Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wat hou klimaatsverandering vir Afrika se skoenlappers en motte in?
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 08/10/2019

Veranderinge in temperature én reënvalpatrone weens klimaatsverandering kan oor die volgende dekades 'n beduidende invloed hê op die voorkoms van motte en skoenlappers in Afrika. Dit is volgens 'n studie wat aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Bewaringsekologie en Entomologie in Suid-Afrika gedoen is, en in die vaktydskrif Ecological Modelling verskyn het. Daarvolgens kan die gebiede waarin sekere spesies wat in meer gematigde streke voorkom, met tot 72% krimp.

In die artikel in Ecological Modelling stel dr Madeleine Barton ook 'n nuwe prosesgebaseerde model voor wat ander navorsers kan gebruik om die impak van klimaatsveranderinge op vlinders en motte in Afrika te bestudeer.

Die studie is beplan en voltooi terwyl dr Barton nog 'n nadoktorale navorser in die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie in die Fakulteit AgriWetenskappe was. Sy het dit voltooi in samewerking met prof John Terblanche van die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie, en 'n voormalige US-kollega, prof Brent Sinclair, wat deesdae verbonde is aan die Western University in Kanada.

"Bitter min navorsing is al gedoen oor die impak van klimaatsverandering op Afrika se Leipidotera (wat skoenlappers en motte insluit). Soortgelyke inligting is wel al beskikbaar vir spesies op ander vastelande," vertel prof Terblanche, wie se navorsing fokus op die impak wat klimaatsverandering kan hê op die verspreidings en bevolkingsdinamika van landboupeste en insekte wat siektes oordra, soos tsetsevlieë.

Hy voeg by: “Dis belangrik om insekte te bestudeer, want die landbousektor is bekommerd oor hoe klimaatsverandering die verspreiding van peste en insekte wat gewasse bestuif kan beïnvloed. Die rippeleffek daarvan kan voedselsekerheid beïnvloed. Talle insekspesies speel ook 'n rol in die verspreiding van siektes. Veranderinge in terme van die streke waar hulle voorkom kan ook implikasies vir ons gesondheidstelsel inhou."'

Dr Barton het 'n prosesgebaseerde klimaatvoorspellingsmodel ontwikkel. Volgens prof Terblanche is dit die eerste klimaatmodel wat spesifiek ontwerp is om die impak van temperatuurveranderinge én reënval op die toekoms van Afrika se skoenlappers en motte te voorspel. Soortgelyke modelle bestaan vir ander wêreldstreke, soos Europa, Noord-Amerika en Asië. Dr Barton se model is vrylik beskikbaar en gratis om te gebruik deur ander wetenskaplikes wat data oor die fisiologie en verespreiding van Afrika-spesies beskikbaar het.

Dr Barton se model oorweeg dus nie net moontlike toekomstige temperatuurveranderings nie, maar ook die invloed wat veranderende reënvalpatrone en droogtes op insekte kan hê. Dit is onder huidige klimaatstoestande getoets, sowel as die scenario wat teen 2050 verwag word. Die model is getoets aan die hand van data wat beskikbaar is vir twee endemiese Afrika-spesies: 'n bekende landboupes, die Busseola fusca, wat op gewasse gevind word, en die skoenlapper Bicyclus anynana.

“Om meer akkurate voorspellings te kan maak, is dit beter om temperatuurveranderings sowel as die beskikbaarheid van water in jou modelle te gebruik. Dis nodig, want hierdie elemente beïnvloed die voortbestaan van spesies verskillend. Hoe klimaatsverandering die verspreiding en bevolkingsdinamika van 'n insek oor die hele kontinent heen sal beïnvloed hang baie af van die organisme se fisiologiese vermoë om spesifieke toestande te hanteer," verduidelik dr Barton.

Die navorsers het bevind dat hoër temperature en veranderende reënvalpatrone in sommige gevalle die verspreidingsgebied van party Afrika skoenlappers en motspesies met tot 72% kan laat krimp. Die verspreidingsgebied van spesies soos die mieliestamboorder (Chilo partellus), wat nie hoër temperature goed verdra nie, kan met die helfte krimp. Spesies wat gevoelig is vir koeler temperature en droë toestande kan weer oor groter gebiede aanpas soos wat temperature en reënval styg. Daar word voorspel dat spesies in die noordelike dele van Afrika kuswaarts en na hoërliggende gebiede sal skuif om strawwe klimaatstoestande te systap. Die verspreidingsgebied van spesies in die suidelike dele van Afrika sal waarskynlik krimp.

“As mens slegs na temperatuur as maatstaf kyk, lyk dit asof spesies in die trope die gevoeligste vir klimaatsverandering gaan wees. Ons modelle wys egter dat wanneer neerslagpatrone sou verander, dit ook 'n invloed op spesies in gematigde streke gaan hê," verduidelik prof Sinclair. “In die toekoms kan die wisselwerking tussen uiterste temperature en droogtes 'n groot impak hê op insekte in Afrika en elders."

Slegs vir media-navrae:

Prof John Terblanche
Departement Bewaringsekologie en Entomologie
Universiteit Stellenbosch
jst@sun.ac.za – Prof Terblanche is tans in Frankryk, en tans slegs per epos beskikbaar. Neem dit asb in ag itv medianavrae. ​