Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Amanda Gouws: vuurvreter, kunsliefhebber, reisiger
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 10/09/2019

Vuurvreter. Kunsliefhebber. Reisiger. Dis die drie woorde wat vriendinne onlangs geborg het as ʼn verjaardaggeskenk vir politieke wetenskaplike prof Amanda Gouws. Daarby sou mens ook nog kon byvoeg: Feminis. Akademikus. Garagiste wynmaker. Rubriekskrywer. Leser van gedigte en romans. Vegter. Vriendin. Ma. Aktivis. Politieke Sielkundige.

“Ek is baie toeganklik vir my studente en andere by wie ek aanklank vind. Die stereotipe oor my is egter dat ek moeilik is, en dat ek baie keer kwaad is. Wat ook soms waar is," glimlag sy net in haar kantoor bo in die Lettere en Wysbegeerte-gebou, met 'n uitsig oor die Universiteit Stellenbosch-kampus. “Maar as jy al byvoorbeeld 30 jaar by die universiteit is, en elke keer dieselfde wiel moet herontwerp, dan raak jy bietjie keelvol."

Op Woensdag 11 September bied sy die volgende lesing in die Forward with Research Impact-reeks aan, om 13:00 in die Ou Hoofgebou (regsfakulteit). Dit word aangebied deur die Afdeling vir Navorsingsontwikkeling, en gaan oor die invloed wat houdings oor kultuur op geslagsgelykheid het.

“Interessant genoeg wys die data dat veral vroue sterker voel oor die stereotipe rolle van mans en vroue, en dat sommige tot groot uiterstes sal gaan om dit te reproduseer," verduidelik Gouws, wie soos duisende ander Suid-Afrikaners verlede week by die Parlement teen geweld teen vroue betoog het.

Gouws beklee tans die SARChI Leerstoel in Genderpolitiek in die Departement Politieke Wetenskap. Sy't al op meer komitees oor vrouekwesssie, seksuele teistering , geslagsgelykheid-, diskriminasie en -geweld gesit binne die Universiteit en Suid-Afrika as wat behoorlik is vir een CV. Sy't nuwe kursusse geskryf, oorsese uitruilprogramme gereël en is medeskrywer van 'n boek oor politieke verdraagsaamheid in Suid-Afrika. Sy het reeds vier ander help redigeer, waarvan die mees onlangse Nasty Women Talk Back (2018) is saam met haar PhD-student, Joy Watson.

Sy skryf al sestien jaar lank meningsartikels vir die dagblad Die Burger , en haar kommentaar oor genderverwante sake word gereeld op radio en op televisie uitgesaai. Nie verniet het sy verlede jaar een van die eerste Rektorstoekennings ontvang wat haar erken as 'n uitstaande stem in die media nie.

Deur die skryf van haar tweeweeklikse koerantrubrieke probeer sy Afrikaanse lesers se perspektiewe oor gender, politieke en sosiale gebeure in die land verbreed.

“In 2003 het die Instituut vir Geregtigheid en Versoening my gevra om vir Jeugdag iets te skryf. Dit het gegaan oor hoe wit en swart studente soveel verskillend omgaan met kwessies rondom versoening, of so iets," probeer sy onthou. “Destyds was (Thabo) Mbeki nog president. Hy't twee derdes daarvan in die Parlement aangehaal. Dit het natuurlik sy agenda gepas."

Hierna het Die Burger haar gevra om gereeld 'n meningsartikel te lewer. Sedertdien het die soms hitsige reaksie wat haar skrywes kan ontlok haar 'n vel so dik soos 'n Sondagkoerant help ontwikkel. Sy's al in die openbaar 'n volksverraaier genoem, en met soveel gruwelike geweld op 'n verregse webblad gedreig dat sy dit by die Menseregtekommissie aangemeld het. Vyf jaar later, en nog niks is teen die (manlike) skrywer gedoen nie.

“Ek kry hate mail en ek kry fan mail. Die hate mail kan baie intens wees, en aan die begin het dit my ontstel," voeg sy by. “Daar is nie baie grys areas in wat mense van my dink nie."

Volgens Gouws is die hate mail 99,9% van die kere afkomstig van mans.

“Nie noodwendig oor wat ek gesê het nie, maar wat ek verteenwoordig. 'n Vrou uit haar plek uit," draal sy agter die gedagte aan.

Dan voeg sy by: “Ek kom uit 'n hardkoppige lyn van Franse Hugenote uit wat bereid was om baie sterk te voel oor hul beginsels."

Die boustene van 'n politieke wetenskaplike

“Ek is mal daaroor om 'n politieke wetenskaplike te wees. In Suid-Afrika is dit never a dull moment. Veral oor gendersake is daar elke dag iets. Oor die algemeen is ek altyd entoesiasties oor my werk, en dis 'n groot deel van my identiteit."

As kind van 'n bankamptenaar wat tipies van sy beroep gereeld verplaas is, het Gouws aan eie vel oor buitestaanderskap geleer. Sy't haar skoolloopbaan by Laerskool Truida Kestel in Betlehem begin, en dit tien verskillende skooluniforms later as Dux-leerder van Hoërskool Eldoraigne in Centurion voltooi.

“Dit het my altyd die buitestaander gemaak. Jy ontwikkel 'n sin vir regverdigheid en geregtigheid. Dit het bygedra tot my latere keuses," glo Gouws.

Danksy haar pa se werkery het sy darem ook in 'n kunsversamelaar ontwikkel, nadat sy as eerstejaar haar eerste aankopie gedoen het van 'n stel Judith Mason-potloodsketse. Dit was uitgestal in die voorportaal van die bankgebou waar hy gewerk het en Gouws het eenvoudig geweet sy moes dit koop, omdat Mason se sosiale kommentaar deur kuns tot haar gespreek het.

