Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tentoonstelling bring hulde aan Simon Nkoli
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 16/09/2019

Die Universiteit Stellenbosch Museum bied tans 'n vyf maande lange tentoonstelling in samewerking met die Simon Nkoli Collective (SNC) en die Sentrum van Studentevoorligting en -Ontwikkeling se Eenheid vir Gelykwaardigheid aan om hulde te bring aan die apartheidstrydikoon, wyle Simon Nkoli.

Die tentoonstelling, getiteld Black Queer Visibility: Finding Simon, het uit deurlopende gesprekke oor die viering van Simon se politieke lewe ontstaan en is daarop gemik om mense te noop om oor die kwessies van solidariteit in dieper wordende ongelykhede om sosiale geregtigheid te bewerkstellig, te laat nadink.

Nkoli was een van die eerste swart manlike anti-apartheid aktiviste wat erken het dat hy gay en HIV-positief was. Hy was 'n voorloper in die stryd vir gay- en lesbiese regte gedurende Apartheid. In 2017 het die US die gebou waar die Eenheid vir Gelykwaardighede geleë is, na die oorlede gelykheidsaktivis vernoem.

Die tentoonstelling, wat Donderdagaand (12 September 2019) amptelik geopen is, bestaan uit 'n reeks foto's, toekennings en 'n video-installasie. Simon se toekennings lewer bewys van sy politieke bydrae en die internasionaal erkenning wat hy ontvang het ná sy inhegtenisneming in 1984. Hy het toe saam met 21 ander politieke leiers van Delmas – saam bekend as die Delmas 22 – die doodstraf in die gesig gestaar.

Bykomende foto's wat van “The Gay and Lesbian Memory in Action (GALA)" bekom is, is gebruik om Simon op verskillende tye in sy lewe in die township en in optogte en veldtogte uit te beeld. Volgens Mpho Bunste, 'n verteenwoordiger van die SNC, is die groep ses jaar gelede deur 'n aantal studente van die Universiteit van Johannesburg (UJ) gestig met die doel om mense in te lig en op te voed en dialoë te skep wat hulde aan die queer helde in die hoëronderwyssektor bring.

“Wat as 'n eenvoudige gesprek begin het om die sigbaarheid van queers in hoëronderwysinstellings aan te moedig, het tot 'n passiegedrewe projek gegroei. Die Simon Nkoli Collective het tot soveel meer as 'n gedenklesing gegroei. Dit is 'n een-stop platform om die pad wat queerorganisering in Afrika geloop het en die plasing van queerkwessies op die hoofstroomagenda, te onthou.

Onder die bekende sprekers by die opening was Regter Edwin Cameron en dr Beverley Palesa Ditsie. Hulle het albei die gehoor aan Nkoli se belangrike werk en sy nalatenskap herinner.

Volgens Cameron sou Suid-Afrika nie vandag die vryhede van demokrasie gehad het indien dit nie vir aktiviste soos Nkoli was wat teen apartheid geveg het nie. “Elke element van Simon se lewe is vandag vir ons land belangrik. Simon se lewe is 'n baken vir ons hele vasteland. Sy lewe het vir ons in Suid-Afrika lesse saamgevoeg. Die eerste les was van moed; die tweede was die les van integriteit en sy eerlikheid oor homself en die derde was die omvang van sy aktivisme. Sy aktivisme strek oor die grense van ons menslikheid heen," het Cameron gesê.  

As 'n medestigter van die Gay- en Lesbiese Organisasie van die Witwatersrand (GLOW), het Ditsie saam met Nkoli 'n groot rol in die reël van die eerste Pride Parade in Suid-Afrika in 1990 gespeel. Sy het in haar toespraak op haar verhouding en vriendskap met Nkoli gefokus en gesê sy hoop dat die US die tentoonstelling as 'n stap in die regte rigting in die stryd vir gelykheid en transformasie sal gebruik.

​Sy het ook jongmense en studente aangemoedig om Nkoli se werk voort te sit en om te help om hul eweknieë en die volgende geslag op te voed oor die kwessies waarmee hulle worstel en wat hulle hoop om te oorkom.

“Simon was 'n aktivis in murg en been. Hy was van die ou garde aktiviste wat nooit 'n geleentheid sou laat verbygaan het om op te voed en in te lig nie. Dit is prysenswaardig dat hierdie tentoonstelling hier op Stellenbosch gehou word. Ek hoop dat studente en mense van verskeie fakulteite by die tentoonstelling sal instap en Simon se gees sal aanvoel terwyl hulle sy werk en nalatenskap as 'n vryheidsvegter van nader bestudeer," het Ditsie gesê. 

Foto deur Stefan Els.