Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Verbrand die skepe, nie die brûe'
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 10/10/2019

“Verbrand die skepe nie die brûe".

Dit was een van die vyf hoofpunte wat Universiteit Stellenbosch (US) alumnus, Werner Cloete, gedeel het met voorgraadse en nagraadse studente by die onlangse Loopbaankafee waar hy die genooide spreker was.

Cloete is die hoof van Calling Academy in Vlaeberg, Stellenbosch, waar seuns uit laer inkomste gemeenskappe die geleentheid kry om 'n kwaliteit privaatskool opvoeding te kry vir minder as R6 500 per jaar. Hy het 'n BSc in Chemie en 'n Nagraadse Sertifikaat in Opvoeding aan die US behaal en het 'n geruime tyd oorsee onderwys gegee voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer en aangesluit het by die personeel van die Paul Roos Gimnasium. In 2016 het Cloete 'n geloofsprong geneem om die navorsing te begin ten einde die Calling Academy te stig saam met mede-stigter dr Philip Geldenhuys.

“Jy moet jou verbind tot jou visie, indien jy weet die visie het tot stand gekom deur die regte proses, en om dit te doen, moet jy die skepe verbrand om alle ontsnaproetes te sluit," het hy aan die 310 studente wat die praatjie bygewoon het, gesê.

Dit, sê Cloete, was een van die belangrikste dinge wat hy in 2017 geleer het. Slegs drie maande voordat Calling Academy sou open en met baie leerders wat reeds belang gestel het, kon Cloete nog steeds nie 'n perseel vind om die skool te huisves nie.

“Jy moet swaarkry verwag. Dit sal jou toewyding tot die visie toets, maar dit sal ook persoonlike groei meebring wat jou onderneming op die lange duur sal baat," het Cloete gesê.

“As jy te veel ontsnaproetes laat, sal jy op 'n stadium 'n uitweg soek, en uiteindelik sal jy jou visie agterlaat. So verbrand die skepe."

Hy het ook die studente herinner dat dit noodsaaklik is om in voeling te bly met wat in die wêreld gebeur.

“Wanneer jy eers 'n visie het en 'n bewustheid van wat om jou aangaan, sal iets binne jou plaasvind weens die spanning tussen 'wat is' en 'wat kan wees'. Ek praat oor die ervaring van ontevredenheid – om ontsteld te wees oor die huidige stand van sake."

Hierdie toestand, meen Cloete, is wat jou sal motiveer om te innoveer, nog 'n belangrike wenk wat hy met studente gedeel het oor hoe om 'n loopbaan te bou terwyl jy 'n impak maak op die gemeenskap.

“Innovering wat ontstaan uit in voeling en bewus wees van wat in die gemeenskap plaasvind, is baie magtiger as innovering net om te innoveer," het hy bygevoeg.

Vir Cloete was dit nie 'n opsie om die pad alleen te stap nie. Hy glo dat, indien 'n mens iets buitengewoon wil doen, jy die mense moet vind wat voorpunt-werk doen en by hulle moet leer.

“Ons moet wegbeweeg van geïndividualiseerde besluitneming tot groepsbesluitneming. Soek vir die soort mense wat jou kan neem tot waar jy wil wees en assosieer jou met hulle. Spandeer jou tyd met mense wat in die regte rigting beweeg."

Hoewel baie van ons bewus is van die belang daarvan om 'n mentor of afrigter te hê het Cloete aangevoer dat studente eerder die ontwikkeling van 'n druk-en-trek effek in hulle lewens soek. Dit kan gedoen word deur die sitplekke “om jou ondersteuningstafel te vul" met 'n held, 'n binnekring van vriende, 'n mentor, 'n mentee, 'n afrigter en 'n leerder.

“Vind iemand wat jy ook kan mentor. Dit is wanneer jy 'n druk-en-trek effek kry met 'n mentor wat jou trek en 'n mentee wat jou nie net sal druk deur hul vrae en hoe hulle jou eerlik hou nie, maar jou ook sal verhef en bystaan in die ontwikkeling van hul vaardighede. Kry dus 'n mentor en 'n mentee."

“Ons kan soveel leer van mekaar, en dus sal ek voorstel dat jy doelgerig bou aan verhoudings oor kultuurgrense ook," het hy bygevoeg.

Cloete het ook ander punte aangeraak in sy praatjie, soos die belang daarvan om blootstelling te verkry en om verhoudinge in jou lewe te waardeer.

Voordat hy afgesluit het, het hy die studente aangemoedig om hul lewens te leef volgens 'n aanhaling wat hy self gebruik om hom te herinner om die mense te waardeer wat deur dik en dun by jou staan.

“Onthou primêre verhoudings is belangrik en dat 'geen sukses buite die huis kan opmaak vir mislukking daarbinne nie'. Jou gesin sal die aflos-stok aangee wanneer jy nie meer daar is nie. As jy die wêreld wil verander moet jy 'n impak maak op die lewens van diegene om jou sodat hulle kan uitgaan en ook 'n positiewe impak op die wêreld kan maak. Jy wil nie die een wees wat met 'n visie hardloop, maar wie se gesin sê ons ken hom nie eens nie."

Die Loopbaankafee-reeks is in 2016 geloods deur die Alumni-betrekkinge Kantoor om 'n platform te skep vir alumni om met die universiteit te skakel op 'n nuwe wyse deur hul tyd en vaardighede aan te bied om huidige studente voor te berei vir die loopbaan wat hulle verlang.

Foto: Werner Cloete (heel links), spreker by die Loopbaankafee en hoof van die Calling Academy, by Paballo Tsiu (naaslinks) en Tianca Olivier, die twee studente wat 'n geleentheid losgeslaan het om 'n ete met Cloete te geniet ten einde meer van hom te leer. By hulle is Marvin Koopman (heel regs), Alumni-koördineerder by die afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge. (Fotograaf: Henk Oets)