Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Afdeling Navorsingsontwikkeling skitter by navorsingsbestuurstoekennings
Outeur: Afdeling Navorsingsontwikkeling | Division for Research Development
Gepubliseer: 12/09/2019

​Drie personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) het op Donderdag 5 September 2019 gesogte toekennings ontvang vir hulle bydrae tot navorsingsbestuur in Suider-Afrika by die jaarlikse DWI/SARIMA (Departement van Wetenskap en Innovasie/Southern African Research and Innovation Management Association) Uitnemendheid in Navorsing en Innovasie toekennings. Hierdie toekennings erken en moedig groei en prestasie aan in die veld van navorsing en innovasie bestuur as `n kern instaatsteller van navorsing en innovasie uitsette en impak. Die wenners is bekendgemaak by `n gala geleentheid by die Lord Charles Hotel in Somerset Wes.

Cornelia Malherbe (Direkteur: Navorsingskontrakte) het die DWI/SARIMA Toekenning vir Uitstaande Bydrae tot die Navorsingsbestuursprofessie ontvang. Hierdie toekenning erken individue wat `n spesifieke bydrae gemaak het in die evalueringsperiode (2018), maar nominasies is ook ten opstigte van leiers in hulle onderskeie velde wat `n breë nasionale en internasionale bydrae tot die professie gemaak het oor baie jare. Cornelia het die toekenning ontvang vir haar leidende rol in die implementering van `n aantal kritiese institusionele beleide, regulasies en instrumente, die opleiding van meer as 300 navorsers in kontrakbestuur regoor die Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap en haar bydrae tot die beleide en prosedures van die Wet op Intellektuele eiendomsregte. Cornelia dien ook op verskeie interne en eksterne adviserings- en stuurkomitees en het bygedra tot die verbetering van nakoming deur besigheidsprosesse en integrasie van IKT sisteme om die derdestroom inkomste aan die US te bestuur.

Clarissa Graham (Navorsingsetiek koördineerder: Mensnavorsing/Humaniora) het die DWI-SARIMA Toekenning vir Professionele Uitnemendheid in Navorsingsbestuur ontvang. Hierdie toekenning erken individue wat die afgelope sewe jaar of minder in die navorsingsbestuur of innovasiebestuur professie werksaam is, en wat toenemend bydraes maak tot hulle organisasie en die navorsing- en innovasiebestuur gemeenskap binne daardie tydperk. `n Spesifieke bydrae moes gemaak wees binne die evaluasieperiode (2018), asook `n aanduiding van `n toekemende breë bydrae tot die professie.

Clarissa was instrumenteel in die bou van kapasiteit by die US in die voorbereiding en beoordeling van aansoeke vir navorsingsetiek klaring. In 2018 het sy `n suksesvolle oudit van die NEK: Humaniora deur die Nasionale Gesondheidsnavorsing en –etiekraad (NGNER) gefasiliteer. Dit het die hernuwing van die NEK: Humaniora se registrasie by die NGNER tot gevolg gehad. Terselfdertyd het sy ook die beoordeling van meer as 1000 nuwe etiekaansoeke gekoördineer. Clarissa het ook `n deurslaggewende rol gespeel in die verkryging, ontwerp, opstelling en implementering van `n nuwe aanlyn etiekbeoordelingsbestuurstelsel, Infonetika, vir die Universiteit en gee gereelde opleiding aan gebruikers regoor die US se tien fakulteite. Op nasionale en internasionale vlak het sy die US verteenwoordig by `n nasionale werkgroep wat navorsingsbestuursriglyne opgestel het en ook besoek afgelê by die Universiteit van Bristol in die Verenigde Koninkryk om navorsingsetiekprosesse te maatstaf.

Die DWI-SARIMA Toekenning vir Vroeë Loopbaan Uitnemendheid is aan Aslam Arnolds (Administratiewe Beampte, Navorsingskontrakte) toegeken. Die toekenning erken individue wat nuwelinge tot die navorsingsbestuur of innovasiebestuur professies is. Genomineerdes moet minder as vyf jaar se ondervinding in enige van die kern elemente van die funksies binne navorsingsbestuur of innovasiebestuur hê.

Aslam ondersteun die administrasie van `n gemiddeld van R1bn se kontrakte wat jaarliks deur die Navorsingskontrakte kantoor bestuur word. Hy verseker dat kontraktedata ingevoer word om te voldoen aan die nuwe US Navorsingskontrakte bestuursisteem. Hy is verantwoordelik vir administratiewe aspekte van navorsingskontrakte en kontrakprosedures aan die US, en het nuwe prosesse en prosedures ontwikkel wat verbandhou met navorsingskontraktebestuur, insluitende `n platform vir Konflik van Belange rekordhouding en dokumentbestuur.

In reaksie op hierdie prestasies het Dr Therina Theron, Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie by die ANO gesê: “As `n span is ons baie bly en geëerd om hierdie erkenning deur ons professionele eweknieë te ontvang. Dit inspireer ons en versterk die ANO se verbintenis om `n uitstekende professionele diens aan ons navorsingsgemeenskap te lewer. Ek is uiters trots op my kollegas!"

Die ANO sal ook `n kern leierskapsondersteuning aan SARIMA as professionele Navorsing en Innovasie organisasie bied oor die volgende twee jaar, met Dr Therina Theron wat in September hierdie jaar verkies is as die nuwe SARIMA President en Dr Natasha Mothapo as `n lid van die SARIMA Uitvoerende komitee.

 

MEER OOR SARIMA

Die Southern African Research and Innovation Management Association is in 2002 gestig as `n organisasie wat `n platform bied vir die bevordering en fasilitering van beste praktyk in navorsing en innovasie bestuur in Suider-Afrika. Dit versterk die navorsing en innovasie sisteem vir die sosiale en ekonomiese ontwikkeling van die Suider-Afrika streek. Vir meer inligting, besoek www.sarima.co.za