Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ingenieurswese verwelkom driepuntige monument terug ná 50 jaar
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 10/10/2019

"Dit is baie gepas om hierdie monument in die Fakulteit Ingenieurswese se 75ste bestaansjaar na ons groot gebouekompleks te verskuif," sê die dekaan, prof Wikus van Niekerk. Die driepuntige monument, wat 50 jaar gelede in Victoriastraat ter ere van ingenieurswese opgerig is, is in Augustus 2019 na die Fakulteit se gebouekompleks in Banghoekweg verskuif.

Die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Ingenieurswese wat in 1944 gestig is, was vanaf 1946 tot 1969 gehuisves in die gebou van die destydse Stellenbosse Gimnasium (nou die Visuele Kunstegebou) in Victoriastraat. Die monument is in 1968 deur finalejaar Beeldende Kunste-studente as klasprojek ontwerp en beeld Werktuigkundige, Elektrotegniese en Siviele Ingenieurswese uit (die eerste drie rigtings wat destyds deur die Fakulteit aangebied is). Dit is in die Departement Siviele Ingenieurswese vervaardig.

Die dekaan verwys skertsend na die driepuntige monument as "Duwweltjie" omdat dit soos 'n reuse driepunt-doring oftewel 'n duwweltjie lyk. Op 9 Oktober 2019 het die Fakulteit "Duwweltjie" se verskuiwing na 'n ereplek voor die Algemene Ingenieursgebou gevier, waar die rektor en visekanselier, prof Wim de Villiers, ook teenwoordig was.

Oor 'n driekwart-eeu het die Fakulteit Ingenieurswese se akademiese aanbod uitgebrei. Chemiese Ingenieurswese en Bedryfsingenieurswese is onderskeidelik in 1969 en 1984 as die vierde en vyfde departemente bygevoeg. In 2002 het die Departement Meganiese Ingenieurswese 'n tweede graadprogram, naamlik Megatroniese Ingenieurswese, ingestel. Een van die jongste opwindende ontwikkelings is 'n BIng Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese in Data-Ingenieurswese wat vanaf 2020 aangebied sal word. Tesame met verskeie voorgraadse modules en nagraadse programme in Datawetenskap wat die Fakulteit tans aanbied, sal hierdie nuwe program bydra om die jonger geslag goed vir die Vierde Industriële Revolusie toe te rus. 

Foto links: Prof Wikus van Niekerk, dekaan Ingenieurswese (links) en prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier, by die monument feestelik getooi in maroen en ougoud korporatiewe kleure. 

Foto regs: Van links is: Proff Kristiaan Schreve (voorsitter: Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese), Wikus van Niekerk (dekaan: Ingenieurswese), Jan Wium (voorsitter: Siviele Ingenieurswese), Herman Engelbrecht (voorsitter: Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese), Hansie Knoetze (voorsitter: Prosesingenieurswese) en Wim de Villiers (rektor en visekanselier).