Sy was op daardie stadium besig om BA Kommunikasiekunde aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit te studeer, grootliks omdat sy lief was vir skryf. Die uiteinde was 'n pos as joernalis by Beeld terwyl sy tussendeur aan 'n honneursgraad in politieke wetenskap gewerk het.

By die dagblad moes sy hoor dat vroue mos nie kon politiek skryf nie: “En toe gee hulle my die modeblad. Dit het nie vir my gewerk nie."

Sy erken sy't die konsep van geslagsgelykheid vinnig leer verstaan toe sy die eerste keer in die werksplek gestaan het: “Eerste job en hulle sê ek kan nie politiek skryf nie. En ek is gekwalifiseerd!"

Na ses maande in die koerantwese is Gouws terug universiteit toe om haar meestersgraad te behaal. In die politieke gelade vroeë 1980's het sy klas gegee aan UNISA, die Universiteit van die Noorde en later ook SU. Die twee jaar by die Universiteit van die Noorde het dikwels op baie grafiese maniere haar oë oopgemaak vir die brutale wyse waarop die staatsmasjienerie met swart aktiviste omgegaan het.

Latere jare sou sy darem haar skryftalent goed in die akademie inspan, deur haar boeke, rubrieke en joernaalartikels oor 'n wyse spektrum van dissiplines.

“Wanneer ek skryf, werk ek met 'n gender lens, en spesifiek uit 'n feministiese invalshoek," verduidelik sy. “Politieke wetenskap is 'n verskriklik manlike gedomineerde veld, wat natuurlik in die afgelope twee dekades baie verander het. Tog is die meeste teorieë steeds geformuleer uit hoe mans die wêreld sien."

Was haar genderlens 'n doelbewuste keuse?

Gouws gee eers 'n asemteug en vertel dan hoe sy in die 1980's haarself nie kon plaas binne die politiek wat sy moes doseer nie: “Betty Friedan, 'n Amerikaanse feminis van die 1970's, het dit 'the problem with no name' genoem. Jy weet iets is verkeerd, maar jy weet nie wat dit is nie. 

“Ek't altyd gedink daar's goed wat my pla en daar's diskriminasie, en daar's ongelykheid, maar in die vroeë 1980's was social justice en geslagsgelykheid nie eintlik in politieke wetenskap aangespreek nie."

Sy is in 1986 VSA toe om 'n PhD aan die Universiteit van Illinois te voltooi. Haar hoofvakke was politieke wetenskap en genderstudies, 'n vakrigting wat destyds nie in Suid-Afrika studeer kon word nie.

“En toé begin ek verstaan hoekom ek so ongelukkig gevoel het oor goed. Ek het verstaan my aangetrokkenheid tot genderstudies is oor die verklaring wat dit my gee oor my verstaan van die wêreld, en hoe ek kyk daarna. My ongelukkigheid met die wêreld oor hoe ek as ʼn vrou behandel is," benadruk sy.

Sy't sedertdien al baie geskryf oor feminisme binne instellings en die staat – altyd met 'n vrou se lens – en gehelp om grootskaalse ontwikkeling van genderstudies in politieke wetenskap in Suid-Afrika te dryf. Altyddeur put sy inspirasie uit ander  vroue met 'n feministiese ingesteldheid, en vanuit haar kinders:

“Ek het twee dogters, wat ook nou jong feministe is," noem sy, en voeg dan vinnig by: “Dis nie asof ek hulle doelbewus so grootgemaak het nie, maar ek is ʼn mentor en ʼn rolmodel vir hulle.

Dan lag sy 'n trotse ma se laggie: “They keep me grounded. Ek is so trots op hulle."

2019 en vroue in Suid-Afrika

In 1994 was sy een van die feministiese akademici wat help skryf het aan voorleggings wat aan die regering gemaak is oor die argitektuur van instellings in die staat wat geslagsgelykheid moes bevorder.

En, hoe lyk geslagsgelykheid in 2019?

“Wel, ek dink jy moet baie sterk wees, in die sin van hoe moeilik dit is om die positiewe te behou," probeer sy diplomaties wees.

Sy vertel oor 'n kongres wat sy kort voor Vrouemaand gereël het. Dit het die strukture in die staat wat geslagsgelykheid moet dryf onder oë geneem.

“Alles is teruggerol. Ons het nou hierdie baie disfunksionele ministerie vir vroue, jeug en mense met gestremdhede, wat eintlik nog geen suksesse gehad het nie. Vier ministers later, en geen sukses," benadruk sy, en vertel hoe terneergedruk baie kongresgangers was. “Want die punt is dinge is nie positief nie. Ek werk baie met gender-based violence. Dit is verskriklik as jy daarmee werk. Ek was 'n kommissaris vir die kommissie vir geslagsgelykheid, en het binne 3 maande besef hier gaan niks gebeur nie."

Destyds het 'n verslag wat sy as die Wes-Kaapse kommissaris help saamstel het bereken dat tronkvoëls byna drie keer meer staatsgeld per dag ontvang as wat toegedeel word vir vroue en kinders wat weens huishoudelike geweld na “shelters" van veiligheid vlug.

Niks het sedertdien verander nie.

Mens sou dalk te midde hiervan moedeloos kon raak, erken sy.

“Werk bly positief omdat ek bly glo daarin," voeg sy egter by.

“Dis 'n lang stryd, maar kyk waar ons begin het in die 1980's  tot waar ons nou is. Toe ek jonk was, was feminisme 'n skelwoord. Nou embrace jong studente die konsep. Hulle sal die projekte verder vat. Hulle is baie meer onverskrokke."

Dan laat sy val: “Ek is die trotste op die mense wat ek gedurende my loopbaan gementor het. En sien groei het."