Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gedeelde herkoms by US se e’Bosch Erfenislesing blootgelê
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 19/09/2019

Die doelwit van vanjaar se Universiteit Stellenbosch e'Bosch Erfenislesing was om aan mense die nodige insig te gee om hulle te help om hul gedeelde herkoms uit die perspektief van hul gene te sien.

Die tema van die lesing, wat Dinsdag (17 September 2019) by Universiteit Stellenbosch (US) Museum gehou is, was 'Uncovering our common ancestry and heritage'. Die lesing maak deel uit van die e'Bosch Erfenisprojek wat in 2011 geloods is.

Volgens dr Sias Mostert, een van die medestigters van die projek, was die groot uitdaging om 'n beter begrip van ons gedeelde herkoms as Suid-Afrikaners te vorm. “Vir 2019 is die tema van besondere belang aangesien dit lig werp op hoe ons ons gedeelde herkoms uit die perspektief van ons gene sien. Deur ons gedeelde erfenis beter te verstaan, behoort ons die nodige insigte te kry om met meer empatie en begrip deur ons verskille soos ons dit sien, te kan werk," het Mostert gesê.

Die geleentheidspreker, prof Monique Zaahl, besturende direkteur van GENEdiagnostics, het in haar toespraak probeer om antwoorde te bied oor hoe om gedeelde herkoms beter verstaan kan word.

Heritage Lecture-33.jpg

Zaahl is die eerste swart vrou wat haar eie, private DNS-laboratorium, GENEdiagnostics, het. Dit is 'n genetiese toets-, navorsings- en opleidingsonderneming wat daarop fokus om deur middel van 'n netwerk van private en openbare gesondheidsorgpraktisyns 'n omvattende, kostedoeltreffende diens regoor Suid-Afrika en ook die res van Afrika te lewer.

Sy het in haar toespraak die belangrike feit dat elke mens deur genetika en herkoms verbind word, beklemtoon. “Ons samelewing is geneig om 'n velkleur-, ras- en kultuur-diskonneksie te hê, maar soms verstaan ons nie dat ons dieselfde herkoms het nie. Die ding wat mense oor herkoms moet verstaan, is dat ons oorsprongtoetsing doen, wat help om te bewys dat baie mense tot dieselfde groep behoort," het Zaahl gesê.

Die gehoor kon ook aan die lesingprogram deelneem om verskille en gemeenskaplikheid te verstaan. 'n Groot verskeidenheid geregte, voorberei deur verskeie lede van die Stellenbosse gemeenskap, was ook beskikbaar om die uiteenlopende kossoorte en erfenis van die plaaslike gemeenskap te vier.

Heritage Lecture-52.jpg Heritage Lecture-4.jpg

Die jaarlikse Universiteit Stellenbosch e'Bosch Erfenislesings berei al sedert 2013 die weg vir belangrike nadenke oor hoe om die status quo uit te daag om 'n nuwe kultuur te skep wat belangrike uitdagings in ons samelewing aanspreek.

Die e'Bosch-projek streef daarna om manier te help ontwikkel om sosiale inklusiwiteit te bevorder en om maatskaplike ongeregtigheid in gemeenskappe in die groter Stellenbosch-gebied uit te roei.

“Die projek gaan oor die bou van brûe om al die klowe in Stellenbosch en uiteindelik in Suid-Afrika te oorbrug. Die projek wil sy doelwitte deur gesprekvoering bereik en wil bestaande kulture op 'n nuwe manier vier sodat dit deur alle belangstellende groepe gedeel kan word," het Mostert gesê.

Vir meer inligting oor die e'Bosch-projek en beplande geleenthede, besoek http://www.ebosch.co.za.

Fotos deur Anton Jordaan.