Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US eerste universiteit wat SnapScan se binne-toep betalings gaan gebruik vir kontantlose transaksies
Outeur: Finance and Operations
Gepubliseer: 15/10/2019

​Die Universiteit Stellenbosch is die eerste Suid-Afrikaanse Universiteit wat die SnapScan binne-toep betalingsoplossing vir betalings op kampusse gaan gebruik. Dit verseker dat studente nie meer kontant hoef saam te dra vir sommige betalings nie. 

SnapScap is 'n mobiele applikasie waarmee jy kontantlose betalings kan maak. Aanvanklik sal studente twee SnapScan binne-toep betalings kan gebruik, naamlik vir rekeningbetalings van studentegelde, asook vir voorafbetaalde internet en drukkrediete. Hierdie betalings is voorheen in kontant of met 'n kaart by die UnIversiteit se kassiere in die sentrale administrasie-gebou, gemaak. 

“Die Universiteit is voortdurend besig om homself te hernuwe en aan te pas by slim tegnologie om 'n beter, eenvoudiger en veiliger omgewing vir studente en die groter kampusgemeenskap te skep," sê Prof Stan du Plessis, Uitvoerende Bedryfshoof van die US. “Behalwe vir SnapScan, gaan ons binnekort nog kontantlose opsies uitrol. Ons moedig studente aan om hierdie betalingsmetodes te gebruik om so risiko's te verminder en te help bou aan 'n veiliger leeromgewing."

Die US is een van meer as 50 000 handelaars en verkopers in Suid-Afrika wat SnapScan tegnologie omarm het. SnapScan integreer met die Universiteit se finansiële stelsels om te verseker dat daar minder kontant op die US-kampus sirkuleer. 

Dit is vinnig en eenvoudig om die SnapScan app te gebruik. Die app is gratis om te gebruik en het slegs data of wifi nodig. Studente moet die SnapScan toep van hul toep-winkel aflaai, gou registreer en hul kaart-besonderhede invul. Daarna kan hulle 'n QR-kode ('n vierkantige strepieskode) skandeer wat gekoppel is aan 'n handelaar se SnapScan rekening of hulle kan die binne-toep betalingsopsies (rekening- of voorafbetalings) gebruik, betalingsbesonderhede invul (die bedrag en 'n PIN) om die transaksie te voltooi. SnapScan werk met die meeste e-handelsgedrewe debiet- en kredietkaarte van enige Suid-Afrikaanse bank, asook die meeste internasionale kredietkaarte.

Behalwe vir die SnapScan binne-app betalings, het studente ook 'n aanlyn opsie op die US se webtuistewaar hulle die keuse kry tussen voorafbetalings (vir die internet, etes, wasgoed, drukwerk krediete en ry-geleenthede) en rekening-betalings (vir studentegelde).