Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EBW, Italtile-vennootskap skep werk vir besigheidstudente
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 09/09/2019

​'n Eerste-in-sy-soort opleidingsprojek tussen die Departement Ondernemingsbestuur en Italtile het daartoe gelei dat sewe studente internskappe by die onderneming aangebied is en een van die sewe, Dannika Essl, as die algehele wenner van die inisiatief aangewys is.

Die projek, wat in Februarie begin en verlede week met 'n prysuitdeling afgesluit is, het vereis dat deelnemende studente personeel by verskillende Italtile-winkels moes werkskadu, 'n verkoopproses moes rolspeel en geskrewe werkopdragte en 'n reflektiewe opstel oor hul ervarings moes inhandig.

Studente is beoordeel op grond van hoe goed hulle Italtile se bemarkingsresep – insluitend prys, promosie en verspreiding – ontleed het.

Diegene wat om die internskap aansoek gedoen het, moes hul bevindings aanbied.

Projekbestuurder dr Debbie Human-Van Eck en dr Lené​ Ehlers, albei dosente van die Departement Ondernemingsbestuur, asook me Susan Eckley, streekbestuurder van Itatile se Kommersiële Afdeling in die Wes-Kaap, het tot die sukses van die projek bygedra.

Prof Christo Boshoff, voorsitter van die Departement Ondernemingsbestuur en vise-dekaan: Navorsing, het Italtile bedank vir hul belegging in die studente.

“Een van die belangrikste doelstellings van die Universiteit Stellenbosch is om 'n samewerkende aard en benadering tot onderrig en leer te bewerkstellig. Projekte soos hierdie stel ons in staat om getrou hieraan te bly. Alhoewel 'n sterk teoretiese onderbou 'n belangrike vereiste in universiteitstudies bly, word 'n transformerende studentervaring 'n veel groter werklikheid wanneer daar 'n geleentheid is om met die bedryf te kommunikeer. Ons is dankbaar dat 'n onderneming wat so betroubaar en suksesvol soos Italtile is, bereid was om hul ervaring en kundigheid met ons te deel," het hy gesê.

Boshoff het die hoop uitgespreek dat Italtile in die toekoms sal voortgaan om met die departement saam te werk.

Paul Couzis, direkteur van Italtile, het gesê hul betrokkenheid by die departement was besonders en dat dit 'n voorreg was om deel te wees van die program.

Hy het bygevoeg dat die studente uitstekend gevaar het met die ontleding van Italtile en hul begrip van waaroor die onderneming gaan.

“Jongmense kan die wêreld verander as jy dit net toelaat, en ons wil 'n bemagtigende omgewing skep waar hulle 'n bydrae kan lewer. Ek dink dis só belangrik, en wat ek van hierdie studente gesien het, is dat hulle bereid, gewillig en in staat is om hierdie bydrae te maak."

Essl het gesê: “Die prys en die internskap maak dit vir my moontlik om die kleinhandelmark te betree. Ek het 'n groot passie vir verkope en bemarking, so hierdie werk pas by my belangstellings. Die internskap is nie net iets wat goed op my CV sal lyk nie; dit gee my die geleentheid vir groei en ontwikkeling, want dis 'n veld wat my regtig interesseer en iets wat ek graag eendag wil doen."

As algehele wenner het Essl prysgeld van R10 000 losgeslaan, asook 'n wisseltrofee.

Die naaswenners Janco Marais (2de) en Laura Shamley (3de) het onderskeidelik R3 000 en R1 000 ontvang.

Die sewe studente wat internkontrakte aangebied is, is: Essl, Marais, Shamley, Kayla van Zyl, Dylan Oosthuyse, Alexander Searle en Sinethemba Mathunjwa.

Kontantpryse is ook toegeken aan Marais, wat die beste gevaar het met werkskadu, en Oosthuyse, wat die beste rolspeler was.

  • Foto's deur Anton Jordaan:
    Hooffoto: In the agterste ry v.l.n.r. is me Susan Eckley (Italtile), algehele wenner Dannika Essl, en mnr Paul Couzis (Italtile). In die voorste ry v.l.n.r. is Laura Shamley (3de), Janco Marais (2de) en Tuscany Kitch, wat in 2018 ˈn internskap by Italtile gedoen het en nou die kurator van Italtile se internskap is.
    Foto regs: By mnr Paul Couzis, me Susan Eckley en me Tuscany Kitch, almal van Italtile,
    en Dannika Essl, algehele wenner, is drs Debbie Human-Van Eck (ver regs in die agterste
    Italtile_klein.jpgry) en Lené Ehlers (ver regs in die voorste ry), albei dosente van die Departement Ondernemingsbestuur.