Die internasionaal bekroonde Universiteitskoor Stellenbosch gee op Maandag 23 September 2019 'n spesiale uitvoering in Pretoria en ook op 24 September in Soweto as deel van die Universiteit se Erfenisdagvieringe.
Die US Koor spog met 'n uitstekende rekord. Onder leiding van die dirigent André van der Merwe het die Koor internasionale erkenning verwerf as een van die talentvolste deelnemers aan die Wêreldkoorspele. Sedert die Koor in 2004 vir die eerste keer aan hierdie Wêreldkoorspele deelgeneem het, het dit geleidelik in aansien gestyg en uiteindelik die beste uit 1 000 amateurkore wêreldwyd geword.
“Die US Koor het sinoniem met uitnemendheid geraak," sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees. “Studente van oor die hele land doen aansoek om aan die US te studeer vir die geleentheid om te sing in dié Koor wat wêreldwyd die toon aangee. Die koorlede roem hul daarop dat hul die leuse van die Koor, naamlik 'Trots Suid-Afrikaans', op kragdadige wyse as ambassadeurs vir die US en vir die land, tuis en oor die wêreld heen, uitlewe."
Kaartjies vir die Pretoria-uitvoering kos tussen R150 en R230 per persoon en kan by Computicket bespreek word.
Plek: ZK Matthews, Groot Saal (UNISA), Prellerstraat 330, Groenkloof, Pretoria
Datum: Maandag 23 September 2019
Tyd: 20:00 (Kooruitvoering begin stiptelik)
Toegang tot die Soweto-optrede is gratis.
Plek: The Meadowlands Church, Zone 3 SDA
Datum: Dinsdag 24 September 2019
Tyd: 14:00 (Kooruitvoering begin stiptelik)