Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skool vir Rekeningkunde ploeg terug in gemeenskap
Outeur: Prof Riaan Rudman
Gepubliseer: 11/09/2019

​Studente en personeel van die Skool vir Rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch het onlangs as kampleiers en mentors by verskeie ontwikkelingskampe vir Graad 11- en 12-leerders regoor Suid-Afrika opgetree.

Dié week lange jaarlikse ontwikkelingskampe is 'n inisiatief van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR), en word in samewerking met die provinsiale departemente van onderwys, die rekeningkundige beroep en universiteitsverteenwoordigers georganiseer met die doel om leerders se prestasie in wiskunde, wetenskap, rekeningkunde en Engels te verbeter.

Volgens US-dosent in Ouditkunde, prof Riaan Rudman, wat kampe in die Wes-Kaap, Kwazulu-Natal en die noordelike dele van die land besoek het, woon “meer as 2 500 Graad 11- en 12-leerders jaarliks SAIGR se ontwikkelingskampe by."

“Studente en personeel van die Skool vir Rekeningkunde by US is reeds meer as 'n dekade lank by hierdie kampe betrokke. Ons sien dit as 'n manier om in die gemeenskap terug te ploeg. Selfs sommige van ons alumni is betrokke – hulle verskaf leierskapsopleiding aan kampleiers." 

Hoewel dit kampleiers se oogmerk is om hul kennis en die lesse wat hul geleer het, aan leerders oor te dra, het me Betty Abrahams, SAIGR-projekbestuurder, gesê dat die kampe studenteleiers terselfdertyd stimuleer om van hul persoonlike potensiaal bewus te raak en hul verantwoordelikheidsin aan te wakker as die toekomstige leiers van Suid-Afrika.

“Leerders word geleer om uit hul gemaksones te tree en word geïnspireer en bemagtig om uiters belangrike besluite oor hul lewens en loopbaanrigtings te neem," het sy bygevoeg.

Geleenthede vir lewensvaardigheidsontwikkeling word aan leerders gebied, sowel as loopbaaninligting om hulle te help om gepaste loopbaankeuses te maak.

  • Foto: Prof Riaan Rudman van die Skool vir Rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch (ver links) en mnr Godfrey Legwale, SAIGR-projekbestuurder (ver regs) is hier by die beste wiskunde- en rekeningkunde-leerders van die Mpumalanga Kampsentrum.