, op Woensdag 23 Oktober om 13:00 in die Ou
Hoofgebou. Hy gaan die medies-etiese implikasies bespreek agter die strewe om met
tegnologie, robotika en bioniese ontwikkelings mense se funksionering,
lewensverwagting en -kwaliteit te verbeter.
Sy reikwydte as ‘n
nasionale én internasionale beredeneerder van idees en konsepte strek meer as
vyftig jaar terug na sy skooljare. Vandag is hy die enigste oorblywende
akademikus aan die Universiteit Stellenbosch wat reeds in die 1980’s as
professor aangestel is. Onlangs is sy aanstelling as uitgelese professor en
stigtersdirekteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek tot 2023 en die ouderdom
van sewentig jaar verleng.
Die Sentrum fokus op die
etiek rondom biomediese ontwikkelings, die sakewêreld, die omgewing en deesdae
ook sosio-politieke kwessies. Dis in 1990 gestig, en in 1996 is ‘n meestersgraad-
en ‘n doktorale program bygevoeg.
“Dis ‘n aspek van my
loopbaan waaroor ek die beste voel,” sê Van Niekerk oor die 100 studente uit
veral die mediese en sakesektor vir wie hy en sy kollegas sedertdien begelei
het.
“Ons proefbuise is wat jy
hier op die rakke sien. Dis waarmee ons werk,” wys hy na die ry op ry rooi,
blou en groen tesisse wat ‘n trotse plek in sy boekery in sy vol kantoor bo in
die US Lettere en Wysbegeertegebou het.
Voetspore op Stellenbosch
Van Niekerk ag homself
gelukkig om sy lewe in “twee van Suid-Afrika se mooiste dorpe”, Knysna en
Stellenbosch, te kon spandeer. Hy is in 1953 in Brits in Noordwes gebore, die
effense laatlam in ‘n gesin van drie kinders. Teen sy sesde verjaarsdag is sy
bankbestuurder-pa weens gesondheidsredes Knysna toe verplaas. Op sy beurt is
Van Niekerk Junior in sy dertiende jaar in 1967 na Paul Roos Gimnasium op
Stellenbosch verplaas, en so is sy meer as vyf dekades as Stellenbosser ingelui.
By sy Graad 11-jaar se prysuitdeling
het hy ‘n Afrikaanse boek oor invloedryke denkers ontvang, maar min verstaan
van wat hy daarin raakgelees het. In sy matriekjaar het hy ook maar min gesnap van
die 20-blad uiteensetting oor die aard van wetenskap wat prof Hennie Rossouw (sy
latere studieleier en mentor) van die US Departement Filosofie aan Paul Roos se
wetenskapsklub voorgelees het.
“Iets het my wel getickle
daaraan. Ek’t geweet ek behoort daarvan te hou,” onthou Van Niekerk, wat
eers laat in sy matriekjaar afgesien het van sy lank gehuldigde plan om ‘n dokter
te word.
Oor dié ommekeer vertel
die gelegitimeerde proponent van die NG Kerk: “Tipies van wanneer jy 17-jaar
oud is, het ek ‘n religieuse ervaring gehad wat my oortuig het dat ek vir ‘n
predikant moet gaan leer.”
Van sy onderwysers het aangedring
dat hy Filosofie saam met vakke soos Grieks moes neem as deel van die BA-kwalifikasie
wat hom toegang tot die Teologiese Kweekskool sou gee.
“Binne twee klasse was ek
gehook. Gehook. Dit het my volledig omgeboul,” benadruk hy met ‘n
druk-druk van sy wysvinger teen sy lessenaar se werkblad.
Omdat teologiestudente daardie
jare twee graadkursusse gelyktydig kon studeer, het hy in sy eerste Kweekskooljaar
gedissiplineerd ook met honneursstudies in filosofie weggespring. Uiteindelik sou
hy binne ‘n bestek van vyf jaar vyf kwalifikasie behaal – almal cum laude.
Na afloop van sy meestersgraadstudies in 1980 het hy die Kanselliersmedalje as
beste finalejaarstudent aan die US ontvang.
In 1977 is hy ‘n aflospos
in Staatsleer aangebied, ‘n vakgebied waarvan hy niks geweet het nie. Van
Niekerk het klasloop aan die Kweekskool en sy meestersgraadstudies onderbreek.
Hy’t daardie jaar eerder die filosofiese aspekte van Staatsleer en verskillende
politieke ideologieë instudeer, en op sy pligte as primarius van
Eendrag-manskoshuis gefokus.
“Die dosentpos het my
finansieel onafhanklik gemaak, waaroor ek baie dankbaar was,” onthou hy sy
eerste betrekking aan die US.
Terug by die Kweekskool
in 1978 het hy ook Filosofie deeltyds doseer. Die volgende jaar is hy
gelegitimeer en met sy vrou, Amy, getroud. Verpligte weermagdiens het hom ‘n
jaar lank as kapelaan by 2 Militêre Hospitaal in Wynberg geforseer om eenvoudig
die beste van sy ongemak met siek mense te maak. Hy’t besef hy’s self nie ‘n
goeie pastor nie, maar dat mens die basis van teologie goed moet kan verstaan
om siekes of sterwendes sinvol te begelei.
