Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
My sukses is te danke aan ‘n gemeenskapspoging
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 21/10/2019

Sy is 'n suksesvolle sakevrou wat twee maatskappye besit wat fokus op wyn-produksie in Suid-Afrika en wynuitvoer en -distribusie in die res van Afrika, maar Natasha Boks sal die eerste een wees om jou te vertel sy het dit nie op haar eie gedoen nie.

Op Donderdag, 24 Oktober, is Natasha die genooide spreker by die Loopbaankafee wat aangebied word deur die Alumni-betrekkinge afdeling in die Lettere-gebou op die hoek van Merriman en Ryneveldstraat van 13:00 tot 14:00. As jy 'n voorgraadse of nagraadse student is en die geleentheid wil bywoon, besoek asseblief http://bit.ly/BoksLoopbaanKafee3 om jou sitplek te bespreek, of kontak Marvin Koopman by marvin@sun.ac.za teen Woensdag, 23 Oktober.

“Ek het in Cloetesville in Stellenbosch groot geword en my grootste rolmodelle en ondersteuners was my ma en pa. Hulle was die mense wat my gedruk het in moeilike tye. Hulle was my rasieleiers en het my aangemoedig om trots te wees op wie ek was en my individualiteit te vier. Hulle het nie een hul skoolloopbaan voltooi nie, maar hulle het my geleer dat jou omgewing nie dikteer wat jy van jou lewe maak nie," sê Natasha.

Verdere ondersteuning het gekom van haar onderwysers by Cloetesville Hoërskool, veral 'n getroude paartjie wat onderwys gegee het by die skool, mmr en mev Rogers – laasgenoemde haar Aardrykskunde-onderwyser.

 “Mnr en mev Rogers het my baie waardes geleer wat onderwys betref. Toe ek 'n leerder was, het hulle my aangemoedig om altyd hoër te mik en om altyd my bes te doen, en toe ek universiteit toe gaan het hulle gebel om uit te vind hoe ek doen en hoe dit met my studies gaan. Hulle het ook die handboeke gekoop wat ek in my eerste jaar aan universiteit benodig het omdat my ouers dit nie kon bekostig nie."

Of daar geld was of nie, dit was altyd vir haar ouers vanselfsprekend dat sy moes universiteit toe gaan. Akademies het sy by die skool uitgeblink en ook leierskap-posisies soos hoofmeisie van die laerskool en die hoërskool gehad. Terwyl sy in graad 10 was het sy aan 'n program deelgeneem, die South African Innovation Learning Initiative (SAILI), wat aangebied is aan die Universiteit Stellenbosch, wat leerlinge gehelp het om hul punte in spesifieke vakke te verhoog om te verseker dat hulle toegang kry tot die studieprogram wat hulle wil volg. Natasha het ingeskryf en elke Saterdag vir die volgende twee jaar ten volle aan die program gewy om te verseker dat sy aan die US aanvaar word.

“Ek het besef dat niemand my sou help om my doelwitte te bereik nie: ek moes my daartoe verbind en die werk self doen."

Teen die tyd dat sy die program voltooi het, is sy aanvaar vir 'n BSc-graad in Molekulêre Biologie en het in 2002 geregistreer. Halfpad deur haar eerste jaar het haar pa sy werk verloor. Natasha erken dat sy dit oorweeg het om haar studies te staak want sy wou nie bydra tot die finansiële druk by die huis nie. Maar haar pa en ouer broer wou nie daarvan hoor nie. Haar pa het van die huis af begin werk terwyl haar broer bygedra het wat hy kon uit sy salaris.

'n Jaar later het Natasha egter besef dat BSc Molekulêre Biologie nie die geskikte kursus vir haar was nie. Hoewel sy 'n introvert was het sy dit ook geniet om met mense te werk en hierdie spesifieke graad sou haar beperk tot 'n laboratorium.

Die vraag was wat sy volgende moes studeer. “Ek was baie lief vir geografie toe ek op skool was en ek het geweet ek wou 'n loopbaan volg wat my sou toelaat om in die natuur te werk," sê sy.

In 2003 het sy haar fokus verskuif na wynmaak, en besluit om eerder BSc (Landbou) Wynkunde en Wingerdbou te studeer. Dit was die perfekte kombinasie van toegepaste wetenskap in die wynmaak-proses, dit het haar die geleentheid gegee om in die buitelug te kom en met ander mense interaksie te hê. Haar verandering van studierigting is aanvanklik nie deur haar ouers met geesdrif begroet nie.

“Hulle was  nie gelukkig nie, veral my ma. My pa se ouma was 'n alkoholis en het daaraan gesterf, dus was enigiets te doen met alkohol in die algemeen taboe in my gesin. Maar my ma het uiteindelik ingestem."

“Dit was ook 'n uitdaging om aan te pas by 'n nuwe omgewing. Ek was een van ses mense van kleur in my Landbou-klas, maar ek kon minstens Afrikaans praat. Van my klasmaats van kleur kon nie, en hulle het gesukkel. Ek het nog nooit voorheen interaksie gehad met enigeen buite my rassegroep nie  en hoewel ek groot geword het met die Universiteit Stellenbosch in my dorp was dit steeds 'n vreemde plek vir my. Selfs om in die dorp rond te loop was iets nuuts vir my. So ja, dit was 'n aanpassing, veral die sosiale kant."

“Maar ek is nie een wat wegdeins van 'n uitdaging nie. My ouers het my groot gemaak om my opinies te lug. Ek het vir myself gesê, 'dit is waar jy moet wees, jy weet wie jy is en as jy moet hulp vra, doen dit, want die enigste ding wat mense kan sê is nee'."

Sy voeg by: “Dit is belangrik om getrou te wees aan wie jy is in situasies soos dié. Jy moet jou waarde verstaan en die waarde wat jy toevoeg tot die lewens van ander en breër gesien. As jy dit nie doen nie, sal jy probeer om iemand anders te wees om in te pas."

Vir die volgende drie jaar, ten spyte van verskeie uitdagings, het Natasha voortgebeur met beurse van NSFAS, SAWIT en die Departement Landbou.

Op 24 Oktober sal Natasha haar lewensverhaal en loopbaanpad deel en gesels oor hoe sy uiteindelik vir Distell begin werk het, spesifiek met twee van Suid-Afrika se top handelsmerke – Nederburg en Zonnebloem – en gevorder het van assistent-wynmaker tot hoofwynmaker met die ondersteuning van sommige van die land se beste wynmakers.

Die Loopbaankafee-reeks is in 2016 geloods deur die kantoor vir Alumni-betrekkinge om 'n platform te bied vir alumni om met die universiteit te skakel op 'n nuwe manier, deur hul tyd en vaardighede te bied om huidige studente voor te berei vir die loopbane wat hulle verlang.

Vir meer inligting oor die Loopbaankafee, volg die Alumni-betrekkinge Facebookblad by www.facebook.com/stellenboschalumni en die US Facebookblad by www.facebook.com/stellenboschuniversity. Om by te woon, RSVP by http://bit.ly/BoksLoopbaanKafee3 of kontak  Marvin Koopman by marvin@sun.ac.za voor Woensdag, 23 Oktober.