Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SU beplan om Bestuurskool terug te bring na Stellenbosch
Outeur: Operations and Finance
Gepubliseer: 21/10/2019
  • Beplanning vir 'n nuwe Bestuurskool vir die Universiteit Stellenbosch op 'n gedeelte van die Oude Libertas perseel wat Distell aan die Universiteit geskenk het.
  • 'n Florerende en innoverende Universiteit Stellenbosch beplan om 'n unieke samewerkende onderrig- en leerbestemming te skep.

Die Universiteit Stellenbosch (US) beplan om sy wêreldbekende Bestuurskool terug te bring na Stellenbosch waar 'n nuwe tuiste vir die skool geskep gaan word binne 'n unieke samewerkende onderrig- en leerbestemming. Die skool gaan op 'n gedeelte van die Oude Libertas-perseel ontwikkel word.


Die US se Raad het onlangs (25 September 2019) 'n donasie van Distell vir 'n gedeelte van die Oude Libertas-perseel aanvaar. 


“Hierdie donasie toon hoeveel vertroue Distell in ons Universiteit het. Dit is 'n bewys van hul verbintenis tot Stellenbosch se sukses as 'n sentrum vir onderrig en innovering. Die maatskappy deel ook in ons visie om Afrika se voorste navorsings-intensiewe Universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis bevorder in diens van die samelewing," sê prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekansellier. 


Distell sê in 'n verklaring dat hulle graag ondersteuning bied vir inisiatiewe soos hierdie wat die potensiaal het om fundamentele verandering en verbeterde geleenthede op Stellenbosch teweeg te bring. Die maatskappy het baie vertroue om hierdie skenking te maak aan 'n Universiteit wat so 'n diepgaande impak op die plaaslike en internasionale gemeenskap het.  


“Stellenbosch is besig om haarself te vestig as 'n een van die voorste entrepreneuriese sakedorpe in Suid-Afrika – 'n plek waar die Bestuurskool 'n waardevolle bydrae kan lewer. Die hervestiging van die Bestuurskool in Stellenbosch sal nuwe geleenthede vir akademiese samewerking met die Universiteit se hoofkampus ontsluit: 'n kampus wat ook die Nedbank en US se LanseerLaboratorium (oftewel die Launchlab) huisves. Die skuif sal ook die Bestuurskool – die enigste sakeskool op die vasteland met 'n volledige driedubbele akkreditasie – in staat stel om verdere waarde uit die ligging en handelsmerk van die Stellenbosch kampus en dorp te ontsluit." 


Prof De Villiers het gesê 'n onlangse markontleding, mededingerstendense en die US se visie vir die Bestuurskool het oortuigende gronde gebied vir die hervestiging op Stellenbosch.


“Die ontwikkeling van 'n nuwe kampus vir die US se Bestuurskool op die dorp Stellenbosch in die WesKaap-streek, sal 'n noemenswaardige en positiewe ekonomiese impak hê en albei sal aansienlike voordeel trek uit hierdie belegging," sê Prof De Villiers.


Die nuwe perseel, wat die Bestuurskool, die Uitvoerende Ontwikkelingsmaatskappy (USB-ED) en die Instituut vir Toekomsnavorsing gaan huisves, is strategies geleë binne die beplande herontwikkeling van die Adam Tas Korridorontwikkeling; 'n gebied wat al langs die die  R310 en R44 strek, aan die voet van Papegaaiberg, vanaf die ongebruikte Kaapse Saagmeule-perseel in die weste tot by Kayamandi and Cloetesville in die noorde. Die korridor is in die lewe geroep spesifiek om die Munisipaliteit van Stellenbosch se visie – om 'n ruimtelike geïntegreerde en getransformeerde Stellenbosch te skep – te versnel. Hierdie ontwikkeling is die eerste van 'n paar beplande ontwikkelings op Distell se persele wat in die Adam Tas Korridor val. 


 “Al die top-sakeskole in die wêreld besef hoe belangrik hul ligging en die gehalte van hul fasiliteite vir hul reputasie is. Ons glo dat die skep van 'n moderne sakeskool wat oor die wingerde uitkyk en wat beplan word om historiese Stellenbosch en die US ontwerp-elemente te reflekteer, die Universiteit sal onderskei van ander universiteite in Suid-Afrika. Dit sal die US ook in staat stel om sy regmatige plek in te neem as 'n leier op die gebied van globale leerervarings."

“Die feit dat die Bestuurskool en die USB-ED 'n nuwe gebou kan konseptualiseer, stel hulle in staat om die voorste ruimtelike ontwerp- en tegnologie-gedrewe onderrig- en leerruimtes te inkorporeer. Die perseel en nuwe geboue sal saam 'n aangesig-tot-aangesig leerervaring bewerkstellig, in 'n natuurlike omgewing wat bevorderlik is vir  bewustheid en uitvoerende onderrig van die hoogste gehalte."


Volgens prof De Villiers sal die US die ontwikkeling hoofsaaklik befonds uit fondsinsamelingsprojekte, wat dan ook die bepalende faktor sal wees of hierdie skuif gaan plaasvind. Bo en behalwe die befondsing sal die normale openbare deelnemingsprosesse ook plaasvind, asook konsultasie met alle belanghebbendes.

Die bestaande kampus in Bellville sal steeds gebruik word om uitgebreide aktiwiteite van ander departemente te huisves. Bestaande en beplande opgraderings aan die kampus gaan soos normaalweg voort. Die US beplan om sy akademiese voetspoor op die Bellville-kampus in die toekoms selfs nog verder uit te brei. 

Die US en Distell sal saamwerk om die onderverdeling van die perseel te fasiliteer waarna impakstudies en hersonering sal plaasvind. 

 

Media navrae

Stellenbosch Universiteit: Prof Stan du Plessis, Bedryfshoof (stan@sun.ac.za; 021 808 2600)

 

Die Bestuurskool

Die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool is een van die voorste sakeskole in Suid-Afrika en het 'n trotse geskiedenis wat strek oor meer as 50 jaar. Dit is die enigste sakeskool in die land met voltydse akkreditasie van drie leidende internasionale akkreditasie-assosiasies (AACSB, AMBA en EQUIS), en een van 'n paar internasionale sakeskole uit meer as 16 000 sakeskole wêreldwyd met drie akkreditasies.


Binne die US val die Bestuurskool onder die Fakulteit van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die Universiteit se grootste fakulteit waar 'n wye verskeidenheid akademiese dissiplines binne die breë Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gehuisves word. Bykans die helfde van die fakulteit se 8 000 studente is op verskeie vlakke van nagraadse studies – en onder hulle, heelwat studenete van die Bestuurskool. 


Die Bestuurskool is op Stellenbosch gestig en toe in die vroeë jare sewentig na Bellville geskuif om die sake-gemeenskap van Kaapstad se noordelike woongebiede te bedien en die US se strategie om deeltydse onderrig uit te brei, te ondersteun. In 1986 het die Bestuurskool in die huidige perseel op die Bellville Park-kampus getrek.