Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch ontvang gendertoelaag van Meghan Markle
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 02/10/2019

Die hertogin van Sussex, Meghan Markle, het Dinsdag (1 Oktober 2019) aangekondig dat 'n gendertoelaag van die Vereniging van Statebondsuniversiteite (ACU) aan drie Suid-Afrikaanse universiteite toegeken is. Die begunstigdes is die Universiteit Stellenbosch (US) sowel as die universiteite van Johannesburg en Wes-Kaapland.

Markle het die aankondiging by die Universiteit van Johannesburg gedoen waar sy deelgeneem het aan 'n ACU-tafelrondegesprek oor hoe om wêreldwye uitdagings deur inklusiewe hoër onderwys die hoof te bied. Die hertog en hertogin is sedert 23 September op 'n koninklike toer van Afrika.

Die US het die ACU-gendertoelaag vir die Universiteit se voorgestelde genderroete- (“Gender Detour"-)projek ontvang. Die doel van dié inisiatief is om 'n unieke kampusrondleiding te ontwerp wat doelbewuste gesprekke oor die rol van gender in kampuskultuur, emosionele en fisiese veiligheid, gesondheid, die sosiale lewe, leierskap, prestasies en die toekomstige werkplek aan die gang sal sit.

Volgens Monica du Toit, ResEd-groepkoördineerder by die US se Sentrum vir Studentegemeenskappe, was sy baie verras om van die toekenning te hoor. “Toe ek aanvanklik die projekvoorstel aan die ACU geskryf het, het ek nie werklik verwag dat ons die toelaag sou kry nie. So, ek was aangenaam verras toe ek die nuus hoor. Hierdie toelaag is 'n fantastiese aansporing om die US 'n interaktiewe projek te help ontwikkel wat studente uit verskillende omgewings in staat sal stel om oor hulle ervarings te praat." Du Toit het by die tafelronde nie net geleentheid ontvang om Markle te ontmoet nie, maar kon ook gedagtes wissel met sowat 20 mede-akademici en studente wat hulle daarvoor beywer om die inklusiwiteit en gehalte van hoër onderwys te verbeter.

Die hertogin het in Januarie die beskermvrou van die ACU geword nadat sy dié rol oorgeneem het by koningin Elizabeth, wat vir 33 jaar in die ACU-amp gedien het. Die gesprek in Johannesburg het Markle ook die geleentheid gebied om meer uit te vind oor die uitdagings waarvoor jong vroue in die hoër onderwys te staan kom.

“Ek was ingenome om te sien dat soveel verskillende vroue uit uiteenlopende omstandighede met Markle gesels oor die genderkwessies waarmee hulle en ander vroue op die vasteland te kampe het. Dit was ook baie bemoedigend om waar te neem hoe sy met die studente en ander deelnemers omgaan," sê Du Toit. 

Vir die US se genderroeteprojek sal studente as fasiliteerders optree van 'n twee uur lange gesprekswandeling vir groepe van vier tot ses persone – mans, vroue én persone met niekonformerende genderidentiteite. Daar sal spesiaal moeite gedoen word om die roete vir studente en personeellede met gestremdhede of spesiale behoeftes toeganklik te maak.

Verteenwoordigers van die studentegemeenskap is reeds genooi na 'n werksessie wat die roete, 'n gesprekskaart of -handleiding en 'n terugvoermeganisme sal ontwerp. Danksy die ACU-toekenning sal die projek oor die volgende paar maande verder ontwikkel en amptelik bekend gestel word.

Vir meer inligting oor die genderroeteprojek, kontak Monica du Toit by mdt2@sun.ac.za

​Foto verskaf van Reuters deur SAUK Nuus.