Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ReSEP-konferensie beïnvloed onderwysbeleid
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 17/09/2019

'n Jaarlikse konferensie oor kwantitatiewe onderwysnavorsing het onlangs by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studie (STIAS) afgeskop.

Dié twee dae lange konferensie, wat sowat 100 navorsers, beleidsmakers en PhD-studente getrek het, is deur ReSEP, 'n navorsingsgroep in die Departement Ekonomie wat op sosio-ekonomiese beleid fokus, aangebied. Dit is gedeeltelik geborg deur die Michael & Susan Dell- en die Zenex-stigtings.

Nou in sy vyfde jaar, bied dit navorsers en belanghebbendes 'n waardevolle geleentheid om onlangse empiriese bevindings te bespreek van kwantitatiewe opvoedkundige navorsing en beleid wat relevant is vir die Suid-Afrikaanse konteks.

Prof Servaas van der Berg, hoofnavorser by ReSEP en bekleër van die Nasionale Navorsingsleerstoel in die Ekonomie van Sosiale Beleid, het in sy inleiding gesê die een feit wat uitstaan, is hoeveel méér hulle as navorsers nou weet as vyf jaar gelede.

“Vyf jaar gelede was die prestasievlakke van onderwys op 'n baie lae vlak, maar daar was intussen vordering. Ons sien dit aan 'n meer gesofistikeerde ontleding van matriekdata, in die beskikbare inligting wat tot ons begrip van sommige probleme rakende vroeë lees bydra, asook data wat uit ander bronne ingesamel is.

“Daar was ook baie navorsing en interaksie tussen navorsers en beleidmakers. Dit is die belangrikste deel van hierdie konferensie oor die volgende twee dae -dat navorsers, beleidmakers en ander belangstellendes in die onderwys kwessies openlik sal debatteer."

Van der Berg en Chris van Wyk, ReSEP-navorser, het die program geopen met hul praatjie, “What we can learn from the data underlying the Data-Driven Districts (DDD)."

Van Wyk het gesê dat hulle vier jaar se inligting oor al die leerders in die land versamel het. Dit stel hulle in staat om leerders te identifiseer wat deur die onderwysstelsel vorder sonder enige herhaling, diegene wat wel herhaal het en leerders wat uitgesak het.

Van der Berg het gesê dat uitsakkers en herhalers ernstige probleme in Suid-Afrika verteenwoordig, met die getal uitsakkers nog relatief hoog voor graad 12.

As 'n mens die data onderliggend aan die DDD gebruik om vorderingspatrone te identifiseer, sien 'n mens dat daar 'n groot getal uitsakkers in graad 10 voorkom. Dis moontlik om die leerders te identifiseer wat in daardie stadium gaan uitval, bv. hul ouderdom wanneer dit gebeur, ens. Hierdie soort data stel navorsers ook in staat om huidige prestasie te gebruik, byvoorbeeld om in Graad 4 te voorspel of leerders hul graad gaan herhaal voordat hulle Graad 6 bereik, hoe afwesigheid bydra tot die uitsakgetalle en hoe belangrik vakkeuse en die implikasies daarvan is."

Hy het bygevoeg dat hierdie onderliggende data groot belofte vir die bestuur van navorsings- en onderwysbeleid bevat.

Sean Reardon, 'n professor in armoede en ongelykheid in onderwys aan Stanford Universiteit, was die gasspreker. Sy bespreking, “Ongelykheid in rasse, klasse en onderwys in die VSA", het lig gewerp op die Stanford Education Data Archive (SEDA) in Stanford se sentrum vir die ontleding van onderwysbeleid. SEDA is die eerste landwye argief in die VSA wat data bevat oor toetsuitslae in die onderwys, waaronder meer as 300 miljoen gestandaardiseerde toetsuitslae. Met behulp hiervan word data oor leemtes en prestasiegapings vir studente in elke openbare skool en skooldistrik in die VSA jaarliks gepubliseer.

“Dit is ontwerp om wetenskaplikes, beleidmakers, opvoeders en joernaliste in te lig oor patrone van opvoedkundige geleenthede en uitkomste in die VSA, met die verwagting dat dit onderwysbeleide en -praktyke sal inlig en verbeter," sê Reardon.

Ander onderwerpe wat tydens die konferensie bespreek is, sluit in “Skoolleierskap en plaaslike leerkontekste in Suid-Afrika"; “Is Suid-Afrika se onderwysers onder die bes betaaldes ter wêreld? 'n Kritiese beskouing van die bestaande metodes om besoldiging tussen lande te vergelyk"; "Suid-Afrika se nasionale onderwysplanne: oorsig en enkele kwessies"; en "Die koste van herhaling in Suid-Afrika".

  • Besoek die Stanford Education Data Archive (SEDA) by http://seda.stanford.edu
  • Foto deur Daniel Bugan: Prof Servaas van der Berg (regs), hoofnavorser van ReSEP en bekleë​r van die Nasionale Navorsingstigting se Leerst​oel in die Ekonomie van Sosiale Beleid, by prof Sean Reardon van Stanford Universiteit.