Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Wim de Villiers heraangestel as Rektor en Visekanselier van die US
Outeur: Corporate Communication Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 25/09/2019

Prof Wim de Villiers is vir ʼn tweede termyn van vyf jaar as Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) aangestel – van 1 April 2020 tot 31 Maart 2025.

Die US Raad het dié besluit Woensdag, 25 September 2019, eenparig by die liggaam se derde geskeduleerde vergadering vir die jaar geneem. Die Institusionele Forum en die Senaat, statutêre liggame van die Universiteit, het vroeër aanbeveel dat prof De Villiers heraangestel word.

“Ons is baie tevrede met wat prof De Villiers tot dusver vermag het," het mnr George Steyn, voorsitter van die Raad, gesê. “Onder sy leiding het die US op belangrike gebiede uitstekend presteer. Hy het ook ʼn oortuigende visie en stel prioriteite vir sy tweede termyn voorgelê, wat die Universiteit groot uitdagings verder die hoof sal help bied."

Prof De Villiers het gesê sy heraanstelling is vir hom ʼn groot eer, en het sy dank uitgespreek vir die vertroue wat in hom gestel word. “Groot uitdagings lê vir ons voor, maar ook wonderlike geleenthede. Dit is vir my ʼn voorreg om die US op ons nuwe reis die toekoms in te lei."

US-prestasies gedurende prof De Villiers se eerste termyn sluit in die Universiteit se Eeufeesprojek in 2018, en die ontwikkeling van ʼn nuwe visie en strategiese raamwerk vir die afsienbare toekoms, wat vroeër vanjaar in werking getree het.

Nóg hoogtepunte sluit in die stig van die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, en die hersiening van die US se Statuut. Prof De Villiers het ook ʼn beursfonds geïnisieer vir nasate van inwoners van Die Vlakte, ʼn Stellenbosse woonbuurt aangrensend aan en oorvleuelend met die Universiteit wat in die 1960's onder gedwonge verskuiwings deurgeloop het.

Voorts is toegang tot die US verbreed, rekordgetalle kwalifikasies toegeken, en hoë vlakke van studentesukses en navorsingsuitsette gehandhaaf. Internasionalisering het toegeneem en die instelling se sosiale impak word ook al hoe sterker. Daarbenewens is finansiële bystand aan studente uitgebrei, het kampusvernuwing fluks gevorder, en hou die US aan presteer op sport- en kultuurgebied.

“Ons personeellede en studente verdien ook krediet vir hulle harde werk en toewyding wat ons tot hier gebring het. My dank aan almal wat ʼn bydrae lewer om ʼn sterk instelling te bou," het prof De Villiers gesê.

Die Rektor se eie visie vir sy tweede termyn strook met die Universiteit se Visie 2040, naamlik om die US Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te maak wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar kennis tot diens van die samelewing bevorder word. Hy steun ook die missie en strategiese temas van die Universiteit en vereenselwig hom met die institusionele waardes van uitnemendheid, deernis, verantwoordbaarheid, respek en billikheid. “Dít is waardes wat ons almal moet uitleef," sê hy.

Met sy prioriteitslys vir sy tweede termyn beoog prof De Villiers om die Universiteit te laat floreer. Dit sluit in:

  • die uitbouing van die US as navorsingsintensiewe instelling;
  • toenemende digitalisering (byvoorbeeld deur die uitbreiding van hibriede leer en onderrig, sowel as nuwe rekenaarstelsels vir finansies en studenteadministrasie);
  • voortgesette kampusvernuwing; en
  • uitgebreide internasionalisering.

“Nietemin bly my hoofprioriteit die US se mense – ons studente en ons personeellede. Sonder hulle is daar nie 'n Universiteit nie. Daarom sal ek voortgaan om my vir hulle sukses en ontwikkeling te beywer," het die Rektor gesê.

Hy het ook alumni, befondsers en skenkers bedank vir hul getroue ondersteuning van die Universiteit.

Is prof De Villiers, wat op 26 September 2019 sy 60ste verjaardag vier, van plan om sy persoonlike pogings voort te sit om beursgeld vir studente te werf? In sy eerste termyn het hy onder meer die Kaapstadmarathon, Kaapstadfietstoer (twee keer) en 'n fietsrit van Londen na Brighton vir dié verdienstelike saak afgelê. “Ek het nog baie energie oor en sien kans vir al die uitdagings en geleenthede wat wag," sê hy met ʼn glimlag.

Prof De Villiers vra vriende, kollegas, personeel en alumni om nie vir hom ʼn verjaardaggeskenk te gee nie, maar eerder ʼn skenking aan die Die Vlakte-beursfonds te maak via GivenGain (klik hier vir meer inligting http://bit.ly/beursgeskenk).

* Prof De Villiers het in November 2016 ʼn eredoktorsgraad van die Universiteit van Coventry in die Verenigde Koninkryk ontvang. Die jaar daarna het die Crossley Stigting ʼn toekenning vir uitnemende leierskap in die hoër onderwys aan hom oorhandig. Hy is ondervoorsitter van Universiteite Suid-Afrika (USAf), voorsitter van Higher Health – ʼn sektorliggaam wat op die gesondheid en welwees van studente by Suid-Afrikaanse universiteite en by kolleges vir tegniese beroepsonderwys en -opleiding konsentreer – en dien ook in die raad van die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf). Daarbenewens is hy ʼn raadslid van die Vereniging van Statebondsuniversiteite (ACU), die Vereniging van Afrika-universiteite (AAU) en die Afrikanavorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA).

 Foto: Anton Jordaan