Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Russel Botman-beursfonds 'skep geleenthede vir volgende generasie'
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 08/10/2019

Wyle prof Russel Botman, voormalige rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), was passievol daaroor om geleenthede te skep vir verdienstelike studente. En dit is hierdie nalatenskap wat die US en sy gesin eer deur middel van die Russel Botman-beursfonds (RBBF) met die hulp van vrygewige skenkers.

Die Botman-beursfonds is in 2013 op prof Botman se 60ste verjaardag op die been gebring, toe hy vir donasies in plaas van geskenke gevra het. Die beursfonds het sedert sy totstandkoming beurse aan meer as tien studente beskikbaar gestel. Die beurs is in 2016 vir die eerste keer aan drie studente toegeken en in 2019 het altesaam nege studente finansiële steun ontvang.

"Ek hoop dat ons die getal RBBF-studente voortdurend kan verhoog, hoewel dít slegs moontlik is met meer skenkings. Ek hoop dat diegene wie se lewens hetsy direk of indirek deur my pa se werk en pogings geraak is gereelde skenkers sal word om sodoende ook vir ánder te help hoop skep deur die onderwys," sê prof Botman se dogter Roxanne.

Roxanne dien op die RBBF-komitee saam met haar ma, dr Beryl Botman as voorsitter en prof Xolile Simon van die Fakulteit Teologie.

Ter ere van prof Botman se verjaardag op 18 Oktober bied die Fakulteit Teologie weer sy jaarlikse Russel Botman-gedenklesing by die Attie van Wijk-ouditorium aan. Vanjaar se lesing vind op Donderdag 17 Oktober plaas. Die hoofrede word gelewer deur dr Setri Nyomi, voormalige sektretaris-generaal van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke. Die tema is “Geregtigheid vir almal? Die tyd vir verandering is nou!“ Prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die US, sal die respons lewer.

“Dit is vyf moeilike jare sedert Russel se dood, maar ek is dankbaar dat ons sy nalatenskap deur die Russel Botman-beursfonds kan voortsit. Ek wil almal bedank wat 'n finansiële bydrae gemaak en sodoende die studente se lewens ten goede verander het. Danksy jou ruimhartige ondersteuning, skep hierdie fonds geleenthede vir ons volgende generasie," sê dr Beryl Botman.

  • As jy 'n bydra tot die Russel Botman-beursfonds wil maak - die besonderhede vir direkte betalings is: Standard Bank, rekeningnommer 07 300 695 5 en takkode 05 0610. Let asseblief op die verwysing: Botman.
  • Alternatiewelik kan jy 'n bydrae op ons GivenGain-bladsy maak: https://www.givengain.com/cc/rbbf/
  • Besoek www.russelbotman.com vir meer inligting oor die beursfonds.