Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hupstoot vir innoverende benadering om tikmisbruik te bestry
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 09/09/2019

​Die fenomeen om fotoverhale te gebruik om aandag aan gesondheidskwessies te gee, is nog redelik nuut in Suid-Afrika en te danke aan 'n finansiële toekenning wat hy by die Afdeling vir Sosiale Impak by die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang het, sal dr. Burt Davis nou 'n empiriese navorsingsprojek kan uitvoer om die doeltreffendheid daarvan verder te bestudeer.

Davis, 'n senior lektor aan die Afrika Sentrum vir MIV/Vigsbestuur by die US, het in 2017 sy doktorsgraad verwerf deur 'n Afrikaanse fotoverhaal met die naam “Spyt kom te laat" te ontwikkel, wat handel oor die gesondheidsgevare van tikmisbruik.

Die gebruik van fotoverhale om gesondheidskwessies aan te speek, is veral gewild in die VSA en Davis het 'n hipotese opgestel dat dit ook doeltreffend in 'n plaaslike konteks aangewend kan word.

Omdat hy wou wegbeweeg van 'n teoretiese PhD en eerder 'n produk wou ontwerp wat 'n direkte voordeel aan die gemeenskap sou bied, het hy besluit om sy aandag te vestig op die ontwikkeling van 'n fotoverhaal wat vir bewusmaking- en voorkomingdoeleindes in skole en gesondheidsklinieke ingespan sou kon word.

“In Suid-Afrika word baie produkte wat gesondheidsboodskappe oordra, ontwikkel sonder dat dit empiries en wetenskaplik getoets word. Hierdie fotoverhaal is een van min produkte wat nie net fyn beplan is nie, maar ook getoets is. Dis nie net uitgedink en neergesit nie."

Vandat hy sy PhD verwerf het, het Davis die fotoverhaal nog verder ontwikkel deur meer inligting in 'n vraag-en-antwoord-formaat by te voeg om die produk se doeltreffendheid en veelsydigheid te verhoog.

Hy het by die Afdeling vir Sosiale Impak vir 'n finansiële toekenning aansoek gedoen met die doel om hierdie innoverende benadering in die stryd teen tik in veral die Witzenberg-munisipaliteit uit te brei. Die fotoverhaal is ook nou in Engels en Xhosa vertaal.

“Die uitgebreide inisiatief kombineer 'n empiriese navorsingsprojek met 'n sosiale impak-intervensie. Die doel is om die doeltreffendheid van 'n gesondheidverwante fotoverhaal te toets om die gevare van tikmisbruik te kommunikeer, terwyl dit ook as 'n opvoedkundige hulpbron gebruik word om voorkoming- en gesondheidinligting oor die dwelmmiddel te versprei," sê Davis.

Die empiriese navorsingskomponent van die inisiatief behels 'n ewekansige beheerde eksperiment om die uitwerking van die boodskap te toets terwyl die sosiale impak-komponent die gebruik van die fotoverhaal om algemene bewusmaking- en inligtingsessies oor middelmisbruik aan die deelnemers te bied, behels.

Vennote in hierdie projek sluit die Afrika Sentrum vir MIV/Vigsbestuur en die Taalsentrum by die US, asook verteenwoordigers van die Departement van Gesondheid en die NRO-sektor, in.

“Terugvoering uit die gemeenskap het gelei tot my besluit om die kwantitatiewe aspek van my navorsing uit te brei om 'n kwalitatiewe element in te sluit. Ons wil nie net bydra tot die liggaam van kennis oor gesondheidskommunikasiemetodes met betrekking tot tik-/middelmisbruik nie, maar wil ook algemene bewusmaking en kennisvlakke met betrekking tot middelmisbruik verhoog, en toegang tot voorkomingsinligting in die breër gemeenskap verbeter," voeg Davis by.

Hy het al verskeie praatjies oor sy navorsing aangebied, onder meer by die VIOT-konferensie (Vereniging Interuniversitair Overleg Taalbeheersing) in Nederland en 'n halfjaarlikse simposium van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, en was die mede-outeur van 'n artikel met die naam “Using a fotonovela to battle crystal meth in South Africa" in die Journal of ethnicity in substance abuse.

Davis is ook genader om betrokke te wees by 'n soortgelyke projek oor diabetes.