Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se navorsingstatuur styg in wêreldwye ranglys
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 12/09/2019

​Die Universiteit Stellenbosch is besig om opgang te maak in wêreldwye navorsing. Internasionale aanhalings afkomstig uit die Universiteit se navorsing op verskeie vakgebiede het volgens die Times Higher Education (THE) wêreldranglys vir universiteite vir 2020 aansienlik toegeneem. Die jongste THE ranglys is op 11 September in Zürich, Switserland by die THE-wêreldberaad bekendgemaak.

Die US het vir 2020 verbeter in die aanwysers vir onderrig, navorsing, aanhalings en internasionale uitkyk. Die belangrikste verbetering was op die aanhaling-telling, wat met 13% gestyg het sedert die vorige periode. Dit is die derde jaar in 'n ry dat die US in hierdie aanwyser verbeter het.

Die Universiteit se algehele posisie op die Times Higher Education wêreldranglys vir universiteite het van 301–350 tot 251–300 verbeter en die US beklee nou die derde plek onder Suid-Afrika se voorste universiteite – kort op die hakke van die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van die Witwatersrand. Dit plaas die US in die boonste 1% van universiteite wêreldwyd.

“Hierdie plek op die ranglys is veral belangrik vir ons omdat dit ons visie is om een van die voorste navorsingsintensiewe universiteite te wees. Dit beklemtoon ook een van die Universiteit Stellenbosch se kern strategiese temas, naamlik Navorsing vir Impak," sê die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers.

Prof Hester Klopper, die US se Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, sê hierdie prestasie is 'n bewys van die invloed wat die US se navorsing wêreldwyd het en van die erkenning wat die gehalte en statuur van sy navorsers geniet.

“By die US is ons baie bewus van hoe belangrik ranglyste vir die algehele persepsie van 'n instelling se akademiese en navorsingsreputasie is. Ons fokus is egter op akademiese en navorsingsuitnemendheid wat sal help om 'n beter wêreld vir almal te skep. Dit is baie bevredigend wanneer ons internasionale erkenning ontvang vir ons pogings om oplossings vir die samelewing se probleme deur navorsing en wetenskaplike programme van wêreldgehalte te vind.