Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet EBW-wenners van US se Toekennings vir Voortreflike Onderrig
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 14/10/2019

Die 2019-wenners van die jaarlikse Universiteit Stellenbosch (US) Toekennings vir Voortreflike Onderrig is onlangs aangekondig. Dosente verbonde aan die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) het drie van die 12 toekennings verower.

Dr Sharon Malan, Programleier: Verlengde Graadprogram, mev Carla Morris en mnr Alwyn Visser, albei dosente by die Skool vir Rekeningkunde, het al drie toekennings in die “Ontwikkelende Opvoeder"-kategorie ontvang.

Die toekennings, wat in 2017 bekendgestel is, gee erkenning aan US-dosente in twee kategorieë, “Uitgelese Opvoeder" en “Ontwikkelende Opvoeder" en word gegrond op hul ondervinding en leierskap op die gebied van onderrig en leer.

Deelnemers moes 'n portefeulje indien wat hul denke oor en bewys van vier hoofonderdele uiteengesit het: konteks, studente, kennis en professionele groei. Hulle moes ook 'n aanduiding gee van die lesse wat hulle op hul reis om uitnemende opvoeders te word, geleer het.

Dr Sharon Malan

Malan se onderrigondervinding strek oor twee dekades – van onderrig aan hoërskoolleerders tot fundamentele, voorgraadse en nagraadse studente. Haar reis om 'n uitnemende opvoeder te word, het met haar belangstelling in die “hoe" van leer begin.

“Ek was nog altyd nuuskierig oor hoe leer plaasvind, hoe die brein leer en hoe om die beste te onderrig sodat leer kan plaasvind. Dit is belangrik dat my studente – meestal eerste-generasie studente – besef wat hul regmatige plek hier op kampus is en dat hulle die intelligensie, vermoëns, veerkragtigheid en krag het om sukses te behaal en ons verwagtinge te oortref."

Sy beskik oor uitgebreide ondervinding op die gebied van opvoedkundige sielkunde, wat aan haar die nodige kennis en vaardighede gegee het om met leerders met uiteenlopende behoeftes te werk. Dit het haar in staat gestel om meer doeltreffende leerondersteuning en ontwikkelingsgeleenthede aan studente binne verskillende kontekste te bied.

“Dít wat ons as opvoeders dikwels as leemtes in kennis en vaardighede beskou, verberg baie keer ons studente se aangebore vermoëns. Dit kan daartoe bydra dat leerders onderpresteer of selfs druip terwyl hulle die vermoë het om te slaag. Ek het vroeg in my loopbaan besef dat ek studente nooit moet onderskat nie – ongeag van hul agtergrond."

Om bekroon te word, is vir Malan geen nuutjie nie. In 2014 het sy die Rektorstoekenning vir Uitnemendheid in Onderrig by die Fakulteit Opvoedkunde ontvang en in 2011 is die Rektor se Eerstejaarsakademietoekenning in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe vir die dosent wat die meeste tot 'n eerstejaarstudente se sukses bygedra het, aan haar toegeken.

Malan sê haar jongste toekenning het haar gehelp om oor haar onderrigbenadering en die tipe dosent wat sy vir haar studente wil wees, na te dink.

“Ek beskou my studente as totale wesens en besef dat dít wat buite die klas met hulle gebeur, hulle ook in die klas beïnvloed. Ek glo my lesingskamers is veilige ruimtes vir studente om fisiek, verstandelik, emosioneel en sosiaal te groei. Ek moedig nie net aktiewe deelname binne hierdie ruimtes aan nie, maar ook die neem van risiko's, waar foute as normaal beskou en selfs aangemoedig word, solank ons daaruit leer."

Mnr Alwyn Visser

Visser glo ook dat dit verder as die klaskamer gaan om 'n goeie opvoeder te wees en sê hy sien homself eerder as 'n “fasiliteerder van leer" as om bloot net 'n onderwyser.

“Dit is deel van my onderrigfilosofie om 'n toeganklike rolmodel te wees. Dit beteken noodwendig dat studente jou in hul vertroue neem met hul persoonlike probleme. Dit het my meer oor onderrig laat dink en dit dien ook as 'n soort bevestiging dat ek iewers iets reg doen en 'n positiewe verskil maak."

Visser gee tans vir eerste-, tweede- en derdejaarstudente aan die US klas in Inligtingstelsels, Sake-etiek en Ouditkunde. Sy passie is die onderrig en opleiding van geoktrooieerde rekenmeesters en hy sê sy onderrigmetodes fokus daarop om studente vir die praktyk nadat hulle gegradueer het, voor te berei.

“Elke gradeplegtigheid is vir my ʼn hoogtepunt. Om op die verhoog te sit en oor die see van potensiaal voor my te kyk. Om te weet dat die wye wêreld vir hierdie studente lê en wag om verken en oorwin te word. Niks kan daarby kers vashou nie."

Carla Morris

Morris sê sy wil ook hê haar studente moet hul volle potensiaal bereik wanneer hul haar lesingskamer verlaat en sy hoop dit sal hulle help om hul stemme te laat opklink oor sake wat vir hulle saak maak.

Sy kom uit 'n gesin van onderwysers wat haar geïnspireer het. Sy het vir die Toekennings vir Voortreflike Onderrig ingeskryf sodat sy haar eie onderwysportefeulje kon kry wat sy met haar familie kon deel en om 'n waardevolle stuk gereedskap te hê om voortdurend oor haar werk na te dink en om professioneel te groei.

“Die proses was geweldig selfbespiegelend. Leer is lewenslank - ek sien hierdie toekenning as deel van my nalatenskap dat ek besig was om te groei, steeds groei en as opvoeder sal aanhou groei."

Morris hoop om in die toekoms invloedryke navorsingsbevindinge te publiseer wat studente op die gebied van geoktrooieerde rekeningkunde sal kan help.

“Ek het my in 2010 by die akademie aangesluit nadat ek, terwyl ek junior personeel opgelei en aan kliënte verslag moes doen, besef het die aspek wat ek die meeste in my loopbaan as geoktrooieerde rekenmeester in die korporatiewe wêreld geniet het, die oordrag van finansiële kennis en vaardighede was.

“'n Mens se probleemoplossingvaardighede word vinnig in die finansiële bedryf geslyp en dit vereis analitiese denke. Ek wil aanhou om my navorsing te publiseer en om studente te help om by te bly in die vinnigveranderende landskap van die sakewêreld."

*Bogenoemde kandidate sal hul toekennings by 'n prysuitdelinggeleentheid aan die einde van die vierde kwartaal ontvang.

Vir verdere inligting oor die Toekennings vir Voortreflike Onderrig, skakel dr Karin Cattell-Holden by 021 808 3074 of stuur 'n e-pos na kcattell@sun.ac.za.

In die foto bo van links, Alwyn Visser, Sharon Malan en Carla Morris.