Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-studente help om dag zero af te weer
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 11/09/2019

​Die pogings deur die Universiteit Stellenbosch (US) om die risiko's van Dag Zero te temper, het gesorg dat die Stellenbosse kampus 45% minder water in 2019 as in 2015 gebruik het.

Sedert die implementering van 'n nuwe gryswaterstelsel, is die instelling vasbeslote om 'n waterbesparingsteiken van 63% te haal, sê John de Wet, bestuurder: Omgewingsvolhoubaarheid by die Universiteit se Afdeling Fasiliteitsbestuur.

Die US het raadgewende ingenieurs aangestel om 'n waterbalansstudie te onderneem. Dié studie het 'n uiteensetting van al die hoofbronne van verbruik regoor alle kampusse behels en na aanleiding daarvan is 'n droogtereaksieplan van stapel gestuur.

Hierdie reaksieplan het tot kampuswye veldtogte soos '#waterslim' en die ingebruikneming van besparingsvriendelike toerusting en maatreëls soos stortkoppe, die opvang van reënwater en grondwater en die gebruik van boorgate.

Volgens De Wet het die waterbesparingsinisiatiewe wat deur die studente geloods is, die Universiteit in staat gestel om hierdie goeie resultate te behaal. “Alle eer aan die studente vir hul bydrae om ons te help om water te bespaar; sonder hulle sou hierdie groot besparing nie moontlik gewees het nie," sê De Wet.

Hy sê studente in Simonsberg en Eendrag het stortwater opgevang om toilette mee te spoel asook vir besproeiing.

De Wet sê hulle het ver vooruit gewerk aan die bekamping van die waterkrisis en die Universiteit se doelwit was om na 'n nuwe stelsel oor te skakel wat afvalwater vir die spoel van toilette aanwend. Hy sê hierdie stelsel gaan binnekort in beide studentekoshuise sowel as akademiese geboue ingestel word.

Nadeem Gafieldien, Direkteur van Eiendomsdienste by die US, sê hierdie resultate toon dat mense kan saamstaan in 'n krisis.

“Ons is ook dankbaar teenoor die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) vir die erkenning wat hulle aan ons waterbesparingspogings as 'n instelling gegee het en vir die toekenning van 'n R7 miljoen-skenking aan ons in hul volhoubare infrastruktuur- en doeltreffendheid-kategorie," sê Gafieldien.

Hy sê die US se doelwit is om alle toilette oor te skakel na die gryswaterspoelstelsel om nog 'n Dag Zero te vermy.