“Dis nie vrae wat jy met
goedjietjies of boekietjies kan beantwoord nie. Dis grondige teologiese vrae
waarmee mense sit. Oor God. Oor die betekenis van lewe en dié soort van goed,”
onderstreep hy sy woorde asof hy dit vanaf ‘n kansel sê.
Die volgende logiese stap
vir dié pasgetroude en latere pa van drie seuns sou bes moontlik die
aanvaarding van ‘n beroep wees, want akademiese poste in filosofie was daardie
jare so skaars soos hoendertande.
“Ek was heeltemal bereid
om in die bediening te gaan, maar nié ten alle koste nié. Daaroor was ek adamant,”
benadruk hy weer.
Die “goeie geleentheid”
waarop hy gehoop het kom toe onverwags in die vorm van ‘n lektoraat in die US
Departement Filosofie.
“Dit het letterlik uit
die lug geval. Ek is nie ‘n ou wat aan metafisiese verklarings glo nie, maar as
dit dan die wil van een of ander mag groter as myself is dan is dit goed, dag
ek toe. En hier is ek steeds,” verduidelik hy.
Filosofie en bioetiek
Saam met dié pos kon hy
in 1981 met sy doktorsgraad oor teologies-filosofiese kwessies begin, en dit
teen 1983 verwerf. Vir 25 jaar lank het hy self vir eerstejaars ‘n semester
lank probeer verduidelik hoe dit nié moontlik is om filosofie in ‘n slim
sêding, perfek vir ‘n plakker of deesdae se memes, op te som nie.
Van Niekerk leun swaar op
sy arms agter stelle reënboogkleurige lêers op sy lessenaar: “Die vraag wat
filosofie is, is self ‘n filosofiese vraag. En jou poging om die vraag te
beantwoord, is sélf ‘n filosofiese oefening in filosofering.”
Hy ag ‘n filosoof se werk
nie as navorsing nie, maar eerder as nadenke: “Denke oor denke. Jy lees. Jy
lees baie. Tweedens dink jy oor wat jy lees. En derdens bespreek jy wat jy
doen, veral met jou doktorale promotor. Vierde skryf jy ‘n samehangende
argument en jy skryf dit op en jy publiseer dit.”
Hy ag Filosofie as een van
die mees teoretiese dog terselfdertyd praktiese dissiplines aan ‘n universiteit.
Die beredenering van konsepte en idees in veral etiek lei dikwels tot veranderende
beleid, of hoe mense hul liggame, wetenskaplike vernuwings, die omgewing en
sakepraktyke benader.
Van Niekerk reken bioetiek,
en besluite oor wat moreel verantwoordbaar is binne die gesondheidswetenskappe,
is beide die oudste én die jongste dissipline in die Westerse kultuur. Dit lê gegrond
in die antieke tyd met Hippokrates se eed aan geneeshere. Dit het momentum na
die Tweede Wêreld se rasgebaseerde mediese eksperimentasie gekry, asook die
1960’s se eerste nierdialises en hartoorplantings. Menseregte het begin seëvier
en strenger navorsingsriglyne oor die gebruik en verwagtinge van mense as
proefkonyne is in plek gestel.
Van Niekerk sien sy spore
as bioetikus in sy sleepvoetende jaar as kapelaan. In die 1980’s is hy na ‘n
besprekingsgroep oor biomediese sake deur een van sy teologieprofessore, prof
Danie du Toit, genooi. Uit dié saamgesels van regsgeleerdes, dokters en
sielkundiges is die Sentrum vir Toegepaste Etiek gebore.
Sy mentor, prof Rossouw,
was toe vise-rektor, het hom destyds “die beste raad ooit” gegee: om die sentrum
se naam vaag te hou, en nie tot biomediese aangeleenthede te beperk nie. Sodoende
is toegelaat dat die werksaamhede daarvan ook ander etiese kwessies kan
insluit, byvoorbeeld uit die sakewêreld.
Openbare intellektueel
“Hennie (Rossouw) het my
‘n klomp dinge oor die akademie en die filosofie geleer,” vertel hy oor sy
mentors se invloede. “Willie Esterhuyse het my oor die lewe geleer, en hoe om as
‘n openbare intellektueel vanuit die Departement te operate.”
Dié funksie lok dikwels
vlymskerp reaksie uit, vir én teen hom. Op ‘n keer het ‘n heethoof hom selfs in
sy kantoor aangerand. Om ‘n sê te sê is taai, maar belangrik, het hy op ‘n keer
in ‘n koerantartikel uitgewy: “Ek neem
dikwels deel aan die openbare gesprek oor aktuele kwessies – nie omdat ek
moedswillig of kontroversieel wil wees nie, maar omdat ek glo dat die oop
gesprek die lewensbloed van ’n gesonde demokrasie is.”