Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US fasiliteer skepping van Lückhoff Lewende Museum, 50 jaar ná gedwonge uitsetting
Outeur: Division for Social Impact
Gepubliseer: 11/09/2019

As deel van ʼn proses om die Lückhoff Lewende Museum verder in vennootskap met die plaaslike gemeenskap te ontwikkel, sal die Universiteit Stellenbosch (US) ʼn spesiale seremonie op 16 November  hou, waartydens twee van die oorspronklike skoolbanke aan die skool terugbesorg sal word.

Vyftig jaar gelede, in 1969, is leerders van Lückhoff Skool in Banhoekweg, Stellenbosch, ingevolge die Groepsgebiedewet van 1950 gedwing om hul geliefde skool te ontruim en hulle in die nuwe Lückhoff Skool in Idasvallei te hervestig – sommige met skoolbanke en al.

Vyftig jaar later sal die US en die groter gemeenskap van Stellenbosch hierdie gebeurtenis herdenk en ʼn proses voortsit wat in 2007 deur wyle US-rektor en visekanselier, prof Russell Botman, begin is, waartydens die Ou Lückhoff Skool-gebou in Banhoekweg simbolies aan die oorspronklike eienaars hertoegewy is.

Botman het destyds gesê dat die hertoewyding besiel is met ʼn gees van hoop en ʼn voorneme om as “balsem vir diepgewortelde wonde en pyn te dien, wat ons glo met verloop van tyd sal genees".

Mnr Neville Bruintjies, ʼn 1969-alumnus en afgetrede opvoeder by Lückhoff, sê, “Ek deel my opgewondenheid met al die ander Lückhoff-alumni, dat hierdie trotse ou gebou van ʼn verwoestende verlede weer sal opstyg as ʼn domein waaruit ʼn pedagogie van genesing, hoop en herstel kan voortvloei".

“Die verdere doel van hierdie inisiatief is om die voortgesette proses van kritiese gesprekke, ruimtes van genesing, herdenking en besinning oor 50 jaar sedert die pynlike gedwonge uitsettings in die lente van 1969 in die hand te werk," verduidelik dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie.

“Die Ou Lückhoff Skool huisves tans die US se Afdeling Sosiale Impak asook verskeie NRO's van Stellenbosch. Die Lückhoff Lewende Museum sal die kernpunt van ons besinning en gesprekke oor die geskiedenis van die historiese Vlakte-gemeenskap vorm. Dit sal sodanig erkenning aan ons geskiedenis gee en ons terselfdertyd lei om brûe vir die toekoms te bou. Dit sal ons help om nie die foute van die verlede te herhaal nie", voeg Van Rooi by.

Van Rooi sê verder dat die US erkenning aan die Lückhoff-skoolgemeenskap van 1969 gee en van plan is om die Lückhoff Lewende Museum verder in vennootskap met die plaaslike gemeenskap te ontwikkel in die gees van regstelling en die implementering van ʼn praktiese demonstrasie van herstelling en ontwikkeling.

“Die seremoniële terugbesorging simboliseer die voortsetting van die vlam van herstellende geregtigheid wat in 2007 deur prof Botman aangesteek is."

“Die impak van die gedwonge uitsettings in die groter Stellenbosch is nog nie voldoende nagevors nie. Die stemme wat steeds nie gehoor is nie moet erken en opgeteken word sodat genesing kan plaasvind. Dit is ʼn wonderlike geleentheid vir ʼn nuwe manier om saam te wees om gemeenskap te herdefinieer. Ek is vurig aan die Lückhoff Skool verbind deur my oorlede pa, ʼn Engels-onderwyser en deel van die skoolgemeenskap van 1969, en sien uit daarna om saam te skep aan hierdie wonderlike inisiatief," sê me Renee Hector-Kannemeyer, Adjunkdirekteur: Sosiale Impak.

In ʼn gees van herstellende geregtigheid het die US erkenning gegee aan sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede sedert 2000 en hom verbind tot geskikte herstel- en ontwikkelingsinisiatiewe. In sy eeufeesjaar in 2018 het die US ʼn Restitusieverklaring* ontwikkel, waarin die instelling erkenning gee aan sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede, berou uitspreek en sonder voorbehoud om verskoning vra aan die gemeenskappe en individue wat van die historiese voorregte uitgesluit is wat die US geniet het.

Uitnodiging

In ooreenstemming met die Universiteit se waardes van deernis, billikheid, verantwoordbaarheid, respek en uitnemendheid, reik die instelling se Afdeling Sosiale Impak ʼn hartlike uitnodiging na voormalige leerders van Lückhoff Skool en lede van die Lückhoff-skoolgemeenskap van 1969 uit om aan die seremonie deel te neem waarin twee van die oorspronklike skoolbanke as ʼn daad van herstellende geregtigheid terugbesorg sal word.    

  • Die geleentheid vind plaas op Saterdag 16 November 2019 van 10:00 tot 13:00 in die Ou Lückhoff Skool in Banhoekweg in Stellenbosch.
  • Skakel met Fredelene Nefdt by fvelders@sun.ac.za of tel. 021 808 3645 vir meer inligting en om bywoning te bevestig.

 

*UNIVERSITEIT STELLENBOSCH RESTITUSIEVERKLARING

Die Universiteit Stellenbosch (US) gee erkenning aan sy onlosmaaklike verbintenis tot geslagte uit die verlede, die hede en die toekoms. In die 2018-eeufeesjaar vier die US talle suksesse en prestasies. Die US erken tegelykertyd sy bedrae tot die ongeregtighede van die verlede. Hieroor het ons diepe berou. Ons vra die gemeenskappe en individue wat uitgesluit is van die historiese voorregte wat die US geniet het sonder enige voorbehoud om verskoning en ons eer die kritiese Maties-stemme van daardie tydperk wat geweier het om stil te bly. As ʼn verantwoordelikheid teenoor die huidige en toekomstige geslagte, verbind die US hom onvoorwaardelik tot die ideaal van ʼn inklusiewe universiteit van wêreldgehalte in en vir Afrika.

​