Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe eenheid ʼn hupstoot vir beeldingsnavorsing
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 06/09/2019

ʼn Nuwe, hipermoderne kerngeneeskunde-beeldingseenheid, wat na verwagting groot voordele vir veral navorsing oor tuberkulose (TB) sal inhou, word tans by die Universiteit Stellenbosch (US) ontwikkel.

Die Nodus vir Infeksiebeelding (NII) word op die gronde van die Tygerberg-hospitaal opgerig. Meer as R50 miljoen van die Departement van Wetenskap en Tegnologie, die US en die Bill en Melinda Gates-stigting is vir die projek bewillig. Dit sal deur die Sentrale Analitiese Fasiliteite bestuur word en daar sal nou met die Afdeling Kerngeneeskunde aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe saamgewerk word. Die NII sal ʼn nuwe PET-RT-skandeerder en ʼn uitgebreide radio-apteek insluit. Die personeel sal uit ʼn spesialisspan bestaan wat toegewy is tot die ondersteuning van navorsing wat PET-RT gebruik.

Dr Alex Doruyter, direkteur van die NII, het verduidelik dat PET-RT ʼn beeldingstegniek is wat nie-indringende, presisie-beelding van biologiese prosesse moontlik maak deur die gebruik van toepaslike radioaktiewe molekules (radiofarmaseutikums), in samehang met die anatomiese detail van konvensionele RT-skandering. “Dit stel navorsers in staat om selektiewe biologiese prosesse met groot akkuraatheid te visualiseer en kwantifiseer," het hy gesê.

Doruyter het gesê hy is “geweldig opgewonde"oor die groot uitdaging wat voorlê. As ʼn kerngeneesheer sal hy ʼn tweeledige rol in die operasie speel: die bestuur en administrasie van die fasiliteit, asook om raad te gee oor die beeldingsprotokolle en die interpretasie en ontleding van die skanderings.

Doruyter sê ofskoon PET-RT reeds geruime tyd in die Wes-Kaap beskikbaar is (daar is skandeerders by die Tygerberg-hospitaal en die Panaorma- private hospital), moet navorsers met die hoofmandaat van hierdie skandeerders meeding, naamlik kliniese diensverskaffing. ʼn Pasiënt met kanker wat ʼn skandering nodig het om die siekte te bestuur, sal heeltemal tereg voorkeur geniet bo ʼn navorser wat die fasiliteit wil gebruik.

“Daar was tot dusver nie veel toegang vir navorsers nie. Dit sal verander met die vestiging van die NII, wat net vir navorsing bedoel is, asook planne om die koste van navorsingskanderings te subsidieer. Die kombinasie van die wêreld se enigste ware digitale PET-RT-kamera met ons radio-apteekfasiliteite en navorsingskundigheid, bied aan navorsers ʼn wonderlike geleentheid om eersteklas-navorsing te doen."

Doruyter het voorts verwys na die waarde van ʼn toegewyde radiofarmakoloog op sy personeel. “Dit beteken ons kan beter gehaltebeheer uitoefen op die radiofarmaseutikums wat ons inspuit, dat ons meer verbindings kan radio-etiketteer en dat ons aan die sintetisering van nuwe radiofarmaseutikums kan werk, met inbegrip van TB-spesifieke aanwysers. Ons sal een van die bes toegeruste radio-apteke in Afrika hê om sulke werk te verrig."

Doruyter het verduidelik die NII maak deel uit van die Kerngeneeeskunde-navorsingsinisiatief (NuMeRI), wat onder die South African Research Infrastructure Roadmap (SARIR) val. “Die doel van die SARIR is om hoëkoste-infrastruktuur te vestig om navorsing op ʼn nasionale (en internasionale) vlak te steun. Ons mandaat sal wees om te verseker dat hierdie infrastruktuur goed en tot voordeel van navorsers benut word."

As alles volgens plan verloop, sal die NII in November vanjaar operasioneel wees. 

Onderskrif: Dr Alex Doruyter is die direkteur vir die Nodus vir Infeksiebeelding.

Foto-erkenning: Wilma Stassen