Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing kyk na geestesgesondheid onder studente
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 17/10/2019

Die universiteitsjare is 'n kritieke tydperk wanneer studente die uitdagende oorgang beleef na volwassenheid. Alhoewel studentejare meestal gekenmerk word deur positiewe ervarings en persoonlike groei, is dit ook  'n algemene lewenstydperk wanneer heelwat geestessiektes die eerste keer hulle verskyning maak. Dit sluit gemoedsversteurings, angsstoornis en middelmisbruik in. 

Die hoë voorkoms van hierdie toestande is beduidend, nie bloot as gevolg van die angs en die gestremdheid wat dit veroorsaak nie, maar ook omdat dit met verlaagde akademiese prestasies geassosieer word. Dit is om hierdie rede dat universiteite ag behoort te slaan op hulle studente se geestesgesondheid, en hulle risiko vir algemene geestessiektes – so dat hulle ten beste kan presteer gedurende hierdie belangrike ontwikkelingstadium. 

Die Suid-Afrikaanse MNR Eenheid vir Risiko en Veerkragtigheid in Geestesversteurings het hiermee in gedagte met die Depratment Psigiatrie saamgewerk asook met 'n verskeidenheid universiteite en kolleges dwarsoor die wêreld aan 'n steekproefprojek in geestesgesondheid wat daarop gemik is om tred te hou met studente se geestesgesondheid en die risiko's waaraan hulle blootgestel is. 

Professor Christine Lochner van die MNR Eenheid vir Risiko en Veerkragtigheid in Geestesversteurings sê dat in Suid Afrika, navorsers by die MNR, asook 'n samewerkingseenheid tussen die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad, almal saamgewerk het met internasionale kenners op die gebied van geestesgesondheid van die McLean-hospitaal (Columbia Universiteit, VSA); Harvard Mediese Skool (Harvard Universiteit, VSA) en die KU Leuven Universiteit (België) op die WGO se projek met die naam van "WHO World Mental Health Surveys International College Student Project (WMH-ICS)". 

Die WMH-ICS Inisiatief is ontwerp om “akkurate epidemiologiese data te genereer… vir die behandeling van geestessiektes, gedragstoornisse en middelmisbruik onder kollege-studente wêreldwyd; om weg-gebaseerde intervensies te implementeer en te evalueer met die oog op die voorkoming en die behandeling van hierdie siektetoestande; en vir die verspreiding van bewysgebaseerde intervensies wat as effektief bevind is wanneer 'n voortdurende kwaliteitsverbeteringsplan wat daarop gemik is om agteruitgang van hierdie intervensies in disseminasie te verhoed. Dit beoog ook om voort te gaan om intervensies meer effektief te maak deur middel van die gebruik van prosedures wat op individue gemik is," sê Lochner. 

“Daar was verskeie belangrike publikasies wat gebaseer is op die data wat deur die WMH-ICS versamel is, met dr. Ron Kessler van die Harvard Mediese Skool as die senior skrywer van vele hiervan. Plaaslik is die werk gesamentlik gedoen by SU en UK, met my, dr. Jason Bantjes (Sielkunde, SU) en professor Dan Stein (Psigiatrie, UK) en me. Janine Roos  van die Inligting vir Geestesgesondheid as die leidende navorsers," het Lochner verduidelik. (Vir meer inligting, sien www.mentalhealthsa.org.za). 

Lochner het die laaste artikel aangehaal wat in die BMC Public Health gepubliseer is, wat gefokus het op die voorkoms en sosio-demografiese korrelate van die algemene geestesversteurings onder eerstejaar-studente in SA (en spesifiek by die SU en die UK onderskeidelik). 

Die studie het die voorkoms en sosio-demografiese korrelate van lewenslange en 12-maande lange algemene geestesversteurings  ondersoek onder universiteitstudente in Suid-Afrika, en het spesifiek gefokus op vatbaarheid onder studente vanuit histories uitgeslote en gemarginaliseerde segmente van die bevolking.

Data is versamel deur middel van self-rapporteringsmeganismes in 'n aanlyn opname onder eerstejaar-studente wat by twee universiteite geregistreer is - UK en SU. Hulle is geassesseer vir algemene geestesversteurings met behulp van voorheen getoetste assesseringskale.

Die navorsing het bevind dat, “ten spyte van vooruitgang met groter sosiale insluiting in post-apartheid Suid-Afrika, ly studente wat as vroulik identifiseer, studente met atipiese seksuele oriëntasies en studente met gestremdhede nietemin 'n groter risiko van algemene geestesversteurings."

Die studie het onder andere bevind dat 'n totaal van 38,5% van die respondente minstens een algemene geestesversteurings gerapporteer het, die mees algemene synde major depressiewe versteuring (24,7%). “Die twaalf-maande voorkoms van enige algemene geestesversteurings was 31,5%, met algemene angsstoornis synde die mees algemene (20,8%). Die mediaan ouderdom van aanvang vir enige geestesversteuring was 15 jaar, wat suggereer dat meeste van die algemene geestesversteurings reeds gedurende adolossensie 'n aanvang neem. Vroulike studente en studente met 'n atipiese seksuele oriëntasie asook studente met gestremdhede het merkbaar hoër risiko's gehad vir 12-maande of algemene geestesversteuring gedurende hulle leeftyd asook internaliserende geestesversteurings soos angsstoornis, terwyl die manlike geslag, wat as wit identifiseer en met 'n atipiese seksuele oriëntasie, geassosieer word met 'n verhoogde risiko vir geëksternaliserende geestesversteurings soos alkoholmisbruik-versteuring en middelmisbruik-versteuring. Hoër ouderdom, atipiese seksuele oriëntasie en gestremdheid is geassosieer met bipolêre gemoedsversteuring."

Lochner het ook gesê dat die navorsing die nodigheid daarvan beklemtoon het dat universiteite bedag moet wees op die geestesgesondheid van studente. Sy het ook bygevoeg dat studente baie geleenthede het om hulp te vind vir moontlike uitdagings wat verband hou met geestesgesondheid. “Dit sou egter belangrik wees om daardie beskikbaarheid uit te brei, om die samestelling van sommige bestaande dienste te verander, en om struikelblokke uit die weg te ruim op die pad vorentoe waar dit verband hou met die soek van behandeling," het sy gesê. Sommige van hierdie kwessies is reeds aangespreek en navorsers het reeds daaroor gepubliseer, en alle tersiêre inrigtings behoort ag daarop te slaan.