Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kursus wil tegnologiese vaardigheidsgaping oorbrug
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 21/10/2019

Geoktrooieerde rekenmeesters en ouditeurs wat onder veranderinge in die besigheids- en tegnologielandskap ly as gevolg van die eksponensiële tegnologie-evolusie, kan hulle nou tot die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se Skool vir Rekenkunde wend om hulself op te lei vir dié nuwe era.

Vanaf vroeg in 2020 bied die Skool vir Rekenkunde 'n gewysigde meestersgraad (MCom) in Rekenaarouditering aan. Dié progam stel studente bloot aan die tegniese aspekte in moderne inligtingstegnologie-omgewings ten einde rekenaarsekerheidsbeginsels in die praktyk toe te pas en hulle met die konseptuele vaardighede toe te rus om toekomstige tegnologieë te hanteer.

Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) is dit juis nou van kritieke belang om te verseker dat die rol wat geoktrooieerde rekenmeesters vervul,  relevant bly. Aangesien tegnologie voortdurend verbeter en oorwegend voorkom in die tipies rekeningkundige omgewing, skep dit uitdagings én geleenthede vir huidige en toekomstige SAIGR-lede en -genote, het die professionele liggaam gesê.

Die programleier van die MCom in Rekenaarouditering, prof. Riaan Rudman van die Skool vir Rekenkunde, sê dat hierdie graad daarop gemik is om die vaardigheidsgaping wat deur die vierde industriële rewolusie (4IR) veroorsaak word, te oorbrug.

“Om te verseker dat rekenmeesters en ouditeurs nie professioneel agterbly nie, moet hulle hulself herposisioneer om relevant te bly, en hul vaardighede verbeter vir die 4IR in 'n ouditkonteks. 'n Deel van die kursus fokus daarop om mense te help om nie net die tegnologiese impak van die 4IR beter te verstaan nie, maar ook die impak daarvan op korporatiewe bestuur en versekering," het hy gesê.

Rudman het gesê die grootste probleem wat rekenmeesters en ouditeure tans in die gesig staar, is om te begryp wat hul plek in die toekoms sal wees en hoe om hulle vaardighede te verbeter.

“Nie almal kan programmeerders wees nie. As jy byvoorbeeld 'n ouditvennoot by 'n ouditeursfirma is, sal jy nie noodwendig wil teruggaan universiteit toe om 'n vierjarige programmeringsgraad te doen nie. Wat jy doen, is dus om uit te vind wat jou vaardighede is en hoe jy die vaardighede in 'n veranderende konteks kan inspan en toepas om te funksioneer en waarde te skep in 'n tegnologiegedrewe besigheidsomgewing.

“Wanneer jy prosesse en besigheidsvloei begryp, hoe kan jy die IT-gaping oorbrug sodat jy op uitvoerende vlak IT-stelsels met die IT-personeel kan bespreek sonder om in tegniese details vas te val? Jy doen dit deur jou bestaande vaardighede te gebruik om die regte vrae te stel," sê Rudman.

Die deeltydse, twee jaar lange kursus bestaan uit 'n gedoseerde komponent in die eerste studiejaar en die skryf van 'n kort proefskrif in die tweede jaar.

Die program maak gebruik van 'n hibriede model en sluit virtuele sowel as werklike lesings in 'n lesingsaal in. Studente van Stellenbosch en omgewing kan die lesings in Stellenbosch bywoon, terwyl studente elders deur die loop van die jaar aan die kort lesings op die aanlynplatform kan deelneem. Laasgenoemde studente is egter verplig om die bloklesings op die Stellenbosse kampus persoonlik by te woon.

Die minimum toelatingsvereistes vir die program is soos volg:

  • Die graad HonsBRek of ekwivalent, en registrasie as 'n GR (SA); of
  • 'n Toepaslike HonsBCom-graad wat die vereiste uitkomste vir hierdie program insluit, asook toepaslike werkservaring of registrasie by 'n toepaslike professionele liggaam.
  • Akademiese prestasie word in ag geneem tydens die keuringsproses.

Aansoeke sluit op 1 November 2019.

  • ​​​Vir verdere inligting, kontak prof Riaan Rudman per e-pos by rjrudman@sun.ac.za of tel 021 808 2701.