Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Corlia Meyer: wanneer Jan Publiek wetenskaplikes help
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 16/09/2019

Omdat dr Corlia Meyer van kleins af met diere wou werk, het sy nagraads seevoëls nagevors. Daarvoor moes sy soms weke lank op 'n eiland sonder water of elektrisiteit spandeer. Dié uiterse ervaring het haar navorsingsvaardighede geslyp, maar haar laat herbesin oor hoe haar akademiese pad vorentoe moes lyk. Vandag leef sy haar passie vir die natuur uit deur na te vors hoe inligting oor die omgewing en die wetenskap daar agter beter met die publiek gedeel kan word.

Meyer is 'n nadoktorale genoot van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Wetenskapkommunikasie (SciCOM), gesetel in die Sentrum vir Navorsing oor Evaluering, Wetenskap en Tegnologie (CREST). Sy is op Donderdag 18 September om 13:00 by die Ou Hoofgebou (Kamer 1028) die spreker in die Afdeling Navorsingsontwikkeling se Forward with Research Impact-lesingreeks.

Sy sal gesels oor die waarde van verskillende sogenaamde “citizen science" projekte in Suid-Afrika. Sy sal lig werp of hulle meer as net maniere is waardeur die publiek wetenskaplikes help om inligting oor spesies te versamel, en of die publiek se kennis oor wetenskappe ook in die proses verbreed word.

Natuurkind

“Ek het met 'n liefde vir diere en respek vir die natuur grootgeword," vertel sy oor die talle gesinsvakansies na natuurreservate in Suider-Afrika wat die Meyers in haar kinderjare onderneem het. “Ek dink ek het daarom altyd geweet ek wil met diere en veral voëls werk."

Meyer het grootgeword in die Kaapse noordelike voorstede, en in 2007 matriek aan Hoërskool DF Malan in Bellville voltooi. Daarna was 'n BSc in Bewaringsekologie aan die Universiteit Stellenbosch 'n logiese keuse.

In 2012 het sy haar vlerke na die Universiteit van Kaapstad se Animal Demography-eenheid (ADU) gesprei, vir 'n meestersgraad in dierkunde oor bankduikers. Net sowat 3000 van dié pikswart seevoëls kom nog voor – en net langs die Suider-Afrikaanse kus.

Dit het haar na Robbeneiland in Tafelbaai, Jutteneiland by Langebaan en Stony Point se pikkewynkolonie by Bettiesbaai geneem. Sy't pikkewyne, seemeeue en ander seevoëls leer hanteer – maar aan 'n bankduiker het sy nie gevat nie!

“Hulle kom net naby die kus as hulle broei. Omdat hulle so skaars is, mag mens nie nader as 30 meter aan hulle kom nie. Jy wil hulle nie pla as hulle broei nie, want netnou kom eet seemeeue hul eiers en kuikens," vertel sy.

Die lang tye saam met 'n medestudent op Jutteneiland was veral uitdagend. “Ons was net twee jong meisies saam. Daar's nie water of elektrisiteit nie. Dit was fisies en emosioneel 'n ongelooflike uitdaging, maar ek het 'n baie beter navorser geword as gevolg daarvan," onderstreep Meyer, wat in 2014 haar meestersgraad verwerf het. “Ek dink nie enigiets sal ooit weer vir my so moeilik wees nie."

Omgewingsopvoeding

In daardie tyd het sy gereeld op radio en by voëlklubs gesels oor haar eie navorsing en dié van ander voëlnavorsers saam met wie sy gewerk het. So het sy haar eerste aktiewe treë in wetenskapskommunikasie begin gee.

Sy't 'n loopbaan as veldnavorser begin heroorweeg, en daarom by 'n Kaapse nie-regeringsorganisasie gaan werk wat onder andere tutorprogramme in wiskunde en die wetenskappe vir hoërskoolleerders aanbied. In die proses het sy ook die wiskundekurrikulum wat gevolg is, herskryf, en die omgewingsopvoedingsbeen oorgeneem.

“Ek is nie 'n onderwyser nie, maar wel baie goed met organiseer. Ek het seker dié baie vreemde talent by my pa, 'n siviele ingenieur, gekry," lag sy bietjie vir haarself.

Sy't besef hoe min inligting beskikbaar is oor hoe om suksesvolle omgewingsopvoedingsprogramme aan te pak.

Om oor wetenskap te gesels

Sodoende is Meyer se pad in die veld van wetenskapskommunikasie meter vir meter geplavei. Sy't in 2015 ingeskryf vir 'n aanlyn-kortkursus daaroor wat deur CREST aangebied word, en ook begin om die gereelde Science Fridays-geleenthede by te woon waartydens kenners by die US gesels oor hul projekte en idees.

Die leergogga het weer gebyt, en Meyer het ingeskryf vir 'n PhD in Wetenskap en Tegnologi (Wetenskapskommunikasie) onder leiding van prof Peter Weingart. Dié het sy in 2018 behaal, met 'n opname oor hoe Stellenbossers uit verskillende sfere die natuur en omgewingskwessies sien.

“Jy kan nie wetenskap aan die publiek kommunikeer as jy nie weet hoe hulle dit gaan ontvang en waar hulle hul inligting vandaan kry nie," som sy een van die belangrikste lesse op wat sy gedurende haar doktorale jare geleer het.

Sy reken dat baie navorsers wat hul hand aan wetenskapskommunikasie waag die fout maak om te dink een boodskap of een medium sal die publiek in die breë bereik.

“Daar is nie net een publiek nie. Mense verstaan nie wetenskap dieselfde nie. Daar is verskillende publieke van verskillende agtergronde en kulture. Sekere publieke is verder van die wetenskappe af. Fisies, maar ook in kennis. Baie publieke is weer nader." benadruk sy. “As jy nie verstaan hoe die publieke lyk wat die inligting moet ontvang nie, gaan jy nie die regte inligting aan hulle kan kommunikeer nie. Jy moet verskillende pakkies hê."

Meyer glo ook nie mens kan Westerse style van wetenskapskommunikasie summier oorplant en laat wortel skiet in 'n multikulturele, diverse Suid-Afrika nie.

Voete vind in die akademie

 'n Onverwagse uitvloeisel van haar onlangse doktorale studies was dat sy kort na die aanvang daarvan weer begin perd ry het. As uitlaatklep, laat sy glip.

“Om op 'n perd se rug te sit gee jou 'n hele ander perspektief van die wêreld. Jy is hoër. Al dink jy jy is in beheer, is dit eintlik die perd, 'n eenton-dier wat jou maklik van sy rug af kan gooi as hy jou nie daar wil hê nie. Soms moet jy jouself net oorlaat aan wat moet gebeur. En dit laat gebeur," verduidelik sy.

Sy gebruik dit as metafoor vir die akademie waarbinne sy as jongeling-navorser haar voete vind: “Die resultate is nie altyd wat mens verwag nie. Of jy kry nie die terugvoer so vinnig soos wat jy graag dit wil hê nie. In daardie situasie moet jy maar net terugstaan. Asem haal. En kyk."