Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Versterking van etiese Sosiale Impak-vennootskappe aan die US
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 12/09/2019

Respek, nederigheid, verantwoordbaarheid, wederkerigheid en erkenning van die kennis en behoeftes wat in gemeenskappe bestaan – dit was sommige van die besprekingspunte by die Universiteit Stellenbosch (US) se jaarlikse Simposium oor Sosiale Impak wat Vrydag 6 September by STIAS aangebied is.    

Vir die US is Sosiale impak die evalueerbare verandering wat aangebring word deur wedersyds voordelige assosiasies, samewerking en vennootskappe tussen die universiteit (personeel, studente en alumni) en eksterne samelewingsvennote in die openbare, private en burgerlike samelewingsfere.

Die tema van die simposium was “Sosiale impak deur onderrig en leer en navorsing: Versterking van etiese vennootskappe" en dit het 'n tweeledige doel gehad: Om te besin oor vordering met die implementering van Sosiale Impak (SI) as 'n strategiese prioriteit van die US deur onderrig en leer sowel as navorsing, en om beter te verstaan hoe SI-inisiatiewe deur etiese en doelgerigte vennootskappe geïmplementeer word.      

Die simposium het teen die agtergrond van landwye protesaksies teen geslaggegronde geweld plaasgevind en 'n minuut stilte is gehandhaaf.      

In sy openingsrede het dr. Jerome Slamat, Uitvoerende Bestuurder: Rektoraat, verwys na “verbonde akademieskap", wat 'n kennisekologie veronderstel waarin interaksie met samelewingsvennote lei tot die medelewering van kennis.     

“Vir die US is Sosiale Impak nie 'n toevoeging nie – dit is deel van die wese van die universiteit," het prof. Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, gesê.     

“Ons wil 'n instelling wees wat besorg is oor die wonde van die samelewing en ten doel het om – op 'n nederige manier – deur navorsing en innovasie, onderrig en leer, ko-kurrikulêre aktiwiteite en ons professionele kundigheid – 'n verskil te maak."      

Me. Ernestine Meyer-Adams, Direkteur: Sosiale Impak, het hierop uitgebrei deur te sê dat SI nie net in die kultuur van die US verweef moet wees nie, maar die kultuur van die US moet wéés, met die welstand van die samelewing as kerndoelwit en sosiale geregtigheid as 'n kernverbintenis.       

Die US volg 'n model van vasgelegde SI, wat verwys na die integrering van SI in al die akademiese en ko-kurrikulêre praktyke van die universiteit deur die beginsel van verbonde akademieskap en verbonde burgerskap. Meyer-Adams het beklemtoon dat vasgelegde sosiale impak gelyke vennootskappe vereis wat die behoeftes van gemeenskappe aanspreek.    

“Ja, ons gemeenskappe is die begunstigdes, maar so ook die instelling. Ons moet onsself as 'n universiteit herposisioneer sodat ons ook ons vennote herposisioneer, en die vennootskappe werklik na waarde ag."    

Verteenwoordigers van drie SI-inisiatiewe het hul ervarings met die gehoor gedeel.      

Dr. Burt Davis, senior lektor aan die Afrikasentrum vir MIV/Vigsbestuur by die US, wat 'n fotoverhaal ontwikkel het om die probleem van tikmisbruik aan te spreek, het verduidelik hoe belangrik dit is om alle vennote in 'n projek as navorsingsgelykes te behandel. Hy glo ook dat navorsing 'n regstreekse voordeel vir die gemeenskap moet inhou en nie net 'n akademiese voordeel vir die navorser nie.

Me Rhoda Malgas, 'n lektor in die Fakulteit Agriwetenskappe, het die waarde van deelnemende navorsing bespreek en beklemtoon hoe belangrik dit is om die kennis wat in die gemeenskappe beskikbaar is, te erken. Sy het gefokus op die noodsaaklikheid van wederkerigheid, kennisverspreiding en terugvoering aan die gemeenskappe waar die navorsing gedoen is.

Dr. Leanne Seeliger van die Universiteit Stellenbosch se Waterinstituut, betrokke by die Kayamandirivier-vennootskapinisiatief, het gepraat oor die kernbeginsels van gesamentlike probleemoplossing, vrywillige betrokkenheid en toepaslike bewysgegronde innovasie wat inderdaad 'n verskil maak.         

Me. Caroline Peters, wat die Vrouebeweging van die Kaapse Vlakte verteenwoordig het, was van mening dat SI op verbetering van gemeenskapkapasiteit moet fokus. Volgens haar voel gemeenskappe dikwels dat hulle gebruik en uitgebuit word. Sy het voorgestel dat navorsers die kundiges in die gemeenskappe waar hulle hul navorsing doen, moet betrek en dat hulle moet teruggaan na die gemeenskap om hul bevindinge te deel.              

In 'n paneelbespreking om die simposium af te sluit, het prof. John Volmink, voorsitter van die Umalusi-raad, gesê dat die grens rondom universiteite poreus moet wees sodat innovasie van binne na buite en van buite na binne kan spoel.        

“Somtyds word daar vergeet dat daar kennis in die instelling én kennis in die gemeenskap is. Albei moet gevier word en albei moet gerespekteer word."          

Foto's: Anton Jordaan (SSFD)